Die landbou het in die vierde kwartaal verlede jaar sowat 38 000 poste verloor, sê Statistieke SA se jongste arbeidsmagpeiling. Dit bring die totale werksverliese verlede jaar in dié sektor op 149 000 te staan.
Kenners meen dié tendens kan toegeskryf word aan die druk waaronder winsgewendheid in die sektor verkeer. Mnr. John Purchase, uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer, meen die mees algemene faktor vir die daling is die feit dat kommoditeitspryse steeds onder groot druk is.
Insetkoste, kommoditeitspryse raak winsgewendheid
“Kommoditeitspryse het nog nie behoorlik herstel nie, veral weens die groot wêreldvoorraad van grane,” verduidelik Purchase. Hy sê daarmee saam bly insetkoste redelik hoog, wat boere se winsgewend onder druk plaas.
“Die hoeveelheid mense wat ‘n boer in sy diens kan hou hang van sy winsgewendheid af, dus is dié tendens een van die faktore wat werksgeleenthede in die sektor beïnvloed. Boere moet kostes besnoei, en arbeid is een van daai kostes,” sê Purchase.
Styging in die werkloosheidskoers
Volgens Statistieke SA se verslag het die werkloosheidskoers vir dié periode effens verminder van 24,5% tot 24,3%. Sowat 87 000 werksgeleenthede is in die vierde kwartaal van verlede jaar geskep, waarvan die meeste in die informele sektor was.
‘n Totaal van 870 000 werksgeleenthede het verlede jaar verlore gegaan, maar dit is minder as die verlies van 1 miljoen werksgeleenthede wat aanvanklik verwag is.
“Dit is nie groei nie – eerder net ’n aanduiding dat die resessie verby is. Ons kan eers begin gerus voel wanneer die ekonomie sowat 250 000 werkgeleenthede per kwartaal skep,” sê mnr. Mike Schüssler van Economists.co.za in ‘n artikel van Sake24.
Lees ook:
Werksverliese nie landbou se skuld
10 Februarie 2010
Kommentaar
Die implikasies van al hierdie faktore gaan eers oor 'n paar jaar sy uitwerking wys. Dis genoeg om enige landsburger baie bekommerd te maak
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)