|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Die arbeidsomgewing in Suid-Afrika bly dinamies en dit wil voorkom of die Regering nog nie klaar geskaaf het aan arbeidswetgewing nie. Wetgewing oor grondsake sluit nou by arbeidswetgewing aan en daar moet in samehang na die twee gekyk word.
Omvattende arbeidswetgewing wat
die afgelope jaar of ses opgestel is, word grotendeels reeds toegepas, maar
sommige artikels moet nog geïmplementeer word, terwyl ander reggeskaaf moet
word.
Daar is 'n ál groter besef by die Regering dat wetgewing die ekonomiese toets
moet slaag om buitelandse beleggings te lok, ekonomiese groei te verseker en
werkskepping te bevorder. Groter toegewings ten opsigte van
werkgewersvriendelike wetgewing kan dus verwag word.
Aan die ander kant moet die Regering steeds rekening hou met sy vennote in
die Parlement, naamlik die SA Kommunistiese Party en Cosatu, wat groot druk op
hom plaas. Ten tyde van sy sewende nasionale kongres verlede jaar, het Cosatu
gedreig om op te tree as werkers se basiese regte geskend word. Ekonomie-gerigte
wetgewing kan dus gekniehalter word.
Dit is ook duidelik dat die Regering sukkel om 'n ewewig te vind tussen
vryemarkmeganismes en regeringsregulering. Die Regering wil lewering versnel - veral wat betref die uitskakeling van diskriminasie teen en bemagtiging van
werkers. Hy het egter nie die infrastruktuur en hulpbronne om die toepassing
daarvan in die werkplek op te dwing nie.
Die beskerming van die regte van meer kwesbare werkers - onder wie
plaaswerkers - sal vanjaar hoog op die sakelys wees. 'n Sektorale vasstelling
met minimum lone en eiesoortige diensvoorwaardes sal na verwagting teen die
helfte van vanjaar in die landbousektor ingestel word. 'n Minimum loon van R650
per maand vir plaaswerkers lyk in dié stadium waarskynlik.
Werkgewers se planne ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming moes ook reeds
by die Departement van Arbeid ingelewer gewees het. Dit wil voorkom asof die
departement nie die vermoë en mannekrag het om al die planne deur te werk nie.
Die departement sal dalk eerder reagerend wees deur werkers of vakbonde se
klagtes op te volg.
Vakbonde het hewig gereageer op die aankondiging laat verlede jaar dat beoog
word om arbeidswetgewing só te wysig dat personeelvermindering makliker sal
geskied. Die verwagting was dat vakbonde personeelvermindering binne en buite
die howe onder die vergrootglas sou plaas.
Beskuldigings teen boere oor die mishandeling van werkers en onbillike
arbeidspraktyke - veral waar diensbeëindiging met afsetting gepaard gaan - sal
voortduur en dit is ook feitlik seker dat lidmaatskap van die
Werkloosheidsversekeringsfonds uitgebrei sal word na sektore wat nie voorheen
daarby ingesluit was nie.
Die instelling van 'n vinniger proses van dispuutbeslegting deur die
Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) is 'n belowende
verwikkeling. Versoening en arbitrasie ná klagtes van onbillike arbeidspraktyke
en ontslag kan nou in een dag afgehandel word.
Pogings om sentrale kollektiewe bedinging te bevorder, kan voortgesit word.
Hoewel dit vir die Regering en die georgani-seerde arbeidsmag beteken dat partye
nie jaarliks oor lone hoef te onderhandel nie, beteken dit vir werkgewers dat 'n
hele bedryf deur een staking lamgelê kan word.
Soos reeds gesê, raak grondsake- en arbeidswetgewing in Suid-Afrika mekaar in
baie gevalle regstreeks - soos byvoorbeeld die Wet op Billike Diensvoorwaardes
en die Wet op die Sekerheid van Verblyfreg. Wanneer 'n boer 'n hofbevel verkry
het om 'n werker van sy plaas te sit, lui die verblyfregwet hy moet alternatiewe
huisvesting vir die werker vind voordat hy hom van sy plaas kan sit.
Grondsake is waarskynlik 'n veel groter knelpunt vir boere as die
arbeidswetgewing. Grondwetgewing laat baie min beweegruimte vir 'n grondeienaar
toe en word gekenmerk deur burokratiese rompslomp en inmenging van
regeringskant. Dié toestand is nou al só ernstig dat baie boere hul grond
onmiddellik sal verkoop as die prys reg is. Die aard en pas van grondhervorming
word grootliks deur die staat bepaal, tensy grond-eienaars vrywillig grond vir
dié doel afstaan.
Die landbou en sy organisasies moet vanjaar vroegtydig by grondhervorming
betrokke raak om te verhinder dat sake handuit ruk soos in Zimbabwe.
Wanopvattings oor grondhervorming sal vanjaar vinnig uit die weg geruim moet
word. Daar is 'n wanopvatting by 'n deel van die land se bevolking dat
grondbesit rykdom skep.
Mense wat op grond hervestig word sodat hulle 'n bestaan daaruit kan maak,
moet gekeur word volgens hul kundigheid, vaardigheid en hulpbronne. Hulle moet
ook 'n duidelike plan hê en 'n wil om te boer.
'n Gesonde grondregtekultuur sal geskep moet word wat mense leer dat
hervestiging saamgaan met die verantwoordelikheid om grond volhoubaar te benut.
Groter druk gaan waarskynlik op boere geplaas word om hul grond vir hervestiging
beskikbaar te stel.
Daar is wel talle boere wat hul plase teen markverwante pryse vir
grondhervorming aanbied, maar die idee van 'n vrywillige verkoper en koper kry
nog nie aftrek nie.
Boere wat grondeise teen hulle het, moet beslis nie verwag dit sal vanjaar
afgehandel word nie. Die staat se wiele draai nie net stadig nie, hy het ook nie
die geld óf meganismes om dit vinnig af te handel nie.
Boere sal moet begin saamstaan en 'n gemeenskaplike strategie ontwikkel om
grondhervorming te laat slaag sonder om al hul grond in die proses af te staan.
'n Strategie moet ook ontwikkel word om die beeld van die boer en die landbou te
verander. Die bydraende rol van die landbou in die ekonomie moet sterker
beklemtoon word, terwyl die skade van onverantwoordelike grondhervorming
voortdurend uitgewys moet word.
Boere sal ook in streekverband met belangegroepe moet praat en projekte begin
waardeur klein kommersiële boere hulself as kommersiële boere kan vestig. Boere
moet ook seker maak hulle is ingelig oor wetgewing wat hulle raak. Hulle moet
versigtig wees wanneer hulle grond koop of verkoop.
Suid-Afrika se boere staan sterk. Hulle moet in hulself glo, bereid wees om
saam te staan en die toekoms met vertroue binnegaan.
5 Januarie 2001
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24