Sommige praktyke van arbeidsmakelaars moet verbied word, sê die vakbond Solidariteit, en nuwe maatreëls moet daargestel word om dié bedryf te reguleer. Een van sy voorstelle is die aanpassing van die Arbeidswet om die uitbuiting van werkers deur arbeidsmakelaars stop te sit, luidens ‘n berig van Fin24.com.
“Ons vra vir ’n duideliker definisie van tydelike werkverhoudinge, asook vir ’n groter rol vir bedingingsrade. Ons meen alle werkers wat deur arbeidsmakelaars geplaas word, moet deel van só ’n raad wees. Om dié doel te bereik, kan ’n nuwe raad gestig word of die rol van bestaande rade kan uitgebrei word,” sê die vakbond.
Mnr. Johan Kruger, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, sê ’n reeks voorstelle is aan die betrokke Parlementêre komitee voorgelê. Ander voorstelle sluit in dat werkers wat langer as ses maande in diens is en deur ’n arbeidsmakelaar geplaas is, vier weke kennis kry voor hulle hul werk verloor. “Werkgewers wat arbeidsmakelaars se dienste gebruik, moet ook uitreepakette aan die betrokke makelaars betaal wanneer hulle ooreenkomste opskort.”
Solidariteit vra ook dat ’n minimum loon vir werkers wat deur makelaars werk kry, ondersoek word en dat die Departement van Arbeid ’n groter rol in die regulasie van arbeidsmakelaars moet speel. Werkgewers moet nie toegelaat word om werkers af te lê en dan weer deur ’n arbeidsmakelaar te huur nie.
Bron:
Fin24.com
9 Oktober 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)