|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Dit gebeur selde dat die landbouprodusent ’n seisoen deurgaan sonder dat die een of ander soort plaag hom bedreig en hy sodoende gedwing word om die plaagverteenwoordiger vir ’n oplossing te kontak.
In ’n vorige artikel wat in Noordwes Nuus gepubliseer is, is die gevaar van die onkundige gebruik van plaagdoders vir die omgewing bespreek. In hierdie artikel word meer gefokus op die natuurlike metodes wat gebruik kan word om die druk van plaagdoders op die omgewing te verminder.
Daar is baie maniere hoe die natuur ingespan kan word om die produsent te help om plae wat op die plaas of in die omgewing voorkom, onder beheer te bring en ’n natuurlike ewewig daar te stel.
Omdat daar so baie maniere is en daar boeke vol daaroor geskryf kan word, word slegs enkele maniere om die natuur voordelig aan te wend, bespreek. In ’n volgende artikel gaan ook aan ander opsies aandag gegee word.
Rot- en muisplae kan baie skade veroorsaak as dit nie doeltreffend bekamp word nie. Landboubedrywighede het ongelukkig die vermoë om ideale toestande vir hierdie knaagdiere te skep, wat dikwels tot die een of ander plaag kan lei.
Twee rot- en een muisspesie kan algemeen as ’n plaag beskou word. Die nagmuis is een van hierdie knaagdiere en kom meestal in die Wes-Kaap voor waar kleingraan verbou word. Hulle is grawende knaagdiere wat baie skade aan gewasaanplantings kan veroorsaak.
Hulle bewoon gate en tonnels wat hulle in landerye grawe en vreet vars geplante saad, rypwordende gewasse en ook vegetatiewe materiaal van plante. Wanneer toestande vir die nagmuis gunstig is, kan ’n bevolkingsontploffing maklik plaasvind en bewerings oor tot 40 000 nagmuise per hektaar is reeds gemaak.
Die Noorweegse rot is die groter een van die twee rotplae. Hul oortjies is half weggesteek in die pels en die stert is effens korter as die kop en liggaamslengte gesamentlik. Hul mis is ongeveer 18 mm lank met stomp punte.
Die Noorweegse rot verkies om op die grond te bly. Die kleiner dakrot se stert is weer langer as die kop en lyf se gesamentlike lengte en hulle het groot en maklik sigbare ore. Hierdie rotspesie hou daarvan om te klim. Die dakrot se uitskeidings is ongeveer 12 mm lank met skerp punte.
Muisplae in die Noordwes is baie beperk en bestaan gewoonlik uit klein kolonies veldmuise wat in kolle in lande nesmaak, veral waar geenbewerking toegepas word. Hulle getalle is gewoonlik so laag dat hulle nie veel skade aanrig nie. Aan die ander kant rig rotte baie meer skade aan, veral in skure en geboue.
Een plaag wat toenemend in Noordwes begin voorkom en groot skade aanrig, is die waaierstertmeerkat. Een van die hoofredes waarom hulle gewoonlik gedwing word om te trek, is as gevolg van veldbrande. Hulle trek dan gewoonlik na die wenakkers van ’n aangrensende droëland, waar hulle die vars geplante saad in die land vreet.
Gelukkig is daar ’n natuurlike oplossing vir al die genoemde plae. Uile en ander roofvoëls onderdruk hierdie plae baie doeltreffend, mits ’n aantal sake in orde is.
Dit is voordelig om wenakkers van minstens 2 m reg rondom ’n land te hê. Houtpale word in die wenakkers geplant naby die gebiede waar die plae skade veroorsaak of waar die kolonies nesgemaak het. Vir die roofvoëls kan pale van 50 mm x 3 m gebruik word, waarvan minstens 2,4 m bo die grondoppervlak moet uitsteek.
Pale vir uile kan korter wees en 50 mm x 1,8 m behoort doeltreffend te wees, indien die paal minstens 1,6 m bo die grond uitsteek. Die voëls verkies reguit pale waarop daar nie dwarslatte aangebring is nie. Onbehandelde hout is die beste om te gebruik.
Dit kan voordelig wees om ’n bietjie graan rondom die voëlsitplekke uit te strooi en sodoende die plaagdiere te lok. Dit sal ook die roofvoëls en uile lok om die gebied hul nuwe habitat te maak.
Geen plaagbestrydingsmiddels moet gebruik word terwyl die pale staan nie. Indien daar wel oorweeg word om plaagbestrydingsmiddels te gebruik, moet die pale verwyder word.
Uilhokke is baie nuttig en kan rondom lande aangebring word. Net een uilhok per 20 ha moet opgerig word. Dit is maklik om die uilhokke self te bou. ’n Basis van 400 mm x 600 mm met drie kante wat 400 mm hoog is, word benodig.
Dit moet ’n plat dakkie kry met een van die kort kante wat oop is en wat as die ingang kan dien. ’n Deurtrap van 50 mm hoog by die ingang sal verseker dat die kuikens en eiers nie uitrol of -val nie.
Gekookte lynsaadolie (drie lae) sal die hout vir minstens nege jaar preserveer. Hierdie uilhokke kan teen bome of op lang pale na aan die bewerkte lande vasgesit word.
Die ideale hoogte is 4 m bo die grond. As die uilhokke in die buitelug staan en nie onder die beskutting van bome nie, moet die buite-oppervlak met PVA-verf geverf word om die hitte te weerkaats.
Plaagbestryding by graanstoorplekke
Rot- en muisplae kom dikwels voor by graansilo’s en waar produsente graan op die plaas opberg. By hierdie opbergingsplekke is daar egter ook ’n ander plaag wat groot probleme veroorsaak en dit is duiwe.
Graan wat op die grond val, lok allerlei soorte voëls na ’n silo-terrein. Weens hul uitwerking op voedselhigiëne en -veiligheid word veral duiwe as ’n groot probleem by silo’s beskou.
Die belangrikste redes hiervoor is die volgende:
• Die mis van duiwe wat na die silo gelok word weens graan wat op die grond rondlê, kan indirek in die graan beland indien dit op vervoerbande en silomasjinerie te lande kom.
• Waar baie duiwe voorkom, kan hulle mis direk op die graan beland indien die buisdeksels oopstaan, graan op bande bly lê of die ontvangsputte nie dadelik leeggetrek word nie.
• Dooie duiwe kan tydens graaninnames in die buise beland indien hulle byvoorbeeld tydens die stroopproses in die vrag beland.
• Tydens opberging vlieg duiwe soms by oop buisopeninge in en kan hulle dan deur berokingsgas oorval word.
Al hierdie plae en veral die duiwe kan goed deur valke en uile bekamp word. Net soos by graanlande kan sitpale op presies dieselfde manier rondom die silokompleks geplant word.
Uilhokke kan binne die stoorplekke aangebring word. Gebruik dieselfde afmetings as wat reeds genoem is. Broeikaste vir valke kan by silo's aangebring word. Die afskrikwaarde van valke vir duiwe is ongeëwenaard.
Die direkte uitwerking van valke in die omgewing op veral duiwe rondom die silo’s is maar klein in vergelyking met die indirekte afskrikpotensiaal. Tydens die voorbereiding vir die broeiseisoen moet albei volwasse valke hul nesgebied afbaken en beskerm.
Eintlik adverteer hulle dat hulle ingetrek het. Dit beteken gereelde vliegvertonings in die direkte omgewing van hul “krans”, oftewel die silo. Gevolglik word dit ’n baie onvriendelike omgewing vir onder meer rustende duiwe.
Veral tydens die broeityd is die valkouers baie aggressief teenoor betreders van “hul” lugspasie en wanneer die jong valke tussen Oktober en Desember rondvlieg, word elke moontlike veredraer gejag sodat die jong valke kan leer hoe om kos te vang. Jong valke verlaat die nes ongeveer twee maande voor die volgende jaar se broeipoging.
Valke wat gewoonlik in die Noordwes voorkom, is die swerfvalk en die edelvalk.
Swerfvalk
Die swerfvalk staan bekend as die vinnigste wese op aarde omdat dit in ’n valduik tydens ’n jagtog snelhede van tot 420 km/h kan bereik. Dit is ’n mediumgroot valk met ’n vlerkspan van ongeveer een meter. Wanneer die swerfvalk jag, duik hy op sy prooi af en slaan die prooi met ’n akkurate pootaksie. Soms sal dit die prooi op slag doodmaak of soms ’n vlerk breek. Die prooi word soms in albei kloue gevang.
Swerfvalke paar gewoonlik in Julie en lê hul eiers in Augustus en September. Hul belangrikste prooi is duiwe, asook water- en sangvoëls, maar hulle jag ook kleiner soogdiere. Insekte maak slegs ’n klein deel van hul dieet uit.
Edelvalke
Dit is ’n groot valk wat gewoonlik drie tot vier eiers op ’n rotslys of, in hierdie geval, hoë geboue sal lê. In kontras met die sierlike valduikmetode van die swerfvalk jag edelvalke gewoonlik in ’n horisontale lyn.
Die valk het ’n ligte blougrys bodeel en die bors is gestreep, met ’n maag wat ’n skakering van wit is. Die edelvalke se broeitydperk begin ongeveer vier tot ses weke na dié van die swerfvalk.
Samevatting
Vir die produsent is roofvoëls van besondere waarde. Deur plase en siloterreine vriendelik te maak vir hierdie geveerde vriende, kan verskeie plaagprobleme natuurlik opgelos kan word en eers wanneer dit misluk, behoort na gifstowwe oorgeskakel te word. In ’n volgende artikel word verder aandag gegee aan die rol wat die natuur kan speel om die mensdom te help.
3 April 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Ons het probleme met duiwe wat nes maak op die dakke van `n woonstel blok in die dorp. Die duiwe mis lê dan in die geute en valleys waar die water moet afloop. Daar is dan teveel duiwe mis en wanneer dit reën blokkeer die mis die vloei van die water en dan lek dit binne die eenheid van die woonstelle. Die geute word gereeld skoongemaak (± 1 keer per maand), maar sade ontkiem vinnig en groei in die mis en dit maak dit weer moeilik om skoon te maak. Wat stel julle voor? Sal uile in die dorp in uilkaste kom bly?
Dankie Corika
n valk wat in die lug sweef lieflik
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)