|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Daar is min geleenthede waar die landbou só vertoon kan word soos by ’n skou, en daarom hoop Clanwilliam se skouvoorsitter, mnr. Joubert van der Merwe, dat landbouskoue nie net ’n saamtrekplek vir dierevertoners is nie, maar alle fasette van die landbou sal uitbeeld.
Clanwilliam se skou het in 1931 ontstaan en vier dus vanjaar sy tagtigste bestaansjaar.
“Die skou het in ’n stofstraat in die middel van die dorp begin. Dit het later na Parkstraat verskuif en uiteindelik geëindig waar dit vandag nog gehou word. Daardie tyd het die mense met perdekarre, ossewaens en koetse skou toe gekom. Die beeld van die hedendaagse die landbou het heeltemal verander,” het hy op Donderdagaand se skoudinee gesê.
Me. Judy Mouton, burgemeester van Cederberg, sê die landbou is die ruggraat van die land en van die gemeenskap.
“Veral op die platteland is ons maksimaal afhanklik van die landbou en toerisme, want ons het nie groot nywerhede nie. Dit is dus tragies dat ons Regering dit oënskynlik nie besef nie. Ander lande kry subsidies om hul boere op die grond te hou, in Afrika lyk dit my dit werk eerder andersom – hulle wil die landbouer van die grond af kry.”
Van der Merwe meen landbouskoue is die ideale platform vir die landbougemeenskap om saam te staan en sy beeld na buite te verbeter. Sowat 24 diereskoue resoteer tans onder Agri Expo.
“Daar is min geleenthede waar ons die landbou so kan vertoon soos by ’n skou. My wens is dat ons skoue sal gebruik om nie net mooi diere te vertoon nie, maar om alle fasette van die landbou bymekaar te bring sodat ons uit een mond kan praat.”
Clanwilliam het verlede jaar die Opkomende Boer van die Jaar, mnr. Niklaas Slingers, opgelewer. Die buurdorp Citrusdal spog weer met die ALG-boerdery.
Mnr. Gerrit van der Merwe (eienaar) het boere op die skoudinee aangemoedig om kundiges te raak van hul boerderyprodukte, die eindverbruiker van sy produk altyd in gedagte te hou en geleenthede vir waardetoevoeging te soek.
Benewens die jeugskou, kleinveeskou en perdeskou is daar vandag vanaf 12h00 ook ’n optog met onder meer perdekarre, ossewaens en skotskarre. Ou motors van 1919 tot 1931 en trekkers uit 1923 tot 1934 sal vertoon word.
Interessante oesgebruike van 1931 sal ook gedemonstreer word. Dit sluit in ’n donkie-baler, ’n McCormick-blikbakmasjien en ’n McCormick-selfbinder.
Onderskrif: Veels geluk! Mnre. Joubert van der Merwe, skoupresident, Joubert van Wyk, nuwe president van Agri Expo, Breyton Milford van Agri Expo, me. Judy Mouton, burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit, mnre. Niklaas Slinger, nasionale opkomende boer van die jaar, en Gerrit van der Merwe, nasionale boer van die jaar, blaas kersies op ‘n reuse-koek uit ter viering van die Clanwilliam-skou se 80ste bestaansjaar. Foto: LUCILLE BOTHA
15 April 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)