|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Clover het sy eerste tussentydse resultate ná notering vandag met ’n breë bors bekend gemaak.
Die melkverwerker het sy omset met 10,8% verhoog vanaf R3,023 miljard tot R3,349 miljard, terwyl die bedryfswins met 43% gestyg het tot R176 miljoen (2009/'10 - R123,1 miljoen).
’n Tussentydse dividend van 10 sent per gewone aandeel is verklaar.
Mnr. Johann Vorster, uitvoerende hoof van Clover, skryf die gunstige resultaat aan die maatskappy se verskeie kostebesparingsplanne toe. “Laer produksiekoste en ’n groei in markaandeel het gelei tot ’n stewige finansiële prestasie oor dié tydperk.”
Betreklik lae rentekoerse het ’n gunstige uitwerking op verbruikersbesteding gehad, wat daartoe gelei het dat Clover ’n herstel beleef het in al die marksegmente waarin hy betrokke is, met die uitsondering van kaas, sê Vorster. “Ons het ’n groter markaandeel bekom deur besparings aan verbruikers oor te dra.”
Die maatskappy het in Desember genoteer en het op dié wyse ’n belegging van R575 miljoen bekom. Dié kapitaal word aangewend om Clover se kapasiteit uit te brei en sy waardeketting te herontwerp.
Dié projek, bekend as Cielo Blu, behoort binne die volgende 24 maande tot 36 maande afgehandel te wees. Ná voltooiing sal die langleweprodukte-aanleg vanaf Midrand na Port Elizabeth en Pinetown verskuif, wat nader aan ’n groter groep melkboere is.
15 Maart 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)