“Dit lyk of ons te bang is om ons ekonomie te laat groei en werk te skep,” sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, oor Suid-Afrika se regeringsbeleid wat teen die vervaardiging van biobrandstof uit voedselgewasse soos mielies gekant is.
“Dit is vir my verstommend dat Amerika so besluit het (om etanol uit mielies te vervaardig), maar ons is te bang,” het Ferreira na afloop van Graan SA se jaarlikse kongres op Nampopark buite Bothaville gesê.
Hy het op die kongres aangekondig dat Graan SA besluit het om die debat rondom biobrandstof te heropen. Die organisasie het sy veldtog ter bevordering van ‘n plaaslike etanolbedryf vroeër laat vaar te midde van wêreldwye weerstand teen die vervaardiging van brandstof uit voedselgewasse.
Dit was rondom die tyd van die voedselkrisis, toe kosinflasie en graanpryse die hoogte in geskiet het. Suid-Afrika verwag egter vanjaar die grootste mielie-oes in bykans 30 jaar, en pryse het intussen tot nie-winsgewende vlakke vir talle produsente teruggeval.
Ferreira meen Suid-Afrikaanse boere kan jaarliks met gemak tussen 12 en 14 miljoen ton mielies produseer, wat ‘n 4 tot 5 miljoen ton oorskot per jaar beteken.
Lees ook:
Biobrandstof knou graanvoorraad
11 Maart 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)