Eskom-lewering onder druk

 
Eskom-lyne. Foto: LBW
Eskom-lyne. Foto: LBW

“Eskom was onder enorme druk tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi om genoeg elektrisiteit aan die land te voorsien, maar ons is baie bly ons was suksesvol.

Groot uitdagings lê egter voor vir die toekoms,” vertel mnr. Hugh McGibbon, algemene bestuurder van die sentrale streek van Eskom se verspreidingsafdeling.

“As die ekonomie nie vinnig herstel en groei nie, behoort ons eers teen 2019 ernstige kragprobleme te hê, maar as sake onmiddellik begin verbeter, is ons volgende week in die moeilikheid,” het hy aan afgevaardigdes by Agri Gauteng se jaarvergadering gesê.

McGibbon sê hoewel die land tans redelik genoeg krag het om in die behoeftes te voorsien, dui sy jongste grafieke oor kapasiteit en ekonomiese groei aan dat sy lewering nie aan behoeftes kan voorsien vanaf 2015 nie.

Gevoelig oor tariefverhogings
Volgens McGibbon is dié kragverskaffer gevoelig vir tariefverhoging weens die uitwerking wat dit op boere het. Hy meen egter dat ná die jongste tariefverhogings, wat tot en met 2012 vasgestel is, nóg verhogings moontlik kan volg. “Dit hang alles af van die hoeveelheid geld wat ons teen daardie tyd sal kan leen.”

Wat verspreiding en die lewering van dienste betref, sê McGibbon voldoende finansiering is beskikbaar en Eskom gaan dit ten volle benut. Dit sluit ook die opstel van netwerke op plase in. “Ons het die nodige geld hiervoor beskikbaar, ons grootste uitdaging tans is menslike kapasiteit.”

Kragdiefstal?
Volgens McGibbon is wetstoepassing rakende diefstal - insluitend kabel- en kragdiefstal - opgeskerp. “Ons is ook baie streng oor die betaling van paaiemente en dié misdade. Sowat 1 000 verbruikers in Soweto se krag is onlangs afgesny omdat hulle nie hul rekeninge vereffen het nie.”

McGibbon sê Eskom hoop ook om binnekort ‘n visie oor krag en energie van die Regering te ontvang waarvolgens elektrisiteit in die land meer doeltreffend benut kan word. Hy sê elke individu moet verantwoordelik wees met sy kraggebruik om te verseker die land in die toekoms voldoende krag het.

3 September 2010

0
 
 

Kommentaar

mkruger

Toe ek hier lees KRAGDIEFSTAL het ek opgewonde geraak.
Maar verniet.
Eskom steel net so lekker van ons verbruikers....wettiglik

Volgens die wet mag Eskom, as hy nie krag by 'n verbruiker gelees het nie, 'n beraamde waarde gebruik om sy rekening uit te kan stuur.

Solank daar egter van 'n elkel tarief gebruik gemaak word is dit nie 'n probleem nie. Sodra daar egter van verhoogde tariewe gebruik gemaak word soos die verbruiker se gebruik vir die maand verhoog is daar 'n probleem.

As 'n verbruiker bv 100 eenhede vir 'n maand gebruik en die lesing word nie geneem nie en hy moet vir 'n beraamde gebruik van 200 eenhede gebruik betaal(op 'n glyskaal) is daar geen manier wat Eskom, wanneer hy dit weer gaan lees, kan bepaal wat die werklike gebruik vir 'n spesifieke maand was nie. Gevolglik kan hy nie die betaling herbereken nie en steek hy 'n stewige wins in sy sak.

Wat die situasie nog vererger is dat die wet glo net vereis dat 'n lesing elke 3 maande geneem moet word.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.