“Wees realisties oor Afrika en moenie dat iemand ’n mus oor jou oë trek nie.” Só sê me. Loureine Salomon wat haar saam met haar man en familie in die 1990’s in die Kongo bevind het as deel van ’n groep Suid-Afrikaners wat na dié land gegaan het om boere in die Kongo te help ontwikkel.
Die Salomons het met slegs $300 en ’n sakkie klere as vlugtelinge uit die Kongo ontsnap. “Ons is met woede gevul omdat daar weer mense gaan wees wat alles gaan verloor en daar gaan net gepraat word oor hulp en ondersteuning, maar niks gaan realiseer nie. Waarom het Afrika-lande ons boere nodig? Hulle het mos hul eie boere. Waarom nie húlle help en ondersteun nie?” vra sy.
Reis na ’n nuwe lewe
Salomon en haar eggenoot, Ingo, was deel van ’n groep boere wat deur die maatskappy Sadevco gewerf is om na die Kongo te verhuis om ’n nuwe lewe in dié Afrika-land te begin. Ingo was ’n passer en draaier en motorwerktuigkundige en Loureine het ’n landboukwalifikasie van die Potchefstroomse Landboukollege.
In Augustus 1995 het Ingo na die Kongo vertrek om saam met Sadevco voorbereidings vir die Suid-Afrikaanse boere te doen. Loureine het haar in Februarie 1996 by hom en haar familie aangesluit aangesien haar ouers ook reeds in die land was. Op 7 Junie 1996 het Ingo en Loureine die knoop voor die landdros in Nkayi deurgehaak.
“Ons s’n was die enigste troue in die Kongo. Die feesvieringe het op 21 Junie in Socoton plaasgevind. Ál die Suid-Afrikaners wat reeds in die Kongo was en ’n paar vriende het die geleentheid bygewoon. Daar was 45 gaste teenwoordig.”
Ooreenkomste en reëlings
Loureine sê Sadevco het boere die versekering gegee dat die grond op ’n huurpagstelsel van 99 jaar beskikbaar gestel is, maar “daar was geen dokumente om dié stellings te staaf nie”. Hulle het wel die Kongolese president in daardie stadium, mnr. Pascal Lesouba, persoonlik ontmoet.
“Hy het sy persoonlike versekering gegee dat die Suid-Afrikaanse boere welkom is en het ook ’n minister aangestel om na die boere se belange om te sien en ook om die opleidingsentrum wat deur Ingo op die been gebring is, te finansier.” Die geldelike steun is in Maart 1997 weens politieke onstabiliteit gestaak.
Die opleidingsentrum was by ’n ou grondboonolie-aanleg in Huilka in die Nyaki-omgewing geleë waar ’n werkwinkel beskikbaar was. Sestien Kongolese studente is daar in meganika en algemene herstelwerk van motorvoertuie opgelei. Dié opleiding was broodnodig aangesien daar “net bestaansboere was wat hul lewe op lappies grond van sowat 50 x 50m gemaak het en só hul gesin gevoed het. Ekstras is by die plaaslike mark verkoop om luukshede, soos seep en suiker, te kry”.
Die Salomons se doel was om indiensopleiding aan dié boere te bied oor die verbouing van gewasse, soos mielies en groente.
Ontwrigting en verandering
Ingo en Loereine het in April 1997 saam met die res van hul familie na die plaas Goudette in die Mayonsi-distrik getrek. Haar ouers het toe saam met mnr. Jan Tromp op die plaas Socoton gewoon.
Die Salomons het vir ses maande op Goudette aangebly aangesien die plaaslike dorp se mense en burgemeester hul goedgesind was “en ons die moontlikheid van ’n nuwe blyplek gebied het. Ons het ’n skriftelike kontrak vir 99 jaar huurpag van Goudette gehad. Dié reëlings het niks met Sadevco te doen gehad nie aangesien die meeste van die Suid-Afrikaners reeds na Suid-Afrika teruggekeer het.”
Sy sê die eerste politieke steurings het in November 1996 begin en “baie Suid-Afrikaners het toe al begin krapperig voel en het reëlings begin tref om terug te gaan huis toe”.
Vrees en vlug
“Ons was rustig ingerig op Goudette nadat toestande op Socoton ons onveilig laat voel het. Daar was geweerskote in die nag en gerugte dat ons werkers aangeval is. Op Goudette was die familie by wie ons die huurpagkontrak gehad het, ons goedgesind en het ons beskerm toe rebelle en kindersoldate ons plek wou aanval.”
Loureine vertel van gille in die nag en die Katolieke kerkie op hul dorp wat heeltemal deur rebelle verwoes is. “Die rebelle was swaar bewapen met AK 47’s, swaar masjiengewere, handgranate en ander wapens. Ons was die hele dag omring deur manne van die familie wat ons goedgesind was, wat met Uzzi’s om hul nekke as wagte vir ons opgetree het.
Die Salomons het in middel Oktober 1997 nuus ontvang dat Angolese rebelle in die konflik in die Kongo betrokke geraak het as deel van die groep wat Lesouba uit sy magsposisie wou verwyder. Loureine meen dit was ondersteuners van die Kongo se huidige president, mnr. Denis Sassou-Nguesso, wat die chaos veroorsaak het.
“Mense wat die boere en Lesouba ondersteun het, het hul lewens verloor. Hul koppe was op speke by die ingange van dorpe geplaas as waarskuwing vir ander mense.”
Toe hul oppassers dié inligting aan hulle oorgedra en gewaarsku het dat Angolese rebelle per trein op pad was vanaf Port Noir en dat die mense wat hulle teëkom voor die voet doodgeskiet word, het die Salomons besluit om vir hul eie veiligheid die Kongo te verlaat. “Die oppassers het voorgestel dat hulle ons na die Zaïre-grens neem om ons lewens te spaar. Ons is die nag van 26 Oktober 1997 met twee voertuie van Goudette weggeneem. Ons het die Angolese met twee ure gemis. Ons het te voet oor die grens tussen die Kongo en Zaïre gevlug. Dit het ses uur geduur om die grensdorpie in Zaïre as vlugtelinge te bereik.”
Veilig tuis
In Zaïre het die Salomons met hul skamele oorblywende besittings en $300 ’n voertuig gehuur om die naaste lugstrook by Louosie te bereik waar die Suid-Afrikaanse ambassade van hulp kon wees.
“Alles wat my ouers bymekaar gemaak het, het op Goudette agtergebly. Ek en Ingo het die bietjie wat ons gehad het verloor. Daar was nie ’n huis om na toe terug te keer nie en ons moes totaal van vooraf begin.”
Die Salomons woon nou in Stilfontein in Noordwes.
Kyk hier na ‘n galery van foto’s van omstandighede in die Kongo. Loureine het die foto’s verskaf.
9 November 2009
Kommentaar
Glo wat ek vir julle se: Die enigste suksesvolle onderneming wat jy in die ander lande kan begin,as jy genoeg geld het, is n "Rebellegroep!.. met hulle kan jy geld maak!
Teuns, ek sal baie graag van jou wil hoor wat die situasie in Malawi is. Ons oorweeg dit om moontlik soontoe te gaan. By ons werk 'n Malawiër wat uiters opgevoed, ordentlik en ingelig is. Groete, Julie
Ons sien wat is die probleme in Suid-Afrika kyk maar na Rodesia. Dit help nie jy gaan na die buurlande toe nie jy gaan alles weer verloor en arm word, want jy kan niks saamvat nie. Jy sal altyd n vlugteling wees in Afrika. Gaan uit na ander soos Paragauy in Suid Amerika. As jy grond koop ,word dit op jou naam gesit, daar is nie huurpag nie. Daar is baie duitsers wat daar bly, hul het hul eie kolonies en eie infrastruktuur.
Theunis Duvenhagen. Die Franse Frank het 'n verhouding met die ander Westerse geldeenhede en die CFA is daaraan verbind en sweef nie vry nie???????? Wat praat jy??? Die Franse gebruik al lank niemeer die Franse Frank nie. Dit bestaan nie meer nie...hulle gebruik die Euro...
Om na n anderland te verhuis moet jy verseker jou HUISWERK deeglik doen en soos iemand eenkeer vir my gese het om in AFRIKA ROND TE SKUIF IS DIT NET SO GOED JY TREK VAN EENKANT VAN KERKSTRAAT NA DIE ANDERKANT BEHALWE DIT IS VEILIGER JY WEET WAT JY VERWAG EN WAT JY SAL KRY.
Theunis, ek sal ook graag wil weet wat is jou gevoel oor Mosambiek. kontak my asb per mail: bondfirst@mweb.co.za
Theunis, stuur asseblief jou eposadres vir my. (As jy weer jou kommentaar lees) Ek saal graag meer van die dienste wat jy lewer wil weet.
Dit wat Theunis hier kwyt raak is sekerlik waar, ek dink dat beter is om te bly waar jy jou mense ken en die toestande. Die red hoekom Afrika sukkel is omdat hul geen infrastruktuur instand kan hou en dit is so noodsaaklik vir voedsel sekuriteit. Ek sal graag wil weet wat is Theunis se siening oor Mosambiek. Ek het vriende wat met groot moed besig is daar 'n plekkie te bekom. Die G8 lande gaan glo help om te finansier en infrastruktuur te skep. Hoe lank gaan dit vat en waar verkoop hul intussen die mielies en berg dit op.??? Pieter
Baie dankie ja ons weet daar is mense wat uit ondervinding kan gesels Theunis ek sal graag met jou wil kontak .Dankie vir die insiggewende skrywe.My epos christocoetzee2@gmail.com
Baie dankie vir die inligting wat verskaf is deur ingeligte
persone wat hul kennis aan oningeligte mense soos ek deel.
Voor organisasies mense se vertroue in hul hande neem moet hul eers die donker van Afrika ondersoek en alle feite op die tafel le. Ek was self baie entosiasties en opgewonde maar
na ek die berigte gelees het weet ek nie of n mens gaan boer of oorlog maak nie. Die meeste van my soort mense wat belangstel in boerdery in Afrika lande kan nie grond bekostig in SA nie.As grond dan vry aangebied word kan n mens
oningeligte besluite neem. Finansiering is in my oe n groot kopseer en min van ons kan n plaas ontwikkel uit ons sakke uit,gesien uit die oogpunt dat daar geen of min infrastruktuur teenwoordig is op sulke grond.
Ek wil afsluit met iets wat my pa altyd gese het: my kind n ding wat op n "scrapyard" le,le met n rede daar. Afrika lande wat so na SA se boere vry sal hierdie mense soos kroonwild moet kan beskerm anders sal hul op die "scrapyard" bly.
Groete: Marius van Rooyen ( vrystaat )
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)