Graansilo's. Foto: CHARLES SMITH
Die landbou se bydrae tot nywerheidsontwikkeling, werkskepping en ontwikkeling kan verbreed word, meen Agri SA.
“Die landbou kan ‘n groter bydrae as tans lewer tot nywerheidsontwikkeling, werkskepping en ontwikkeling op ‘n breë basis.” Dit is die opinie van mnr. Hans van der Merwe, die uitvoerende direkteur van Agri SA, nadat dié organisasie ‘n voorlegging aan die portefeuljekomitee van handel en nywerheid gedoen het.
Van der Merwe meen egter dit kan slegs gebeur mits beperkende wetgewing aangepas en ‘n meer produksie-vriendelike omgewing geskep word. Agri SA het die komitee ingelig oor die landboudimensies van die “Industrial Policy Action Plan” (IPAP), na hy genooi is om die komitee toe te spreek.
Dié plan is vroeër die jaar deur mnr. Rob Davies, die Minister van Handel en Nywerheid, voorgelê, en landbouverwerking en bio-brandstof is van die fokuspunte daarin.
Neigings in die sektor
Van Der Merwe sê die komitee is ingelig oor ekonomiese neigings in dié sektor, en ook oor groei in produktiwiteit wat geleenthede vir ontwikkeling skep. “Dit vind egter nie neerslag in ‘n groter bydrae van die sektor tot die ekonomie en meer spesifiek ten opsigte van die binnelandse verwerking van produkte nie. Tewens, Suid-Afrika het die afgelope paar jaar al hoe meer verwerkte voedselprodukte ingevoer teenoor sy uitvoerprestasie,” verduidelik Van der Merwe.
Volgens die verklaring het die uitvoer van verwerkte produkte met 32% toegeneem van 2003 tot 2007, van R13,7 miljard in 2003 tot R18,1 miljard in 2007. Terselfdetyd het die invoer van verwerkte produkte met 132% toegeneem van R10 miljard in 2003 tot R23,3-miljard in 2007.
Verskeie voorstelle
Van der Merwe sê verskeie voorstelle is aan die komitee deurgegee. Een is om die Strategiese Plan van die Landbou by die IPAP te inkorporeer. ‘n Spesifieke handel- en tariefbeleid vir die landbousektor as deel van IPAP moet ook ontwikkel word.
Die landbou-afvaardiging het ook gevra dat landbou- en ander wetgewing, wat ‘n ongunstige impak op die landbou het, soos dié van water en mynwese, dringend herstel of hersien moet word. ‘n Versoek is ook gerig dat grondhervorming realisties ten opsigte van die ekonomie moet geskied.
Mnr. J.L. Febbs, die voorsitter van die komitee, het die afvaardiging versoek om die komitee skriftelik in te lig oor arbeid in die sektor, die rol van koöperasies, die rol van vroue in die landbou, die benadering teenoor transformasie en die impak van wisselkoerse op die landbou.
5 Maart 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)