|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 81% |
| Wind: |
Die kleinveebedryf in die land sal in minder as tien jaar uitgewis wees as nie nou ingegryp word om die probleem van ongediertes op te los nie.
Die bedryf verloor jaarliks sowat ‘n R1 miljard met meestal jakkalse en rooikatte wat baie meer skade as veediefstal aanrig. Ongediertes vreet meer vleis as dit wat Suid-Afrika invoer.
Een van die laaste dokumente wat me. Buyelwa Sonjica, Minister van Omgewingsake, afgeteken het nadat sy die trekpas gekry het, bedreig glo nie net voedselsekuriteit nie, maar kan werkskepping in die platteland tot stilstand dwing. Dié dokument heet die norme en standaarde vir die bestuur van probleemdiere in Suid-Afrika en reguleer hoe boere ongediertes mag beheer.
Mnr. Petrus de Wet, voorsitter van die nasionale probleemdierbeleidskomitee, het by die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, gepleit dat die goedkeuring van dié dokument gestop moet word.
Op dowe ore
Selfs die Departement vir Landbou, Visserye en Bosbou het Omgewingsake ingelig dat dié voorgestelde norme en standaarde ‘n groot impak op voedselsekuriteit gaan hê. Hul peidooie het egter ook op dowe ore geval.
De Wet het gesê dat verliese weens ongediertes in 2009 sowat R1,1 miljard beloop het. Vir vanjaar is dit al sowat R1,3 miljard. Dit terwyl boere net sowat elke vyf jaar R1 miljard weens droogte verloor. “Duisende diere verloor hul lewens daagliks vir 500g vleis.”
Hy meen veediefstal is ‘n grap wanneer dit met die verliese weens ongediertes vergelyk word. Ongediertes het in die afgelope 20 jaar só toegeneem dat die situasie nou heeltemal handuit geruk het. Die Karoo Nasionale Park in Beaufort-Wes moet nou springbokke aankoop want die rooikatte en die jakkalse het hulle daar uitgewis.
Kos bedryf miljoene rand
Veediefstal vir klein- en groot diere kos die bedryf sowat R400 miljoen jaarliks. Dit is slegs sowat ‘n derde van die verliese waarvoor ongediertes verantwoordelik is. Sowat 55% van die verliese aan skaap en bokke in die land is weens jakkalse en sowat 30% weens rooikatte.
Die impak oor die afgelope twee dekades was enorm. De Wet, wat ook voorsitter van die NWKV is, het gesê in 1990 was 103 miljoen kilogram wol geproduseer, maar vanjaar is slegs 48 miljoen kilogram wol weens ongediertes en veediefstal geproduseer.
Die angorabok is een van die diere wat baie onder dié roofdiere deurloop Die sybokhaar-bedryf, wat ‘n groot inbringer van buitelandse kapitaal is, het van 10,1 miljoen kilogram in 1990 na 2,6 miljoen kilogram vanjaar geval.
Misnoeë oor norme
Lede van die portefeuljekomitee het hul misnoeë uitgespreek oor die voorgestelde norme en standaarde wat die Departement vir Omgewingsake wil gazette.
“Die kwessie raak voedselsekuriteit en hulle het hul eie norme en standaarde opgestel sonder dat ons daarvan weet,” het mnr. Salam Abram, ANC-LP, gesê.
Mnr. Lulu Johnson, voorsitter van die portefeuljekomitee, het aangedui dat in die belang van voedselsekuriteit die probleem spoedig opgelos moet word en dat Omgewingsake nog voor die resses sy aksies aan die komitee moet kom verduidelik.
4 November 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
AS jy as boer nie jou eie planne maak nie gaan jy aan die kortste end trek met roofdier se kind.
@ die goeie vee.
'n Ongedierte is 'n dier wat 'n boer ekonomiese skade aanrig, die boer is geregtig daarop om hierdie diere te vernietig.
'n Roofdier is 'n dier wat vleisvreet en jag maak op ander diere.
Daar is nie 'groen' 'greenpeace' manier om van jakkalse ontslae te raak nie. Jakkalse is geweldig aanpasbaar. Hoe groter die druk op die jakkals se familiegroep word hoe vroeer begin teel hulle aan. Die jakkals weet hy word gejag dus pas hy aan by die situasie. Jag praktyke wat vandag gewerk het, werk nie meer more nie.
Die departement van omgewingsake is nie werklik gemoeid met die boer se saak nie. Hy is van mening dat die grond getransformeer of herverdeel moet word.
'n ander probleem kom nou meer en meer voor. Dit is plaaswerkers se rondloper honde wat selfs jong kallers, veral net na die koeie gekalf het, verskeur. As die koei lê is dit vergeefs, die kalfie maak dit nie. Die plaaswerkers, veral waar 'n groot hoeveelheid bymekaar woon, waar die honde onbeheers rondloop bedags en snags. Nou moet ons gif gebruik om hulle te teiken en dit lei daartoe dat arende en aasvoëls in die slag bly.
dit is nie net die natuur wat versteur is nie,maar die hele samelewing. Aan almal wat deur hierdie dinge geraak word gaan lees gerus Job.5:8-27.
Wildboere, Wildevarke en ander ongediertes! Hulle maak 'n grap van jakkals proef en ander heinings.
Net 'n gedagte.
Orals waar daar nog "probleme" was, was dit gewees omdat die natuur "opgedinges" is.
Nou as rooikatte 'n probleem begin word, dan is dit mos omdat sy natuurlike vyand nie meer daar is om hom in toom te hou nie.
Daar is dan net twee opsies. Bring sy natuurlike vyand terug(weet iemand wat dit is). Of "skep" 'n nuwe natuurlike vyand om hom in toom te hou(die mens).
Kyk maar wat het gebeur waar die slim manne die mens gestop het. Die olifante maak amok want hulle mag nie meer gejag word in die wildtuine nie. Daar is min bome oor..
Ja mens moet nie mal raak en alles uitwis nie maar kom ons wees nou maar eerlik die mense het in baie opsigte die natuurlike vyande "uitgewis" en moet gevolglik nou instaan as die "natuurlike" vyand.
Soos ek gese het. Net 'n gedagte.
Want dit IS 'n ongedierte. Punt.
As ons maar net weer 'n ding op die naam kan begin noem...
En ongediertes sluit rondloper honde in, wat verseker nie roofdiere is nie maar wel erge skade aanrig.
Kom nou "goeie vee", drop jou fairy dust en tower staffie by die naaste kleuterskool en kry ruggraat vir 'n slag!
My pa se hele skaap boerdery is deur 2-been probleem soogdiere uitgewis. Daar is eenvoudig weekliks 4 tot 6 skape gesteel omdat die opstal nie meer bewoon word nie. Wagte werk jou R6,000 alk 'n maand uit. Twee wagte en jou verliese is groter as die skaap verliese.
Waarom die woord "ongediertes" gebruik i.p.v. roofdiere, soos dit hoort by objektiewe verslaggewing? Deur die diere te vilifiseer moedig die skrywer dalk net die onwettige gebruik van slagysters aan, en dit is NIE die oplossing vir hierdie moeilike kwessie nie.
Die artikel brei glad nie uit oor wat die Departement van Omgewingsake se norme en standaarde behels, en wat daaromtrent so onaanvaarbaar is vir die probleemdierbeleidskomitee nie. Ek sou graag meer inligting hieroor wou bekom.
Rooikat is besig om die inheemse bosbokke hier in die onder-gamtoos uit te wis- vang die jong bokkies
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)