Om gebruik te maak van die Landbounavorsingsraad (LNR) se katalogus vir die uitkenning van vee (LidCat) om ‘n databasis vir vee op te stel kan tot ‘n boer se voordeel strek in ‘n veediefstalsaak, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Kol. Oosie Oosthuizen, hoof van die nasionale veediefstaleenhede, meen enige stap om veediefstal te voorkom is positief. “Persoonlik dink ek enige iets, al dra dit net 0,1% tot voorkoming by, is positief en boere moet gaan vir dit. Dis belangrik,” verduidelik hy.
Hoe werk dit?
Me. Jill Aingworth, wat aan die stuur van sake is by LidCat, sê duisende boere maak tans gebruik van die stelsel. Die meeste gebruik dit vir teeldoeleindes, maar volgens Aingworth wend verskeie nuwelingboere dit vir veediefstalsake aan.
‘n Boer koop teen R15 ‘n koevert by die LNR aan. In die koevert word ‘n haarmonster van die betrokke dier geberg en dié spesifieke dier kry ook ‘n LidCat-nommer, wat aan die boer voorsien word. Die monsters word in die boer se databasis ingevoer, en dié databasis word op meer as een plek gestoor om te voorkom dat die inligting verlore raak.
As die dier gesteel sou word, kan DNA-toetse gedoen word om die dier uit te ken. Dié toetse kos R150 per toets.
Aingworth sê dié databasis word veral vir beeste en perde gebruik. Sy raai produsente aan om dit te oorweeg. “Ons het een boer wat 200 koeverte per keer koop.”
Hoe suksesvol is dit?
Volgens Oosthuizen word twee DNA-toetsmetodes rondom veediefstal gebruik. Die eerste is die LidCat-stelsel, waar die DNA van die gesteelde dier met die haarmonster vergelyk word. Aangesien beeste nie voor die ouderdom van sewe maande gebrandmerk mag word nie, bied dié stelsel ‘n manier om die eienaarskap van jong diere te bevestig.
“In die ander geval kry jy dalk ‘n stuk vel van die dier op die misdaadtoneel en bloed aan ‘n verdagte se klere. Dan word ‘n haarmonster van die vel en die gevlekte kledingstuk na die Irene-toetssentrum gestuur. Sou dié DNA ooreenstem plaas dit die verdagte op die misdaadtoneel.”
Oosthuizen sê enige DNA-toetse wat weens ‘n veediefstalsaak gedoen word, is egter vir die rekening van die Polisie.
Hy sê beide die metodes is baie suksesvol en is al in verskeie veediefstalsake gebruik.
Belangstellendes kan Aingworth by 012 672 9008 of jill@arc.agric.za skakel.
27 Augustus 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)