Talle lande soek SA boere

 
Kaart van Suidelike Afrika. Foto: GOOGLE
Kaart van Suidelike Afrika. Foto: GOOGLE

Die afgelope jaar het 22 lande (uit Afrika en ander kontinente) Agri SA genooi om hulle te besoek met die moontlikheid van uitbreiding na dié lande, sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA. Hy het Agri Gauteng se jaarvergadering by die Landbounavorsingsraad op Irene toegespreek.

De Jager meen die vestiging van plaaslike boere in ander lande kan oor ‘n paar jaar Suid-Afrikaanse boere se mededingendheid verlaag, “want lande buite Suid-Afrika bied vir boere baie goeie kanse om verskeie gewasse goed te kan produseer.” Hy sê die uitnodiging na dié lande is baie aanloklik, want boere kry baie voordele, soos gratis water, goedkoop grond en subsidies vir kunsmis.

Agri SA moet betrokke raak
Volgens De Jager moet dié organisasie op ‘n gestruktueerde manier by die uitbreiding van belange na ander lande betrokke raak. “Ek dink dit is goed dat ons ons voetspoor verbreed, nie verplaas nie.”

“Agri SA het nog nie ‘n vinger veroer om een boer in Mosambiek te vestig nie, maar daar is al 800 daar. Ons moet op ‘n beheerde wyse hierby betrokke wees,” verduidelik hy.

Beeld moet spoedig verbeter
De Jager sê die beeld van die landbou moet spoedig verbeter word om te kan oorleef. Hy sê groot kommer bestaan oor die feit dat baie min jongmense tot die bedryf wil toetree. Hy skryf dit toe aan die koste om ‘n boerdery op die been te bring. Ander uitdagings wat die jeug glo ook weerhou, is winsgewendheid, grondhervorming en volhoubaarheid.

Hy het opgemerk dat produsente hulle op verbruikers en spesifiek vroue (omdat hulle baie huishoudings se aankope bestuur) moet toespits en “aan hulle kant kry.”

Bekommerde man
“Ek staan voor julle as ‘n bekommerde man,” het mnr. André Botha, voorsitter van Agri Gauteng, opgemerk. Hy sê hy is bekommerd oor sommige boere se “jammeragtige houdings.” Volgens hom moet Suid-Afrikaanse boere besef hulle is van die beste in die wêreld en dat hulle daarvoor verantwoordelik is om hulle pioniersgees te laat voortleef.

Hy het ook gepleit vir konsolidasie by boere en binne die bedryf. “Aan die een kant sê Graan SA vir ons ons moet minder plant van ‘n soort gewas, terwyl die kommersiële banke boere dwing om meer te plant as gevolg van hul groot skuldlaste, óf om hulle plase dalk te verloor. Ek pleit by boere, konsolideer en los vir eers daai nuwe trekker!”

3 September 2010

3
 
 

Kommentaar

garth 

Nee wat jul by SA Agri begin ook ma niks beteken soos die regering vir landbou in SA. Ons hier in die karoo gaan deur die ergste droogte sedert 1934 en niemand bied hulp aan ,n mens kan net sover voer dan kom jou kontant vloei in gedrang, jul nog steeds lede geld he ma wat kry n mens in ruil NIKS !!tragedie

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.