Die nuwe wolseisoen het ondanks die uitvoerprobleme na China weens slenkdalkoors en ‘n sterk rand, op ‘n gerusstellende nooit afgeskop met slegs ‘n geringe daling in die markaanwyser.
Hoewel verwag is dat pryse met minstens 6% sou daal, wat die persentasie is waarmee die rand sedert die sluitingsveiling van die vorige seisoen teenoor die Amerikaanse doller versterk het, het die Merino-aanwyser met net 1,6% teruggesak tot R57,77/kg (skoonwol).
Dit is naby die gemiddelde aanwyser van verlede seisoen. Volgens die kopers was ‘n groot rede vir die goeie vertoning van die mark ‘n groter vraag uit Europa, waar vervaardigingsaktiwiteite in die woltekstielketting begin toeneem het en verwerkers nou besig is om voorraad aan te vul. Voorraadvlakke het verlede seisoen tot ‘n laagtepunt gedaal.
Daar was ook goeie belangstelling uit Indië, wat ‘n groot vetwolinvoerder is. Van die groot uitvoerders na China sê hulle het alternatiewe vennootskappe gesluit wat hulle in staat stel om steeds groot hoeveelhede wol uit te voer.
Alternatiewe vennootskappe
Een so ‘n nuwe geleentheid is die aanleg wat die Europese verwerker Schneider saam met ander verwerkers in Egipte opgerig het en wat teen Oktober vanjaar in produksie sal wees. Suid-Afrika is ideal geleë om wol aan dié meule te voorsien.
‘n Ander ligpunt is dat die Internasionale Monetêre Fonds hoër ekonomiese groei vir die meeste wolverbruikerslande voorspel, wat die vraag behoort te stimuleer. Ekonome sê hoewel die finansiële krisis in Griekeland en swak resultate uit Amerika weer onsekerheid veroorsaak het, bly die vooruitsigte vir dié seisoen gunstig.
Die vraag is watter uitwerking die China-kwessie op die langer termyn op die Suid-Afrikaanse mark gaan hê indien die Chinese nie oorreed kan word om die riglyne van die wêreldorganisasie vir dieregesondheid te volg om nie meer ‘n klaringsertifikaat te vereis nie.
Dit lyk nietemin nie asof die groot uitvoerders nie te bekommerd is nie en reeds gebeurlikheidsplanne gemaak het.
30 Augustus 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)