28 Augustus 2012

406 keer gelees | 0 kommentaar

Die hoë gehalte van plaaslike olyfolies is onlangs gevier toe 19 SA Olive goue medaljes aan Suid-Afrikaanse produkte toegeken is.


Medium-olyfolies het by SA Olive se jaarlikse toekenningsgeleentheid die meeste goue medaljes ingeplam. Nege van die altesaam 19 goue medaljes wat aan die land se voorste olyfolieprodusente toegeken is, is in dié kategorie gewen. Twee van die toekennings het aan Rio Largo gegaan.
 
Luidens ’n verklaring is ’n allemintige 30 silwer- en 8 bronsmedaljes ook by die geleentheid toegeken. Altesame 63 olies is deur 39 produsente vir vanjaar se kompetisie ingeskryf.
 
Mnr. Andries Rabé, voorsitter van SA Olive, sê die kompetisie se resultate word fyn dopgehou.‘‘Die Suid-Afrikaanse verbruiker is toenemend bewus van die hoë gehalte van plaaslik vervaardigde olyfolies en die uitslae van hierdie kompetisie word noukeurig dopgehou.”
 
SA Olive is op die been gebring om die plaaslike bedryf se belange te bevorder en die verbruiker teen olyfolies van ’n swak gehalte of “bedrieglike invoer” te beskerm.
 
Eer aan lewenslange presteerder
By die glansgeleentheid is mnr. Giulio Bertrand, eienaar van die Morgenster-landgoed, met die trofee vir ’n lewenslange presteerder vereer vir sy “onontbeerlike bydrae tot die plaaslike olyfbedryf.” Bertrand, wat in Italië gebore is, het in 1992 die landgoed naby Somerset-Wes gekoop om daar af te tree.
 
Die omgewing het hom egter geïnspireer en vandag produseer hy topgehalte-olyfolie en wyn. Hy is ook verantwoordelik vir die invoer van sowat 90% van die kultivars waarmee Suid-Afrikaanse olyfprodusente boer en hy bedryf ’n olyfkwekery.
 
Bertrand was een van die produsente wat die ondersoek na bedrieglike ingevoerde olyfolie aangevra het. Hy lei professionele olyfolie-proeërs op om die publiek te leer hoe om olyfolies te proe. Terselfdertyd leer hy produsente meer oor afwykings by olywe weens insek-invloed en hoe om metaalagtigheid en galstering waar te neem.
Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/05/13 15/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2790c 2794c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1594c 1583c down -0.7
Skaapvleis A2/A3 4328c 4374c down 1.1
Varkvleis (gem. prys) 1765c 1767c down 0.1
Braaikuikens 1478c 1483c down 0.3

Aandele

Pricecheck Flights