’n Welverdiende prestasie is deur mnr. Kotie van den Berg, ’n afgetrede boer van Murraysburg behaal, aldus Agri Wes-Kaap. Dié voormalige streeksbestuurslid van die organisasie in die Sentraal-Karoo streek is onlangs as die Bewaringsboer van die Jaar vir 2012 bekroon.
Die toekenning word jaarliks toegeken deur die Weidingsvereniging van Suid-Afrika in die provinsie waar die organisasie se jaarkongres plaasvind. Kommersiële en kleinboere kom in aanmerking vir die toekenning. Die doel van die toekenning is om erkenning te gee aan boere wat beste praktyke en beginsels van veld- en weidingsbestuur, en bewaringsbeginsels, toepas.
Betrokkenheid by gemeenskap
Die kriteria vir die toekenning is baie streng en fokus onder andere op voervloeibeplanning, veldtoestande en veldbestuur, vee en of wildbestuur, aangeplante weidings en die algemene netheid van die plaas. Die boer se kennis en gesindheid teenoor bewaring, veral die bewaring van natuurlike hulpbronne, soos grond en water, word ook in ag geneem.
Die boer se betrokkenheid by die gemeenskap en om lede van die gemeenskap in te lig oor die bewaring, tel ook punte.
Van den Berg skryf sy passie vir bewaring toe aan sy grootwordjare, waar hy van kleintyd af deel was van gesprekke oor die onderwerp. Sy kennis oor voervloei, plante, veld- en weiding en ander bestuurspraktyke het die beoordelaars in die besonder beïndruk. Hy is ook passievol daaroor om sy kennis aan die gemeenskap, veral jongmense, oor te dra.
Die organisasie sê hy is baie trots op Van den Berg, “en wens hom van harte geluk met hierdie welverdiende prestasie!”