Deur ALANI JANEKE
23 Oktober 2012
653
keer gelees |
kommentaar
Oestyd by Van Loveren. Foto: LUCILLE BOTHA
Landbourolspelers is vereer deurdat finaliste vir die Boer en Landboukundige van die Jaar aangekondig is.
Dit is weer die tyd van die jaar wat Landbouskrywers SA boere en landboukundiges van Suid-Afrika vereer vir hul bydraes tot die landbou. In aanloop tot die aankondiging van die Nasionale Boer van die Jaar 2012 het die vereniging se streekskantore Vrydagaand, 19 Oktober 2012, die finaliste in die suidelike en noordelike streke aangekondig.
Die doelwit van die kompetisie is luidens ’n verklaring om klem te lê op die rol wat boere, gevestigde en nuweling-boere, en landboukundiges in die landbou speel. “Dit is egter ook belangrik om daarop te let dat die wenners van die eerbewyse ook ’n impak het op die wyer ekonomie van die land sowel as die Suider-Afrika-streek.”
Boere
Die Wes-Kaap se kandidaat vir Boer van die Jaar is mnre. Hennie, Philip, Bussel en Neil Retief, beter bekend as die vier broers van “Four Cousins” van die Van Loveren-wynlandgoed by Robertson. Die eerste van die neefs het die boerdery 1992 betree, en sedert die vier van hulle saamwerk, het Van Loveren se omset met 1 300% gestyg.
In die noorde is vier boere benoem as kandidate. Dr. A.F. Saaijman het tot vier maande gelede net deeltyds geboer. Nou is hy heeltyds boer met twee plase in Gauteng. Hy boer met speenkalwers en verse. Mnr. George Barnard van Limpopo, en sy vrou, Marlene, bedryf ’n uitgebreide saai- en wildboerdery in die Loskopvallei by Groblersdal.
Uit Mpumalanga is mnr. Johan Pistorius benoem. Hy boer sedert 2001 naby Standerton met gewasse en vee. Hy plant mielies, soja- en suikerbone en bedryf ’n Limousin- en Boranstoetery. Oosthuizen Farms is in Noordwes benoem as kandidaat. Die boerdery bestaan uit ’n saaivertakking wat saadmielies, aartappels en droëlandmielies vir die voerkraal lewer, terwyl die veevertakking uit 2 000 aanteelkoeie en voerkraalbeeste bestaan.
Die finaliste vir Nuweling-boer van die Jaar is mnr. Gift Mafuleka vir die noordelike streek, en me. Jacky Goliath van De Fynne Nursery vir die suide. Mafuleka boer op die plaas Leeuwfontein in Gauteng, en sy plaas bied potensiaal vir gewasbesproeiing en die verbouing van groente. Goliath se onderneming gebruik op sy beurt intensiewe boerderypraktyke, soos tonnels, skadunette en gesofistikeerde besproeiingspraktyke om water te bespaar en meer plante te kweek.
Landboukundiges
Vier landboukundiges is benoem as Landboukundige van die Jaar 2012 in die noordstreek. Hulle is dr. John Purchase, hoof uitvoerende beampte van Agbiz, vir Gauteng; dr. Rikus Kloppers, hoof van tegniese ondersteuning vir saadnavorsing by Pannar, vir KwaZulu-Natal; dr. Peter Taylor, ’n vlermuiskenner van die Universiteit van Venda vir Limpopo; en mnr. Johan Jordaan, senior grondkundige vir TerraTech.
In die suidelike streek ding prof. André Agenbag van die Universiteit van Stellenbosch om dié eerbewys mee.
Die nasionale wenners sal op ’n glansgeleentheid op Vrydag, 9 November 2012, by die Indaba Hotel in Johannesburg aangekondig word.