’n Brief is aan mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, gestuur om hom in te lig dat ’n nasionale dag van protes teen plaasmoorde op 1 Desember 2012 sal plaasvind mits hy “met sy traak-my-nie-agtige houding teenoor boere se veiligheid sou voortgaan.”
AfriForum sê op dié dag sal die wrede moorde van mnr. en mev. Attie en Wilma Potgieter en hulle driejarige dogter, Willemien, op ’n plaas naby Lindley in 2010, herdenk word.
Die organisasie sê in ’n verklaring hy is van voorneme om op dié dag 100 memorandums aan polisiekantore in die land te oorhandig. Byeenkomste sal ook in Pretoria en Bloemfontein gereël word, terwyl ’n memorandum oor misdaad terselfdetyd tydens ’n forum oor minderhede by die Verenigde Nasies se hoofkantoor in Switserland voorgelees sal word.
‘Skryf weer aan die Minister’
’n Besluit oor die inisiatief is geneem na ’n telefoongesprek met mnr. Zweli Mnisi, Mthethwa se woordvoerder. AfriForum het Mnisi geskakel om sy voorneme onder die Minister se aandag te bring. Volgens Mnisi kan die inisiatief nie geweier word nie, maar hy het die organisasie versoek om nog een keer oor die onderwerp aan die Minister te skryf.
Mnr. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof, sê hulle het die Potgieter-familie reeds ingelig oor die inisiatief, en die familie het aangedui dat hulle dit steun en betrokke sal wees. Sowat 350 lede van die publiek het ook op die webtuiste, www.stopdiemoorde.co.za onderneem om die projek in hulle gemeenskappe uit te voer. Dít sluit nog nie AfriForum se 100 takke in nie.
“Hoewel daar groot spekulasie oor die presiese plaasmoordsyfer is, is die uniekheid van plaasmoorde op sigself voldoende rede om hierdie misdaad te prioritiseer en ʼn teenstrategie uit te werk,” aldus Roets.