AGri SEB-drempels dalk verhoog. Foto: www.realagriculture.com
’n Ekonomiese studie om die jaarlikse omset-drempels wat in die AgriSEB-Handves vervat is, te hersien, is bekendgestel.
’n Ekonomiese studie sal die jaarlikse omsetdrempels van R5 miljoen, en ook van R5 miljoen tot R35 miljoen, wat in die Agri Swart Ekonomiese Bemagtigingshandves vervat is, hersien.
Dié studie is onlangs deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Agri SEB Handvesraad, aangekondig.
Die studie moet neerpen wat die impak van vrystelling van SEB vir ’n mikro sake-onderneming of boerdery met ’n jaarlikse omset van minder as R5 miljoen is. Die impak van dié bepalings vir ’n kleinskaalse sake-onderneming of boerdery met ’n jaarlikse omsetdrumpel van R5 miljoen tot R35 miljoen, sal ook onder die soeklig kom.
Alle rolspelers kan deelneem
Die raad nooi alle rolspelers in die landbou om by dié proses betrokke te raak en hulle bydraes te lewer. Die studie word deur die Nasionale Landboubemarkingsraad behartig, en dit word hanteer deur PriceWaterhouseCoopers.
Die studie word deur die georganiseerde landbou verwelkom. Mnr. Dawie Maree, senior ekonoom by Agri SA, sê die studie volg ná die raad die drempels vir SEB vir mikro- en klein ondernemings vroeër na R300 000 en R1 miljoen wou verlaag. “Ons vermoed die studie gaan bevestig dat die drempels wat wel in plek is, soos die R5 miljoen, té laag is.”
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, sê hy vermoed die studie gaan aandui dat die laagste drempels tot R8 miljoen of R10 miljoen verhoog moet word. “Ons is bly en dankbaar dat dit gedoen word. Ons hoop boere sal die opnames eerlik antwoord, so dat die werklikheid van winsgrense op plase sal deurkom.”