Die kollig is tans op die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondsake weens onder meer wanbesteding.
Luidens ’n berig in Die Burger (22 Februarie 2012) moes die departement verlede jaar rente van R74 miljoen betaal omdat hy nie gou genoeg geld van grond wat hy gekoop het, oorbetaal het nie.
Mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal, sê dié bedrag word as wanbesteding beskou. Verder is sowat R45 miljoen se onreëlmatige uitgawes verlede jaar deur die departement aangegaan.
Mnr. Temba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), sê sowat R70 miljoen is ook aan rekenaarkonsultante bestee, maar die departement se rekenaarstelsel werk nie.
Shabane het ook in sy OG-verslag aangedui dat werknemers van die departement wat verlede jaar geskors is, hul volle salarisse vir ’n gemiddelde van meer as 60 dae ontvang. Die langste skorsing was vir 759 dae. Die Spesiale Ondersoekeenheid is tans besig met 11 ondersoeke in die departement.
Swak leierskap
Volgens Godi is swak leierskap die grootste probleem binne dié departement. “As ’n mens behoorlike bestuur het, het jy die vermoë om enige probleem te oorkom.”Hy het dit ook as ’n skande bestempel dat die departement ná 17 jaar nie kan aandui hoeveel grondeise reeds verwerk is en hoeveel uitstaande is nie.
Mnr. Lechesa Tshenoli, Adjunkminister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê die departement moet deels die skuld kry vir die stadige vordering met grondhervorming. “Die kapasiteit van die departement is beslis ’n faktor. Maar wat ook duidelik word met die ontwikkeling van die groenskrif oor grondhervorming, is hoe om aandag te gee aan die verwringing van die beleid van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper.
Khoi-San
Intussen het AfriForum Jeug en die Khoi-San-gemeenskap Dinsdag (21 Februarie 2012) voor die departement se kantore byeengekom om eise aan die Regering te stel oor dié gemeenskap se aansprake op die land se geskiedenis en sy voorregte.
“Die Khoi-San maak aanspraak op grond wat aan die staat behoort en bewys daarmee dat die ANC se argument van grondhervorming, wat gegrond is op die beginsel dat die grondhervormingsbeleid slegs poog om die oordrag van grond vanaf ’n wit minderheid na die swart meerderheid te bewerkstellig, uitgedien is.
"Enige gemeenskap kan aanspraak maak op grond in Suid-Afrika, ongeag kleur. Die geskiedenis is in sy geheel die enigste ware maatstaf waarvolgens die kwessie oor grondbesit gemeet kan word,” aldus mnr. Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van die organisasie.
Oberholzer sê die gemeenskap het hulle genader om hande te vat in die stryd om minderheidsregte in die land. “Die geskiedenis is te kompleks om dit by wyse van veralgemening bloot te wil vereenvoudig.
"Swart volke, wat vanuit Wes-Afrika die land binnegetrek het, was die eerste groep wat die Khoi-San se grond gekoloniseer het, maar geskiedenis soos dié asook die geskiedenis rondom Mfcane word geïgnoreer.”
Eise
Die gemeenskap het ’n lys van eise aan die departement gestel:
• Dat die Khoi-San-gemeenskap volgens die Verenigde Nasies se deklarasie vir die regte van inheemse volke as die eerste en oorspronklike inwoners van Suid-Afrika erken word.
• Dat die Khoi-San-gemeenskap erken word in die proses om grondeienaarskap te bepaal en nie verder gemarginaliseer word nie.
• Dat sy aanspraak op grond, wat hoofsaaklik deur die Regering besit word, deurgevoer word.
• Dat Khoi-San-mense nie verder van hul grond afgestoot en verwyder word nie.
Bron: Die Burger
22 Februarie 2012