Die plaaslike eiendomsmark dra lewendig tot die land se ekonomie by, erken die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming in sy halfjaar-oorsig wat pas vrygestel is.
In 2011 het grondtransaksies ter waarde van R409 miljard plaasgevind, waarvoor verbande ter waarde van R1,1 biljoen toegestaan is. Sedert 2007 is eiendomsoordragte ter waarde van bykans R2,8 biljoen geregistreer, waarin finansiële instellings verbande van bykans R12 biljoen hou, sê die departement.
Veranderinge in die titelakte-kantoor word beoog om die huidige registrasietyd van sewe dae te verminder tot twee.
Die departement het tot dusver 54% (623 078) van 1 155 508 stukke staatsgrond in 'n omvattende grondregister bygewerk en hoop om die oudit teen einde Junie af te handel. Dié syfers het slegs betrekking op staatsgrond wat opgemeet en geregistreer is en sluit nie onopgemete en ander grond in staatsbesit in nie, word in die verslag gesê.
Hoofsaaklik salarisse
Die departement het tot dusver meer as R44 miljoen aan hoofsaaklik salarisse, verblyf en vervoer vir personeel en veldwerkers vir die oudit gespandeer.
Die verslag gee 'n oorsig van die uitdagings en suksesse oor die afgelope drie jaar sedert die departement tot stand gekom het nadat dit in 2009 geskei is van die Departement van Landbou. Dit erken dat begunstigdes van grondhervorming "gedoem was tot mislukking" soos die proses uit die staanspoor aangepak is, maar dat die nodige stappe gedoen word om dit reg te stel.
Vakante poste het van 16,7 % gedaal tot 10,51% en R21 miljard (96,3 %) van die totale begroting van R21,8 miljard oor drie jaar is bestee.
Altesame 1 807 mislukte grondhervormingsplase word oor 'n tydperk van vyf jaar met behulp van die herkapitalisering- en ontwikkelingsprogram (RADP) reggeruk met finansiering van 100% in die eerste jaar wat geleidelik afneem tot 20% in die vyfde jaar. Die verslag meld egter nie wat die koste gaan beloop nie.
Vennote en mentors
Die departement gaan die stelsel van strategiese vennote en mentors vir dié plase hersien en eerder swart boere met ondervinding registreer om dié rol en verantwoordelikhede oor te neem weens die huidige strategiese vennote en mentors se "gebrek aan begrip vir die RADP". Begunstigdes gaan voortaan by die kontrakte betrek word, eerder as om die normale tenderprosedure te volg.
Die verslag meld ook dat 1 348 gevalle van uitsettings waarby 22 895 grondbewoners betrek is deur die regsdienste van die departement se grondregte-bestuureenheid verwys is. Van dié sake is 645 afgehandel en die res nog in die howe.
Volgens die verslag is skaars vaardighede steeds een van die departement se grootste probleme en is talle opleidingsprogramme in werking gestel sodat dit die nodige aandag kry.
22 Mei 2012