Die vraag kan tereg gestel word wat die werklike politieke agenda van die Minister van Landbou is en of sy reg geadviseer is ten opsigte van die dokument vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou wat onlangs bekend gestel is.
Dr. André Louw van die departement landbou-ekonomie en landelike ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria het op die kongres gesê daar was tot dusver 'n groot mate van welwillendheid by kommersiële boere om nuwe boere te help. "Die dokument van 26 Julie het dit geskaad. Dit was polities opportunisties en dit is krities dat die vertrouensverhouding tussen die landbou en die Regering herstel word."
Hy sê die landbou moet nie as dié oplossing vir welvaart gesien word nie. "Om grond te hê, is nie gelyk aan rykdom nie."
Groter realisme is nodig wat grondhervorming betref, ook die finansiering daarvan. "Die vraag is of grondhervorming werklik vraaggedrewe is en of alternatiewe metodes van grondbenutting en welvaartskepping nie ondersoek moet word nie."
Louw sê die beskerming van eiendomsreg (ook ingevolge die Grondwet) en die vryemarkstelsel is van die uiterste belang en is tans kwesbaar. "Die owerheid staan voor die belangrike uitdaging om 'n balans te kry tussen ekonomiese realisme en politieke druk.
"Suid-Afrika is een van sewe lande wat 'n netto uitvoerder van voedsel is. Hierdie rol bly belangrik as ontwikkelende land."
Hoewel die primêre landbou se bydrae tot die BBP 4 % beloop, styg dit tot soveel as 25 % as skakelingeffekte in aanmerking geneem word.
Die gebrekkige sukses van regstellende grondhervormingsprojekte kan die ekonomie bedreig as dit nie reg bestuur word nie. Die volhoubaarheid van die kommersiële landbou het in die laaste paar jaar onder besondere sterk druk gekom, terwyl dit 'n strategies belangrike rol het om te speel.
Verskeie Afrika-lande is besig om kommersiële boere van Suid-Afrika in hul lande te vestig omdat dit tot hul deurgedring het dat die hoë pryse van ingevoerde voedsel 'n negatiewe impak het op die stabiliserende invloed van 'n gesonde landbou-omgewing.
Louw sê die wêreld se ekonomiese fokus is nie meer op Afrika nie. "Suid-Afrika verloor tans fokus en mededingendheid omdat hy sterk fokus op binnelandse politiek."
Hy sê as na oplossings vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou gekyk word, moet erken word dat die onbillike verdeling van eienaarskap van grond 'n ernstige en emosionele kwessie is en dat transformasie in die landbou 'n betekenisvolle gesindheidsverandering verg.
Hy het aan die kongres gesê die TLU SA moet selfondersoek doen om die waarde van sy bydrae te bepaal. "Dit is noodsaaklik dat u deel van die proses bly, voortydig optree en 'n nuwe beeld vir landbou help skep.
"Oorweeg die opstel van 'n eie handves vir die landbou vir die toekoms — u kan so 'n belangrike bydrae lewer."
- Die TLU SA het verlede week begin om 'n handves op te stel.
17 September 2004