|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Duskant Pofadder in die Noord-Kaap het 'n merkwaardige weduwee
en haar seun 'n boerdery gevestig wat lyk of dit een van die min
grondhervormings-ondernemings is wat stewig op die pad na kommersiële
sukses is.
Die kodes vir veeboerdery in die Boesmanland staan in haar gene geskryf, want mev. Anna Bock stam uit die Raman-boerefamilie van Pella.
Jy kan Anna niks vertel van agter weiding aan trek of pieperige lammers deurhaal in dié ongenaakbare wêreld nie. Sy is 'n rateltaai 69 jaar oud en boer heeltyds - die afgelope 14 maande die eerste keer op haar eie plaas, Caboob, buite Pofadder.
Sy en haar kinders het die grond 'n bietjie meer as 'n jaar gelede met 'n grondhervormingsubsidie gekoop. En boere van die omgewing wat weet, sê dié weduwee is die één boer wat, droogtes ten spyt, die groot grondskuld sal uitboer.
Die Bocks is sover bekend die enigste voorheen benadeeldes in die hele distrik Namakwaland wat nog suksesvol op 'n sogenaamde LRAD-plaas boer. Die Departement van Grondsake se program vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling is op die vestiging van kommersi-ele boerderye gemik, en begunstig nie die vestiging van groot groepe nie.
Anna is op Pella, die geskiedkundige Roomse sendingstasie aan die Oranjerivier anderkant Pofadder, gebore. Daar het sy met Karakoelboerdery ("die swartskape") grootgeword. Haar storie is een van vasbyt, dikwels sukkelend op die trekpad om haar veekudde aan die lewe te hou en te laat uitbrei.
Anna se eie boerdery het sy in 1962 begin toe sy met Willem Bock getroud is. Haar pa het as bruidskat vir haar 50 stuks vee van sy eie werf gegee. Willem moes op die myn naby Pella gaan werk om die pot aan die kook te hou, want sy skoonpa se trougeskenk was nie genoeg om 'n bestaan mee te maak nie.
Anna en haar kinders moes die boerdery alleen behartig. Hul werf was op Pella se kommunale grond, maar hulle het gereeld tussen die wit boere se plase agter weiding aan in ruil vir werk getrek. "En ons moes wérk," vertel Anna. Tussendeur het sy vyf kinders grootgemaak.
Anthony, Anna se seun wat saam met haar boer, onthou goed hoe hulle in 1992 rondom Caboob met die vee getrek het. Min het hulle toe kon droom dat hulle eendag self dié plaas sou besit.
"Die wapad was ons tuiste. Ons kon vandag al ver gewees het as ons net ons eie grond gehad het. Maar ons het nooit dié voorreg gehad nie," sê Anna.
Sukkel en van voor af begin, ken hulle goed; die Boesmanland is immers vir sy uitmergelende droogtes bekend. Maar nooit het hulle moed opgegee nie. Dit het een jaar selfs só swaar gegaan dat Anna ál haar vee moes verkoop. "Toe's daar nie meer plan nie. Maar toe dit reën, het ons bont skapies begin inkoop en maar weer opgestaan."
'n Paar jaar gelede het hulle sterk vooruit begin boer nadat die Regering bykomende plase by Goodhouse vir die Pella-boere se gebruik beskikbaar gestel het. Anna het só 'n groot kudde opgebou dat sy selfs moes uitdun toe hulle uiteindelik Caboob toe trek.
Die aanhoudende gehaper van kommunale boerdery het die Bocks egter so drie jaar gelede finaal laat besluit om hul eie plaas te probeer koop. "Gemeenskapsboerdery bly maar 'n probleem. As 'n pomp breek, wil niemand hom regmaak nie, en as 'n pyp gekoop moet word, het niemand geld nie," sê Anthony.
Hulle het gehoor dat Caboob in die mark gaan kom en het die eienaar, mnr. Harm Steenkamp, gaan sien. Hy was hulle só goedgesind dat hy die plaas twee jaar vir hulle gehou het terwyl hulle deur die tydsame burokratiese proses gesukkel het om die grondhervormingsubsidie en lening van die Land Bank te bekom. Hy het selfs die munisipaliteit van Pofadder afgeweer, wat die plaas eerder vir symeentgrond-kleinboere wou koop.
Uiteindelik het Anna en haar drie seuns Caboob as beslote korporasie gekoop.
Toe hulle die plaas 14 maande gelede betrek, was dit 'n droom van baie jare wat waar geword het. Hulle het vier dae van Goodhouse af padlangs met hul vee getrek, want geld vir aanry was daar nie. "Dit was 'n harde trek, maar die aand toe ons hier aankom, was ek darem nie te moeg om op my knieë te val en die Liewe Heer te dank dat my oorlede man se wens vervul is nie," vertel Anna.
Daar was nog nie tyd vir 'n partytjie om te vier nie, want van die begin af moes hulle krom staan om hul boerdery eiehandig te hervestig. Die plaas van bykans 5 000 ha was in 'n droogtegreep toe hulle daar intrek. "Hier was niks (kos) toe ons hier kom nie, maar gelukkig was dit net 'n maand toe kry ons baie goeie reën."
Water is steeds hul grootste probleem. 'n Groot deel van die weiding kan nie benut word nie omdat daar nie water in ál die kampe is nie. Hulle het intussen R15 000 vir 'n sonpomp opgedok, maar dié is nie kragtig genoeg om die boorgatwater ver genoeg te pomp nie.
Hulle sê hulle het nog geen betekenisvolle hulp van die Departement van Landbou en Grondsake gekry sedert hulle die plaas betrek het nie. Amptenare het hulle al twee keer besoek, maar nog nooit weer van hulle laat hoor nie. Die een het al maande gelede belowe dat hy vir hulle twee groter sonpompe sal probeer kry.
Hul bedryfskapitaal is maar skraps weens die groot lening wat afbetaal moet word. Die onlangse verhoging van die Land Bank se rentekoers het hulle boonop hard getref. Anna moes ook 'n polis uitneem sodat haar kinders nie met die skuld hoef te sit as sy sou sterf nie.
Dit is duidelik dat die Bocks nie gou kla nie; daarvoor is hulle waarskynlik te gewoond aan sukkel en self sorg.
"Ons wil vir die Regering dankie sê dat hy ons van die swerfpad verlos het," sê Anna.
Hulle sê egter ook die departement behoort beslis meer nasorg aan die begunstigdes van grondhervorming te gee. "Hulle moet ten minste gereeld kom kyk hoe dit gaan, en nie sommer besluit dis onnodig omdat ons boerdery ken nie."
Hulle sal graag wil uitbrei, maar kan nie voordat die waterprobleem opgelos is nie.
Vra Anna of sy glo hulle sal 'n sukses maak, en sy antwoord soos enige opregte Boesmanlander: "Dit hang mos maar van die droogte af."
Net oor een ding is sy spyt: Dat haar man, wat vier jaar gelede oorlede is, nie saam met hulle hul eie plaas betrek het nie. "Hy het 15 jaar gesoek om vir ons ons eie grond te kry. As hy maar kon weet." sê sy.
Nasorg is 'n probleem
Die Departement van Grondsake het nooit plaaslike amptenare van die Departement van Landbou van mev. Anna Bock se grondhervorming-transaksie in kennis gestel nie, beweer 'n ingeligte.
As Landbou van die begin af in die saak geken en betrokke was, sou hulle heelwat doeltreffender hulp kon verleen, sê dié ingeligte. Landbou-amptenare is glo nooit gevra om die plaas byvoorbeeld vooraf te evalueer nie.
Voorts het dié departement, met sy plaaslike streekkantoor in Springbok, nie meer genoeg veldpersoneel om behoorlike nasorg aan begunstigdes van grondhervorming, soos die Bock-gesin, te gee nie, verneem Landbouweekblad.
Aansoek is wel gedoen om die finansiering van 'n groter sonpomp vir die gesin, maar geld daarvoor is nie onmiddellik beskikbaar nie.
Mnr. Obed Mvula, provinsiale direkteur van Grondsake, sê egter dit is moeilik om te glo dat die Departement van Landbou nie oor die Bock-gesin ingelig is nie. Verteenwoordigers van Landbou dien saam met verteenwoordigers van Grondsake, die Land Bank en ander belanghebbendes in die komitee wat alle hervestigingsprojekte in die provinsie goedkeur.
"LRAD is 'n gesamentlike program van die Departement van Landbou en van Grondsake. Hulle (Landbou) vorm in opdrag van die minister deel van die proses van goedkeuring."
Mvula is bekommerd dat daar huiwering aan die kant van voorligters is om by grondhervormingsprojekte betrokke te raak.
18 Maart 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24