|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Met 'n gediversifiseerde boerdery, net die allernodigste infrastruktuur, innoverende denke en 'n goed beplande kontantvloei-inkomste, is bemagtiging op die regte pad. As alle betrokkenes se voortbestaan boonop van die welslae van die projek afhang, is bemagtiging op 'n seker wenpad.
Vars water wat onbenut wegloop see toe het twee boere van
Lutzville, in die Wes- Kaap, se geesdrif vir 'n nuwe uitdaging aangevuur. Hulle
en hul plaaswerkers het die afgelope vyf jaar lae-inkomste-weidinggrond omgeskep
in 'n hoogs intensiewe wingerd- en groenteboerdery. Ongeag vele struikelblokke
is 68 ha edel-wyndruifwingerde gevestig, en 110 ha groente verseker 'n
kontantvloei.
Van die Olifantsrivier se monding by Strandfontein aan die Weskus stoot seewater tydens hoogwater in die rivier op en in die somer is die rivierwater verbrak. In die winter, ná sterk reën by die oorsprong en in die sylope, het die rivier egter vir ten minste twee maande lank vars water (gewoonlik Julie en Augustus).
Mnre. Jan Louw, 'n boer en ingenieur, en Truter Lutz, 'n boer en agripreneur, het besef dat dié water ekonomies benut kan word. Hulle het 550 ha weiveld langs die rivier gekoop en met die Departement van Waterwese onderhandel vir toestemming om 'n dam te bou.
Hulle het 'n maatskappy, Lutouw Estate, met 27 van hul plaaswerkers gevorm en sodoende 'n ou droom begin vervul, naamlik om terug te ploeg in hul mannekrag.
Die werkers het die Omasa-trust (wat saamstaan beteken) gestig en hulle besit 40 % van die aandele. Lutz en Louw besit 50 % en die Oliphants-beleggingsgroep 10 %.
Finansiering vir Omasa was 'n opdraende stryd weens die wantroue in die slaagsyfer van bemagtigingsprojekte. Uiteindelik het mnr. Marthinus Saunderson sy vertroue in die projek uitgespreek en die Suid-Afrikaanse Wynbedryfstrust het die werkers se aandele gefinansier.
Die Departement van Waterwese het daarop finansiering gegee vir die trust se gedeelte van die dam se boukoste. In 2000 is die dam gebou.
Die Lutouw Estate lê tussen Koekenaap en die see en vergelyk klimatologies en geografies met die beste wynproduserende gebiede in die Wes-Kaap. Dit is net 5 km van die koue Atlantiese oseaan af. Vanweë die heersende suidwestelike winde beweeg koel, onbesoedelde lug voortdurend oor die plaas. Dit bring mee dat wyndruiwe van 'n uitsonderlik hoë gehalte geproduseer kan word.
Die vestiging van wingerd is egter baie duur en daarom is groenteverbouing noodsaaklik vir kontantvloei. Daar word tans 110 ha groente verbou. Patats en spanspekke word vir die uitvoermark gekweek. Verder word wortels onder spilpunte verbou vir 'n Johannesburgse varsprodukte-aanleg en tamaties word tot in Durban gelewer. 'n Ander belangrike gewas is uie.
Met 'n gesonde kontantvloei, 'n Khula-lening en 'n meer onlangse korttermynlening vir bedryfskoste, is daar mettertyd 68 ha edel-wyndruifkultivars, hoofsaaklik Sauvignon blanc, Pinot noir, Cabernet sauvignon en Shiraz, gevestig.
Die eerste druiwe is vanjaar geoes. Dit is in verkoelde vragmotors vervoer na bekende wynkelders in die Boland. Een prominente wynmaker is baie geesdriftig oor die aromatiese stowwe wat as gevolg van die koel seeklimaat so goed figureer. Daar word gretig uitgesien om die eerste wyn van die Lutouw Estate te proe.
Louw meen 'n groot deel van hul welslae kan daaraan toegeskryf word dat die boerdery so groot en gediversifiseer is. ''Omdat die landbou so mededingend is en daar geen subsidies is nie, moet 'n mens diversifiseer ten opsigte van produk, produksietermyn en markte. 'n Boerdery moet egter groot genoeg wees om dit te kan bewerkstellig.''
Mnr. Gus Pickard, wat as mentor-bemiddelaar vir die
werkers aangestel is, sê die bemagtiging van die werkers ten opsigte van kennis is 'n belangrike faktor. Die werker-aandeelhouers woon geletterdheidsklasse by, asook lesse in basiese boerderyfinansies en wingerdboupraktyke. In Mei gaan hulle die Vineyard Academy se tweedevlak-wingerdboukursus bywoon.
Pickard en die hoof uitvoerende beampte verduidelik maandeliks die boerdery se inkomste en uitgawes aan die aandeelhouers. Die voorsitter van die Omasa-trust, me. Susan Richards, is een van Lutouw se direkteure en woon direksievergaderings namens die trust by.
Die Lutouw Estate word tans as een van die mees geslaagde bemagtigingsprojekte in Suid- Afrika beskou. Verskeie instansies, selfs in Amerika, het al die projek kom bestudeer as 'n werkende voorbeeld van 'n groep mense uit uiteenlopende agtergronde wat saamwerk aan 'n ideaal.
Die projek se welslae is geskoei op wedersydse vertroue en opregte bedoelings. Verder is dit belangrik om te besef dat bemagtiging in die landbou net kan werk as werkers deel vorm van 'n ekonomiese eenheid met volhoubare winsgewendheid. Terselfdertyd moet hulle op ekonomiese en bestuursgebied gelei word tot onafhanklike besluitneming, terwyl hul kennis en begrip van hul beroep uitgebou word.
Dié riglyne kan welslae bevorder
Hoewel elke bemagtigingsprojek uniek is, is daar sekere faktore wat die welslae van 'n projek kan verseker, sê mnr. Jan Louw van die Lutouw Estate.
'Hulp is min, en deure toe'
Bemagtiging is nie 'n maklike pad om te loop nie, sê mnr.
Jan Louw, een van die aandeelhouers in die Lutouw Estate. ''Hulp is min en baie
deure is toe.''
Die geskiedenis van mislukte bemagtigingsprojekte in Suid-Afrika het 'n atmosfeer van skeptisisme veroorsaak, en daarmee saam 'n onvermydelike stremming in grondhervorming. Die mededingendheid van die landboubedryf het al verskeie kleinboere se ondergang beteken omdat volhoubare winsgewendheid onmoontlik is op té klein stukkies grond.
Handelsbanke bejeën bemagtigingsprojekte in die landbou met agterdog en beskou dit as hoërisiko-ondernemings. Lenings vir bedryfs- en produksiekoste word baie moeilik toegestaan. Die ontwikkeling van die Lutouw Estate het derhalwe baie eie kapitaal van kredietwaardige aandeelhouers vereis.
Burokratiese rompslomp en gebrekkige hulp van regeringskant is nog 'n struikelblok. Dit het die Lutouw Estate se geesdriftige aandeelhouers aangemoedig tot oorspronklikheid.
Terwyl plaaslike en streek-owerhede al drie jaar lank twis oor waar 'n plaasdorp gebou mag word, is verskuifbare houthuisies intussen opgerig. 'n Gebruikte pakhuis is opgerig en netjies toegebou.
Verder het 'n plaaslike werktuighandelaar 'n trekker teen kosprys aan een van die aandeelhouers verkoop. Hy verrig plaaswerk teen 'n tarief wat hom in staat stel om sy trekker se paaiemente self te betaal. Wingerdvestiging word moontlik gemaak met kontantgewasverbouing. Die 27 werker-aandeelhouers het al kool in hul vrye tyd (bykomend tot hul bestaande plaaswerk) verbou vir 'n ekstra inkomste.
Die grootste uitdaging is waarskynlik die gebrek aan beskikbare kennis en inligting oor geslaagde prosedures vir bemagtiging. Dit is dikwels soos om in die donker op 'n onbekende pad te loop met net 'n lantern in die hand. Wanneer ou en nuwe grondeienaars egter kommersieel geslaagde vennootskappe sluit, is die bemagtiggingspad na grondhervorming rooskleurig. Daarvan kan elke aandeelhouer van die Lutouw Estate met oorgawe getuig.
23 April 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24