|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Die Regering en die regering van Kwazulu-Natal het nog min bygedra tot die oplossing van 'n onwettige grondeis. 'n Groep boere het 'n dringende hofbevel aangevra om te keer dat hul plase oorgeneem word.
Die spanning loop hoog onder boere in die distrik Vryheid in die noorde van Kwazulu-Natal nadat 17 van hulle 'n dringende hofbevel moes kry teen 'n man wat beweer hy is die hoof van die Othaka-stam in die gebied. Dié man het ook te kenne gegee dat van die plase in dié omgewing aan hom behoort en dat hy en sy stam op 1 April daarop sou begin boer.
Uitsettingsbevele moes ook verkry word nadat mense op drie van die plase begin plak het.
Volgens mnr. Jaco Duminy van die plaas Goedgedacht en voorsitter van die Vryheid-boerevereniging, wie se plaas een van die 20 is wat in die gedrang is, het mnr. Jabulani Mdladose, wat voorgee dat hy die stamkaptein is, 'n brief aan die direkteur van grondsake van Kwazulu-Natal se wetgewer geskryf waarin hy aanspraak maak op 20 plase in die omgewing.
Brief
Hy gaan dan voort om te sê dat hulle saamspan met die Kwazulu-Natal Koöperatiewe Beweging, die Kantoor van die Premier, die Amerikaanse departement van landbou, New Vision Ministries, die universiteite van Minnesota en Iowa in Amerika, die Europese Unie, 'n Duitse instansie en verskeie ander vennote. "Soos sake nou staan, het landboutoerusting pas per skip in die Durbanse hawe aangekom," het hy bygevoeg en lys van die 20 plase aangeheg, kompleet met onderverdelings en nommers.
Volgens mnr. Duminy het die boere onlangs eers van die storie te hore gekom toe iemand in die kantoor van die direkteur van grondsake in Pietermaritzburg 'n afskrif van die brief aan hom besorg het. Van regeringskant is geen word aan hulle gerep nie. Daar was min tyd oor voor 1 April en hulle was verplig om 'n dringende hofbevel aan te vra om te keer dat hul plase oorgeneem word.
Daar steek geen waarheid in die bewering dat die plase leeg lê nie, het hy gesê. Hulle boer al geslagte lank daar. Daar is wel een van die plase wat nie bewerk word nie. Dié plaas is deur mnr. Niel Prinsloo, wat sy boerdery gestaak het, aan die destydse Landboukredietraad teruggegee. Dié raad bestaan nie meer nie en dit lyk of niemand weet wie die wettige eienaar van die grond is nie. Daar het in die onlangse tyd verskeie Zoeloestatte op die plaas verrys.
Twee ander plase wat nie deur hul eienaars bewoon word nie, word gehuur deur boere wat ook grond in die omgewing besit. Op dié plase het ook nou statte ontstaan en die boere het uitsettingsbevele gekry teen die mense wat daarop kom woon het.
Die hele aangeleentheid het 'n redelik lang aanloop, het mnr. Duminy gesê. Dit het in die vroeë 1990's begin toe die vorige stamkaptein 'n opvolger moes aanwys.
Volgens mnr. Johannes Mdlalose, broer van mnr. Jabulani Mdlalose, is hy die eintlike stamhoof. Sy vader het in 1994 vir Jabulani, wat die oudste is, as sy opvolger aangewys. Hy het egter weens dreigimente teen sy lewe na Johannesburg gegaan waarna Johannes as stamhoof aangewys is. In 1995, ná hul vader se dood, het Jabulani teruggekom en die stamhoofskap opgeëis. Sedertdien is daar die vete tussen die twee broers - met die boere in die omgewing in die spervuur, sê mnr. Duminy.
Mnr. Johannes Mdlalose sê hy is die wettige stamhoof en dat sy broer vreemdelinge gebring het om hom te steun. Hy beweer hy ken nie die mense wat in die sowat 20 statte op die drie plase begin plak het nie. Dit is nie van sy mense nie, het hy gesê. Hy het gevolglik saam met die boere in die omgewing die hofbevel teen sy broer aangevra om hom te verhoed om die plase te beset.
Hy het ook aan gesê hy het geen probleem met die blanke boere in die omgewing nie. Talle van sy stamgenote werk by boere op die plase. Hy is ook tevrede met die grond wat hy het. Van die blankes se plase wat destyds beskikbaar was, is nog in die tyd van mnr. Derek Hanekom, toe Minister van Landbou, uitgekoop en aan hulle gegee vir bewoning.
Mnr. Duminy sê die toestand raak onhoudbaar. Boere word gedreig en geïntimideer deur mnr. Jabulani Mdlalose.
Een van die boere, mnr. Johan Birkenstöck van die plaas Forlornhope, het gesê mnr. Jabulani Mdlalose het al by verskeie geleenthede by hom op die plaas in 'n bussie vol mense opgedaag en aan hom gesê hy vat die plaas. Hy het gesê mnr. Birkenstöck kan steeds op die plaas bly, maar daar sal mense met hul beeste saam met hom op die plaas geplaas word.
Mnr. Duminy het ook gesê die boere weet nog nie presies hoe hulle die saak gaan oplos nie. Dit lyk of die regering in Kwazulu-Natal nie weet wat om te doen nie, terwyl die Departement van Grondsake se amptenare net skouers optrek en sê dat dit nie wettige grondeise is nie - die departement kan dus nie betrokke raak nie.
18 April 2003
In die brief, gedateer 17 Februarie 2003 en waarvan 'n afskrif in Landbouweekblad se besit is, skryf mnr. Mdlalose soos volg: "Hiermee stel ons u in kennis dat die grond wat die vorige regering in 1986/87 aan ons vir hervestiging teruggegee het en vir die afgelope 15 jaar leeg gelê het terwyl ons geld vir die ontwikkeling daarvan bymekaar gemaak het, vanaf 1 April 2003 deur ons vir boerdery gebruik sal word."
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24