“Ons sal graag ‘n amptelike aansoek van die plaaswerkers wil ontvang sodat ons kan besluit wat die beste manier sal wees om die saak aan te spreek.”
Dít is die reaksie van me. Paula Mongae, hoofdirekteur van die Noordwes se departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling, na aanleiding van ‘n groep plaaswerkers se gesukkel om ‘n plaas te koop buite Klerksdorp as deel van die hervormingsproses.
Mnr. Donovan Webster, eienaar van die plaas, sê sy plaaswerkers het hom genader om die plaas te koop kort nadat hy dit op die mark geplaas het.
Kredietwaardigheid 'n probleem
Die probleem lê daarin dat die werkers ‘n deel van die plaas se koste self moet finansier, sê Webster. Hy het die Land Bank oor die kwessie genader, maar die bank het bevind dat die werkers nie kredietwaardig is nie en dus nie lenings sal kan bekom nie.
“Hoe kan ‘n plaaswerker kredietwaardig wees? Wat kan ek sê, dit voel vir my die proses en beleid voorsien nie vir plaaswerkers wat graag grond wil koop nie. Wat is grondhervorming dan as dit nie arm mense kan help om hulle eie grond te koop nie?”
Reaksie van die departement
Mongae sê hulle het nog geen amptelike aansoek van Webster of die werkers gekry nie, wat dit moeilik maak om ‘n oplossing vir die probleem te vind. Sy sê daar heers ook onsekerheid oor die waarde van die plaas nie.
Volgens haar departement se syfers word die waarde van die plaas op sowat R9,9 miljoen beraam, met bykomende toerusting van sowat R4,6 miljoen, en ‘n algemene waarde van sowat R11 miljoen. “Die dilemma hier is hoeveel die plaas werklik werd is, met of sonder toerusting.”
Sy’t verder opgemerk dat die departement nie Webster se voorstel van ‘n verband kan aanvaar nie, aangesien dit nie aan internasionale bankregulasies voldoen nie. Volgens Mongae het dié proses al menige plaaswerkers bygestaan om suksesvol grond van hul eienaars te koop.
“Om mee af te sluit, ons benodig ‘n amptelike aansoek aan die departement om te kan bepaal hoe om die situasie op te los.”
23 Maart 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)