|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
'n Laer kunsmisrekening en gewasse wat droogtes beter weerstaan, is
moontlik as 'n boer sy ondergrondse geldverdieners reg bestuur. Erdwurmgetalle
is 'n goeie aanduiding of 'n boer hierdie wurms reg bestuur.
Hoe hoër die biologiese vrugbaarheid van hul grond is, hoe minder sal boere vir kunsmis hoef te betaal. Omdat kunsmis op die meeste akkerbouplase die hoogste enkele uitgawe is, is dit vir boere beslis die moeite werd om hul aandag op die herstel van die biologiese vrugbaarheid van hul grond toe te spits.
Daar kan gevra word hoe om biologiese vrugbaarheid te meet, en wat die optimum vlak is waarna daar gestreef moet word. Die volle antwoord hierop is ingewikkeld omdat 'n groot aantal biologiese aspekte 'n rol speel, wat aansienlik van plek tot plek wissel.
Gelukkig kan hierdie ingewikkelde vraag tot net twee basiese maatstawwe gereduseer word. As 'n boer net na die erdwurmgetalle en humusvlakke in sy grond kyk, sal hy ver vorder op die pad na 'n biologiese boerdery wat meer winsgewend en minder riskant is.
Dit is verbasend hoeveel boere hulle glad nie aan die erdwurmpopulasie van hul grond steur nie. Oudstryders kan getuig dat daar baie erdwurms te vinde was toe hul pa of oupa hulle lande met osse omgeploeg het. Die feit dat die erdwurms verdwyn het, skeel hulle oënskynlik nie juis veel nie.
In die lig van die waardevolle rol wat erdwurms speel om die grond te verbeter en die boer se wins op te stoot, is dié traak-my-nie-agtige houding onverstaanbaar.
Baie inligting oor erdwurms kan deur middel van die
internet verkry word. Daar is ook 'n uitstekende boekie met inligting oor
erdwurms te kry, met die titel The Farmer's Earthworm Handbook. Die
boekie het 'n baie betekenisvolle subtitel, naamlik Managing Your
Underground Money Makers
.
Baie boere glo steeds nie dat erdwurms meer geld in hul sak sal bring nie. Daar is egter vele redes en ook praktiese bewyse dat dit wel so is. Erdwurms kan byvoorbeeld 'n groot bydrae lewer tot 'n doeltreffender benutting van Suid-Afrika se swak verspreide reënval, 'n faktor wat al dikwels tot misoeste en groot verliese gelei het. Die swak verspreide reën word dikwels gekenmerk deur donderstorms, wat gewoonlik gepaardgaan met aansienlike verliese as gevolg van water wat afloop, en ook erosie.
Erdwurms beweeg voortdurend op en af in die grond en skep sodoende waterafloopkanale in die grond. Dié kanale het 'n wesenlike impak op hoe vinnig die water die grond binnedring. Waar daar genoeg erdwurms in die grond is, sal die kanale wat hulle maak die absorbsievermoë van die grond aansienlik verbeter en die afloop verminder.
Die vermoë van grond met voldoende erdwurm-waterkanale om groot hoeveelhede water te absorbeer voordat daar enige afloop is, is onlangs goed geïllustreer op 'n plaas naby Winterton. Hier het 'n spilpunt in die afgelope seisoen vasgehaak en dwarsdeur die nag vir bykans 12 uur water op een plek toegedien.
Die boer het bereken dat daar op die punt van die spilpunt (die laaste toring) bykans 150 mm toegedien is en tog was daar geen afloop nie. Dit is omdat daar voldoende erdwurmkanale in die grond was wat die grond se vermoë om water op te neem, verbeter het. Dié hoë vlak van erdwurmaktiwiteite kan toegeskryf word aan die bewaringsbewerking wat hy toepas.
Dit is ook bekend dat daar 'n sterk verband is tussen die aantal erdwurms en die krummelstruktuur van die grond. Hier speel erdwurms 'n regstreekse en 'n onregstreekse rol. Hulle skei 'n soort gom (slym) af wat die kleiner grondkorrels aan mekaar laat vassit, en wat die grond 'n krummelstruktuur gee.
Erdwurms se indirekte rol spruit uit die feit dat die slym wat agtergelaat word, as 'n voedselbron vir mikro-organismes dien. Die erdwurmtonnels sorg ook vir voldoende suurstof sodat die mikro-organismes in die grond kan floreer in hul taak om voedsel aan die plant te voorsien.
Dit is nie algemeen bekend dat bakterieë 'n baie sterk en elastiese gom afskei nie. Dié gom kan 'n beduidende bydrae tot die grond se struktuur lewer. Me. Elaine Ingham, een van die wêreld se voorste kenners op die gebied van praktiese grondmikrobiologie, sê dat wanneer die bakterietelling in die grond optimaal is, is dit byna onmoontlik om die grond te kompakteer. Weer word gewys na erdwurms se invloed op die doeltreffende opname van reënwater en die grond se waterhouvermoë.
Waar deklaagbewerking toegepas word, speel erdwurms 'n onmisbare rol om die organiese materiaal wat bo-op die grond lê, die grond in te neem. Dit word dan daar afgebreek om die voedingstowwe daarin vir die volgende aanplanting beskikbaar te stel. Erdwurms speel 'n verdere rol in die verryking van die grond: Hulle bring minerale van diep in die grond boontoe waar dit deur die haarwortels van die plante opgeneem kan word.
As 'n mens van getalle praat, sê mnr. Garry Zimmer, skrywer van The Biological Farmer, hy is tevrede as hy sowat 16 erdwurms in die lente en herfs vind in 'n vierkantige gat wat so groot soos 'n spitgraaf is. Die klimaat, grond en bedekkingsgewasse speel egter 'n groot rol in die bepaling van die aantal erdwurms. Die meegaande tabel uit mnr. Zimmer se boek toon hoe verskillende gewasse of weiding en verskillende bewerkingsmetodes 'n groot invloed op erdwurmgetalle kan hê. Hoe meer intensief die grond bewerk word, hoe minder erdwurms is daar in die grond.
Hoe meer 'n boer dus sy erdwurmpopulasie tot 'n gesonde vlak "teel", hoe minder kunsmis hoef hy te gebruik. Sy gesaaides sal ook droogtes beter kan weerstaan.
|
face=Arial size=2>Die invloed van bewerkingsmetodes en gewaskeuse op erdwurm- |
||
|
face=Arial size=2>Gewas of weiding |
face=Arial size=2>Bestuurspraktyk |
face=Arial size=2>Erdwurms |
| Mielies, geen wisselbou |
Ploeg Geenbewerking |
10 |
| Sojabone, geen wisselbou |
Ploeg Geenbewerking |
60 |
| size=2>Gras-klawerweiding | Bewei |
size=2>400 |
| Kikoejoeweiding, swaar bemes |
Swaar bewei |
1 |
Forums kan boerdery op geld-pad plaas
Mnr. John Fair, 'n konsultant oor biologiese boerdery, bied later vanjaar met die samewerking van Landbouweekblad twee forums oor biologiese boerdery aan. Die tema is die herstel van die biologiese vrugbaarheid van landbougrond.
'n Boer wat die biologiese pad volg en sy grond só herstel, sal vind dat die koste van sy produksiemiddele verlaag, sy risiko verminder en sy winsgewendheid verhoog, terwyl sy boerdery volhoubaar word.
Die eerste forum word van 27 tot 28 Augustus op Vanderbijlpark gehou en die tweede van 3 tot 4 September op Stellenbosch. Dieselfde program word by albei sentrums aangebied. Die hoofsprekers is mnre. Garry Zimmer, 'n Amerikaanse konsultant oor biologiese boerdery, en Neil Ballard, 'n biologiese boer van Australië.
Onderwerpe wat behandel sal word, sluit die volgende in: Die herstel van biologiese grondvrugbaarheid in Australië en Suid-Afrika; die balansering van grondvoedingstowwe; misstowwe (insluitende mis, kompos en kompostee) wat grondvrugbaarheid bou en grondlewe bevorder; die belangrikheid van mikro-organismes in die grond; die Bt-geen vir insekbestryding; humus-sure; en die rol van gewasrotasie en bewaringsbewerking in grondherstel. àl die onderwerpe sal deur die oorsese of plaaslike kenners ingelei word en, waar moontlik, ondersteun word deur boere wat reeds biologies boer.
Vir diegene wat voor 15 Julie registreer, beloop die koste van die forum R1 950 per persoon. Diegene wat laat registreer se koste beloop R2 500.
Boere wat voornemens is om een van die forums by te
woon, word sterk aangeraai om mnr. Zimmer se boek The Biological Farmer
vooraf te lees. Dit sal hulle in die posisie plaas om baie meer waarde uit die forum te kry.
Navrae en boekbestellings: Me.
Lyndi Burgess, tel./faks 058 622 3585, sel 082 739 4599, of e-pos:
href="mailto:fair@kingsley.co.za" mailto:fair@kingsley.co.za>fair@kingsley.co.za
Vermeerder hulle só
Erdwurms kan só vermeerder word:
Sorg dat daar genoeg kos vir die erdwurms is. Kos kan deur bewaringsbewerking, die kweek van dekgewasse, sowel as die inwerk van mis, kompos en groenbemesting verskaf word. Die brand van oesreste (stoppels) is dus 'n skadelike praktyk.
Vermy die aanwending van gifstowwe wat erdwurms benadeel. Sekere onkruid- en insekdoders kan met 'n mate van veiligheid gebruik word omdat die gebruik daarvan minimale skade aan die erdwurms sal aanrig. 'n Lys van hierdie middels sal in Augustus en September by die forums oor biologiese boerdery beskikbaar wees.
4
Julie 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24