Goot bedrog met grondeise?

 

Amerikaanse hulp gaan ingeroep word om 'n moontlik massiewe bedrogspul met grondeise te ondersoek waarby nie net eisers nie, maar ook staatsamptenare betrokke kan wees.

Boere sê reg van die begin van die grondhervormingsprogram af hulle sal geldige eise nie teenstaan nie, maar hulle maak ernstig beswaar teen onregmatige eise, sê mnr. Piet Kemp, streekbestuurder van die TLU SA Oos. Hy ondersoek bykans 2 000 verdagte grondeise in Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Van die eise is reeds teruggetrek nadat hy dit bevraagteken het.

Amerikaanse forensiese kundiges word betrek om die ouderdom van dokumente te bepaal in gevalle waar dispute ontstaan. Tot dusver is al die eise wat betwis is, teruggetrek voordat sulke ondersoeke gedoen is. Van die eise in Mpumalanga is nie op die oorspronklike lys wat in 1999 verskyn het van restitusie-eise in dié provinsie wat voor of op die afsnydatum van 31 Desember 1998 ingedien is nie.

"Ek glo nie die storie van die bokse vol eise wat ná 1998 in pakkamers ontdek is nie. Sulke nalatigheid is net nie moontlik in so 'n ernstige saak soos grondhervorming nie," sê Kemp.

Eise teen tientalle plase wat nie op die lys voorkom nie, is in Mpumalanga teruggetrek nadat hy beswaar daarteen aangeteken en die eise ondersoek het - in die jongste geval sowat 40 gedeeltes op 5 plase in een week.

'n Restitusie-eis namens die Ngwenya-familie is op 17 Junie 2005 in die Staatskoerant gepubliseer ten opsigte van die plase Oudehoutspruit, Groenvlei en Mount Farm in die distrik Standerton. Dit het altesaam 32 gedeeltes van meer as 4 000 ha behels.

Kemp het die eis bevraagteken nadat hy dit op die lys nagegaan en saam met die eisers en amptenare van die Grondeisekommissie die betrokke gebied besoek het.

"Toe ek vir die eisers vra waar het hul beeste oral geloop, beduie hulle met 'n armswaai 'n gebied wat rofweg van Richardsbaai tot in die Kaap strek. Ek het gesê hulle moet saam met my loop en die gebied presies afbaken. Só het ons saam die werklike eisgrond afgebaken. Projekbeamptes doen dit ongelukkig nie en sulke ondersoeke wat prokureurs vir boere doen, kos 'n astronomiese klomp geld. Dit is harde werk oor klippe en rante en ure in die bloedige son."

In Desember 2006 is die eis wat aanvanklik in die Staatskoerant gepubliseer is, gewysig en 'n eis van net twee gedeeltes wat saam sowat 855 ha van die plaas Oudehoutspruit beslaan, is weer gepubliseer.

Dieselfde het gebeur met eise op die plase Mooifontein en Mooigenoeg in die distrik Amersfoort. Die aanvanklike eis op 18 gedeeltes van Mooifontein is verminder tot een gedeelte en van 12 gedeeltes van Mooigenoeg het ook net een oorgebly.

In September 2005 is 'n eis ten opsigte van die hele plaas Katspruit in die distrik Standerton gepubliseer. By ondersoek het dit geblyk die eiser het vir die eienaar van 'n gedeelte van Katspruit gewerk. Toe dié grondeienaar sy grond verkoop, het hy vir die werker 'n huis op die dorp gekoop.

In Julie 2006 is die grondeienaar opgespoor. Hy het bewyse voorgelê van die vergoeding wat die werker ontvang het. Die projekbeampte het mondeling erken die eis is onwettig, maar dit is nog nie teruggetrek nie, want "die verslag moet nog geskryf word".

"Van September 2005 tot nou sit al die grondeienaars wat by hierdie onwettige eis betrokke is, egter opgesaal met die probleem dat hulle niks met die grond kan doen nie. Hulle word ook finansieel benadeel en deur banke gepenaliseer omdat aangevoer word dat grondeise 'n invloed op sekuriteit het," sê Kemp.

Mnr. Gerhard de Wet en sy vrou, Christa, het hom gekontak vir inligting oor twee gedeeltes van 'n plaas wat hulle in die distrik Bethal wil koop. Hul bank weier om 'n lening van meer as 50 % toe te staan omdat aangevoer word daar is 'n grondeis op die plaas. Die bank kon nie sê op watter gedeeltes nie. Sonder 'n lening van 70 % kan hulle nie die grond koop nie.

Die TLU SA het ná 1998 'n kaart saamgestel van grondeise wat teen die afsnydatum ingestel is. Daarop word aangedui dat sowat 80 % van Mpumalanga se landbougrond geëis word. "Die dele wat kol-kol ongeëis was, word nou geëis," sê Kemp.

'n Eis is in die Staatskoerant van 5 Januarie 2007 gepubliseer ten opsigte van Loskop Suid 53JS in die distrik Groblersdal. Op 29 Januarie 2007 - drie weke nadat 'n eis daarop gepubliseer is - het die Grondeisekommissie in Mpumalanga by navraag skriftelik bevestig dat daar "geen rekord is van 'n eis op die eiendom nie".

Dieselfde gebeur ten opsigte van Mapochsgrond 500JS in die distrik Middelburg. Op 22 Julie 1998 is 'n eiser skriftelik deur die Grondeisekommissie (destyds van die Noordelike Provinsie en Mpumalanga) ingelig dat sy eis op die grond nie geldig is nie omdat dit ná gevegte teen hoofman Mapoch sedert 1883 in private besit was en die eis dus nie aan die vereistes van die restitusiewet voldoen nie.

Tog is 'n grondeis op 480 gedeeltes van dié grond op 5 Januarie 2007 gepubliseer saam met eise op die aangrensende plase.

Kemp was betrokke by die verifikasieproses van 'n eis op die plase Belmont en Montrose tussen Nelspruit en Machadodorp waar die eisers beweer hulle gewoon het. Volgens nege verskillende beëdigde verklarings van plaaswerkers wat lank in die gebied gewoon het, het die eisers nooit daar gewoon nie. Die eisers kon nie hul huise uitwys nie en het later aangevoer dit was van klei en boere het dit toegeploeg.

Toe Kemp die projekbeampte daarop wys dat geen van die beweerde huise op lugfoto's van 1935 sowel as 1950 aangetoon word nie, het hy gesê hy weet van ander mense wat die grond kan eis omdat hul beeste dalk daar geloop het.

Nog 'n onwettige eis is gepubliseer ten opsigte van die plaas Rietvlei tussen Machadodorp en Dullstroom. Die eisers het beweer hulle is van die plaas afgesit, maar die eienaars het dit betwis.

Hul prokureur het die Grondeisekommissie in 'n brief op die feite gewys en die eis is teruggetrek, buiten op een gedeelte wat na bewering vir die kommissie aangebied is omdat die eienaars dit wou verkoop. (Dít het ook in ander grondeisetransaksies gebeur.)

"Sulke gevalle word betreur, want dit stuur 'n skewe boodskap uit. Sonder dat die eis ondersoek en as 'n wettige restitusie-eis bewys is, word dié grond nou deel van die geskiedenis as grond wat onregmatig afgevat is en met restitusiegeld gekoop. As ek die wet reg lees, maak die grond-eienaar en die staat hulle albei in so 'n geval skuldig aan 'n onwettige transaksie," sê Kemp.

Dit het skielik in November 2006 bekend geword dat sowat 20 000 ha wat 50 plase, sake-ondernemings en spogwoonbuurte by Nelspruit insluit, geëis word namens die Daantjie-gemeenskap.

Dit is in 'n memorandum, wat tussen 15 Augustus en 15 September 2006 deur amptenare van die Grondeisekommissie onderteken is, aanbeveel as 'n wysiging tot 'n eis wat in 2003 gepubliseer is ten opsigte van drie plase waarvan slegs een op die oorspronklike eislys verskyn het.

Die naam van Sicelo Audicious Nkosi as "verkose verteenwoordiger van die Daantjie-gemeenskap" verskyn op dié eisvorm wat gedateer en gestempel is 31/12/98. In die memorandum word egter genoem dat dié mens op 17 Julie 2005 deur die gemeenskap gemagtig is om die grond namens hulle te eis. Die besluit is op 19 Julie 2005 aan die Grondeisekommissaris voorgelê en hy het die "laat indiening" daarvan gekondoneer. Die grootste deel van die eisvorm is nie ingevul nie en geen bewyse is verskaf om die eis te steun nie.

Enkele opmerkings, soos dat "verskeie, maar in die meeste gevalle min of geen" vergoeding ten opsigte van eiendom, verbeterings, grond en/of behuising ontvang is, is na bewering onlangs op die vorm aangebring. Dié eis gaan in Amerika ondersoek word om vas te stel wanneer die vorm ingevul is in 'n proses wat die ouderdom van die ink op die vorm bepaal.

In 'n uitspraak van die Grondeisehof in Desember 2006 het die regter gesê die Grondeisekommissie oorskry sy administratiewe pligte deur grond wat nie oorspronklik geëis is nie, tot 'n eis by te voeg en dat hy nie wetlik daartoe gemagtig is nie.

Grondeise se reaksie
Die kantoor van die Hoofgrondeisekommissaris sê in reaksie op navrae:

  • Oor beweringe van bedrog met eise . . . "Die wet dui duidelik 31 Desember 1998 as afsnydatum aan vir grondeise. Die kommissie aanvaar nie eise wat ná die afsnydatum ingedien is nie."

  • Oor die praktyk van projekbeamptes om ongeëiste grond tot 'n eis by te voeg . . . "Appèl is toegestaan teen die hofuitspraak en ons kan nie daaroor kommentaar lewer nie, want dit is sub judice."

  • Oor beweringe dat behoorlike ondersoek nie gedoen word voordat 'n eis gepubliseer word nie . . . "Die meriete van 'n restitusie-eis word eers ondersoek nádat die eis aanvaar is. Die sterkte van die eis is nie belangrik by aanvaarding nie, solank dit móóntlik is."

  • Oor die lang tydsverloop voordat 'n ongeldige eis teruggetrek word . . . "Die Streekgrondeisekommissie moet eers vasstel of eisers of enige verontregte party die regte afdwing wat in die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid vervat is. 'n Tydperk van twee jaar is nie die norm nie. As spesifieke besonderhede van sulke gevalle voorsien word, kan dit ondersoek word."

    Landbouweekblad, 9 Maart 2007

 

5