'Die Regering en begunstigdes van grondhervorming moet ophou om kommersiële boere vir aandete te nooi nadat die gereg al verbrand het. Die georganiseerde landbou moet na die kombuis toe genooi word — daar waar die resepte uitgewerk en die bestanddele afgemeet word.
Die vestiging van nuwe boere op hoogs produktiewe landbougrond deur die grondeiseprogram is tot dusver meestal 'n verleentheid vir alle betrokke partye, insluitende die Regering, eisers, donateurs en kommersiële boere. Die verwaarlosing van spog-piesangplase in die Letsitele-vallei, die verhongering van melkbeeste in Hartebeesfontein en die ineenstorting van groenteplase in Trichardtsdal is maar enkele van die vele voorbeelde wat 'n vraagteken plaas oor die Ministerie van Landbou en Grondsake se vermoë om grondhervorming toe te pas sonder om die kommersiële landbou in die proses te vermink.
Nieteenstaande dié jammerlike geskiedenis gaan me. Thoko Didiza, Minister van Landbou, voort om gevestigde kommersiële boere met onervare swart aspirante te vervang, soos pas uitgedruk in die AgriBEE-beleidsdokument wat in die vooruitsig stel dat 75 % "hoë waarde grond" oor 10 jaar deur swart boere bewerk moet word.
Tog lê die probleem nie in die doelstellings van grondhervorming nie, maar in die bestuur daarvan, en is dit betreklik eenvoudig om te oorkom. Ten spyte van die mislukkings kan grondhervorming in Suid-Afrika slaag as dit hand aan hand met landbou-ontwikkeling geskied, en dit as 'n vennootskappoging tussen die begunstigdes, die Regering en kommersiële boere bestuur word.
Dié vennootskap is 'n gewilde tema by kongresse en in politieke toesprake, maar op grondvlak kom daar dadels van. Die kommersiële landbou word betrek by die projekte wanneer dit reeds gedoem is om te ontspoor, en dan word die kommersiële boere dikwels daarna geblameer dat hulle nie geesdriftig genoeg na die tafel gaan nie.
Die Regering en begunstigdes van grondhervorming moet ophou om kommersiële boere vir aandete te nooi nadat die gereg al verbrand het. Dit het tyd geword dat die georganiseerde landbou na die kombuis toe genooi word — daar waar die resepte uitgewerk en die bestanddele afgemeet word. Agri SA en sy streekstrukture het al telkemale hulle verbintenis tot suksesvolle grondhervorming uitgespreek, en hul gretigheid getoon om skouer aan die wiel te sit. Vrystaat Landbou het vroeër vanjaar saam met boere in sekere bedrywe, waaronder wol-, melk- en graanboere, asook sekere finansiële instellings wat al 'n lang pad saam met die landbou loop, 'n omvattende strategie vir landbou-ontwikkeling opgestel.
Kommersiële boere is die enigste geloofwaardige groep wat grondhervorming en landbou-ontwikkeling kan laat slaag. Versuim om hulle intens te betrek, kan net dui op politieke bymotiewe.
'n Oop gesprek oor grondrestitusie en veral oor die implementering van dié proses, die beplanning van landbou-ontwikkeling opgeëisde gronde en die inagneming van plaaslike ekonomieë, kan al 'n groot sprong in die regte rigting wees. Goeie trou is 'n voorvereiste vir so 'n gesprek, en na die debakel rondom die AgriBEE-konsepdokument sal die Minister van Landbou en haar departemente 'n groot poging moet aanwend om die Regering se geloofwaardigheid onder kommersiële boere opnuut te vestig.
Die provinsie Limpopo is waarskynlik die verste agter met sy grondrestitusieprogram. Afgehandelde eise lê soos onopgeruimde slagvelde, en daar is bloedweinig wat Limpopo se Grondeisekommissie kan wys wat die proses tot eer strek. Tog word daar domastrant voortgeploeter om sowat 1 050 uitstaande eise voor Desember 2005 afgehandel te kry.
Een van die grootste slaggate waarin die kommissie herhaaldelik beland, is gebrekkige kommunikasie met die georganiseerde landbou. Grondeienaars word in die duister gehou oor die status van eise op hul grond, totdat dit in die Staatskoerant gepubliseer word. Selfs in die navorsing om die geldigheid van eise te bepaal, word grondeienaars geïgnoreer asof hulle geen belang of bydrae daartoe het nie. Voorts is daar geen gereelde formele skakeling tussen die kommissie en die georganiseerde landbou, selfs net om beginsels deur te trap nie.
Wanneer grondeise aangekondig word,duur dit soms jare voordat die proses enigsins verder vorder. In die distrik Mooketsi, hartland van Suid-Afrika se tamatiebedryf, is eise deur die Maupa-stam op 225 plase reeds in April 2001 gepubliseer, en sedertdien is die kommissie onseker wie die regmatige eisers is. Die kommissie behoort nie grondeise aan te kondig voordat die begunstigdes van so 'n eis geïdentifiseer en botsende eise bygelê is nie. Eise van die Maroba-stam op plase noord van die Strydom-tonnel in die omgewing van Hoedspruit is in Mei 2001 gepubliseer, maar waardeerders is eers in Mei 2004 aangestel.
Intussen kan grondeienaars geen ontwikkeling sonder die instemming van die Grondeisekommissaris doen nie, hulle grond nie as sekuriteit vir finansiering by banke aanbied nie, nie sonder meer hulle eiendom vervreem nie, en boer hulle met die swaard van spanning en onsekerheid oor hul koppe.
Grondtransaksies kom opsluit tot stilstand en die eiendomsmark vries vanaf datum waarop 'n eis aangekondig is totdat dit afgehandel is.
Die ekonomiese impak en die skade wat die uitgerekte proses aan individuele boerderye aanrig, word geensins deur die kommissie in berekening gebring nie.
Wanneer boere onseker is oor die toekoms van hul grond, word ontwikkeling en selfs instandhouding agterweë gelaat. Gevolglik is plase nie in dieselfde produktiewe toestand wanneer eisers die boerderye oorneem nie. Die kommissie koop ook net onroerende eiendom. 'n Boer verkoop dus werktuie en gereedskap wat broodnodig was in die bedryf van sy plaas aan buitestanders voordat die eisers nog weet dat hulle daardie toerusting gaan nodig hê.
In die geval van Magoebaskloof het die kommissie kort ná aankondiging van die eise aangedui dat plantasies nie gekoop sal word nie, en boere het begin om bome af te kap. Op kort termyn sal dit waarskynlik die houtmark oorstroom, en op mediumtermyn kan dit tot tekorte lei. Daar is min gronde so onooglik, nutteloos en dood soos 'n afgekapte plantasie. In een van die mooiste klowe in Afrika word eisers dus uitgelewer aan mislukking nog voor hul eis deur die minister bekragtig is.
Wanneer grondeienaars aanbiedinge vir hul eiendom ontvang, bly hulle onseker oor die tydsverloop totdat die transaksie afgehandel is. Dit duur maande, en oënskynlik het niemand beheer oor die dagboekbeplanning nie. Oeste moet intussen ingesit en versorg word, en boere is huiwerig om baie geld aan chemikalieë, kunsmis en arbeid te bestee as hulle onder druk gaan wees om die oes aan nuwe eienaars af te staan. In Levubu, Trichardtsdal en die Letsitele-vallei moet mango-, makadamia-, avokado- en lietsjie-boorde versorg word, en boere kry daaroor geen leiding van die kommissie nie. As dit agterweë gelaat word, is die volgende oeste gedoem. Só word elke volgende oordrag van restitusiegrond net nog 'n hoofstuk in die verhaal van mislukte landbou-ontwikkeling.
In Gravelotte, waar die Mashishimane-stam hoofsaaklik wildgrond opeis, het boere hulle koopbriewe al in Mei 2004 geteken, en hulle in nuwe eiendomstransaksies elders begewe. Niemand in die kommissie kon tot dusver verduidelik wat die oponthoud met die vordering van die transaksie is nie, en die verkopers sak weekliks verder in die moeilikheid omdat hulle nie ingevolge van hulle nuwe eiendomstransaksies kan presteer nie.
Nie alle plase wat aangekondig word, word gekoop en oorgedra nie. Dikwels word net 'n gedeelte van die geëisde gebied deur die kommissie aan eisers oorgedra. By die oorhandigingsgeleentheid word eisers dan deur die kommissaris ingelig dat dit die finale skikking van hul eis is. So is die plase tussen Munnik en Mooketsi wat aan ZZ2 behoort, nooit aan die Pheeha-gemeenskap oorgedra nie.
Die probleem ontstaan wanneer die kommissie daarna versuim om plase wat hy nie gaan oordra nie, in die Staatskoerant te ontlys. Daardie plase bly in die greep van die grondeiseproses, die eiendomsmark bly bevrore en boere wat van produksiefinansiering afhanklik is, se boerderye is steeds gekniehalter.
Waar eisers 'n totale gebied eis, soos in Magoebaskloof (471 plase), Hoedspruit (518 plase) en Mooketsi (225 plase), is die samestelling van die lys van titelaktes wat deur die eise geraak word, dikwels onder verdenking.
In Mooketsi sloer die Maupa-stam se eise na aankondiging reeds langer as drie jaar omdat dit klaarblyklik bots met die belange van die Modjadji-stam. Agri Letaba kon egter tot dusver nie daarin slaag om 'n afskrif van die Modjadji-eise te bekom nie, en is skepties oor die toeval dat presies dieselfde 225 plase deur albei stamme geëis word.
Gefrustreerde grondeienaars is ook ontevrede omdat die grondeisekommissie die Maupa-eis aangekondig het sonder om seker te maak dat daar geen botsende eise op die eiendomme is nie. Hulle is reeds drie jaar lank die slagoffer van administratiewe onbeholpenheid.
In Magoebaskloof word 'n gekonsolideerde gebied geëis, met enkele eiendomme wat soos eilande in die middel van die gebied uitgesluit is. Vir verdwaasde grondeienaars is dit net te toevallig dat van daardie eiendom aan die vorige premier van die provinsie Limpopo en ander senior amptenare behoort. Dit is tog onwaarskynlik dat die historiese regte, hetsy van weiding, jag of houtversamel, wat die eisers kwansuis ontneem is, juis daardie eiendomme sou uitsluit.
Dikwels word transaksies waar grondeienaars aanbiedinge op hulle plase aanvaar het, na die minister vir goedkeuring verwys. Eers daarna kon die na-vestigingseksie(amptenare wat moet verseker dat daar 'n lewensvatbare boerderyplan gereed is voordat eisers die grond betrek) hulle inspeksies doen of voorstelle oor vestiging formuleer. Nuwe boere sonder planne op duur, produktiewe plase is 'n gewaarborgde resep vir 'n verleentheid.
Teen die agtergrond van Agri SA se verklaarde ondersteuning van die beginsel van grondrestitusie en die poel van bewese kundigheid wat hy verteenwoordig, behoort grondeise veral in ekonomies sensitiewe gebiede indringend met streeklandbou-unies en boereverenigings bespreek te word.
'n Plaaslike "mini-kodesa", waartydens die instandhouding van volhoubare landbou-aktiwiteite en die plaaslike ekonomie bespreek word, behoort in elke gebied 'n voorvereiste vir die oordrag van produktiewe landbougrond te wees.
By so 'n geleentheid kan kommersiële boere, banke, eisers, die staat en ander belanghebbende partye hul bydraes en vrese tafel toe bring, en hulle wedersyds verbind tot samewerking om landelike gebiede te laat gedy.
In die plek van die huidige onsekerheid en frustrasie, kan dit 'n basis skep vanwaar alle partye mekaar leer ken en vertrou, en vanwaar beplanning gedoen kan word.
Meer as alles kan dit eienaarskap oor die grondhervormingsprogram en oor landbou-ontwikkeling op 'n breër basis vestig, en lei tot 'n herstrukturering van die landbou op gesonde beginsels.
Per slot van sake is dit die verwagting wat aanvanklik by die grondwetlike onderhandelingsproses in 1992 by alle belanghebbendes geskep is, en wat in die nuut aangekondigde AgriBEE-beleidsdokument voorgehou word.
Die georganiseerde landbou op streekvlak is gretig om 'n deel van die oplossing te wees, maar as 'n volwaardige vennoot, en nie as gekoöpteerde vertoonstukke nie.
17 September 2004