Hervorming: Vier plase verval

 
Oos-Kaap. Foto: THEUNS BOTHA
Oos-Kaap. Foto: THEUNS BOTHA

Vier plase wat aan grondeisers in die Oos-Kaap oorhandig is, is mislukkings en die nuwe grondeienaars se drome lê aan skerwe. Luidens ‘n berig van The Weekend Post het vier plase wat as deel van  grondhervorming oorhandig is, verval.

Sommige van die nuwe eienaars het yslike skuld, terwyl binnegevegte tussen ander eienaars produktiwiteit in die wiele ry. Van die eienaars moes ook al implemente verkoop om byvoorbeeld kragrekenings te vereffen.

Die een perseel sluit drie plase in die Sondagsvallei - ‘n perdestoet en twee sitrusplase - in. Slegs vyf perde, wat wild in die veld gelos word, is op die teelplaas oor, terwyl die vrugteboorde op die ander plase verdroog. Die plase word glo deur mnr. Phindi Kema bestuur.

Die ander drie plase sluit ‘n sitrusplaas ter waarde van R18 miljoen, ‘n hoenderplaas ter waarde van R4 miljoen naby Paterson en ‘n 1 000 ha plaas, Salem, naby Grahamstown in.

Nie voldoende hulp van die staat
Die begunstigdes sê hulle het nie voldoende hulp van die provinsiale departement van landbou ontvang om op hul voete te kom en hulself te vestig na oorhandiging nie.

“Dit was ons droom om te boer, maar ons is al vir twee jaar hier en nog niks het gebeur nie. Die Regering het, voor ons die plaas oorgeneem het, belowe dat hulle ons sal bystaan om onsself te vestig, die hutte waarin die hoenders aangehou word op te gradeer en om voer aan te koop, maar ons het nog nie ‘n sent ontvang nie,” sê mnr. Andries Salmon, een van die agt begunstigdes van die Paterson-hoenderplaas.

Hy sê verskeie oproepe om te vra vir geldelike hulp om ‘n gebreekte boorgatpomp te herstel, het op dowe ore geval. Verskeie ander eienaars het ook teen die departement uitgevaar omdat hulle nie beloofde fondse ontvang het nie.

Grondhervorming opsy geskuif
Intussen het mnr. Gugile Nkwinti, die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, aangekondig dat die oordrag van 30% van die land se landbougrond voor 2014 vir eers op die agtergrond geskuif is.

Luidens ‘n berig van Sake24.com het Nkwinti tydens Agri SA se bedryfs- en boerontwikkelingskonferensie gesê die departement het nie die R72 miljard wat nodig is om dié mikpunt te bereik, beskikbaar nie. Hy het glo gesê die departement sal nou fokus op die heropbou van plase wat weens grondhervorming vervalle geraak het. Sowat R4 miljard is hiervoor bewillig.

Bron:
The Weekend Post
Sake24.com

1 Maart 2010

0
 
 

Kommentaar

Riempies 

Dit is hartseer om te dink dat sub Sahara Afrika die potensiaal het om die hele wereld van voedsel te voorsien en dat ons, deur stories soos die, bydra tot die negetiewe statestiek. Wanneer gaan ons kosbare regering werklik die erns van voedselsekuriteit besef?

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.