|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Dit gebeur deesdae dikwels dat plaaseienaars die probleem het van mense wat hul grond onwettig betree en selfs daarop gaan woon. Dít kan voorkom word as die gepaste maatreëls betyds toegepas word.
Plakkerskampe vermeerder gedurig en dit gebeur al hoe meer dat nabygeleë boere se heinings geknip, vee gesteel en bome vir vuurmaakhout afgekap word. Baie boere ondervind ook dat mense hul plase al meer onwettig betree en daar by familie en vriende kom woon - sonder die medewete of toestemming van die boer.
Twee gevalle wat baie onlangs voorgekom het, is dié van mnr. Basie van Vuuren van die plaas Soutpan, naby Pretoria, en mnr. Bertus Els van die plaas Kraalkop, in die omgewing van Fochville.
Mnr. Van Vuuren boer sedert 1989 op sy plaas van 2 000 ha met onder meer beeste. Hy moes in 1999 van die plaas af trek nadat hy dit nie meer kon uithou nie. Sedertdien woon hy op die dorp en ry elke dag plaas toe.
'n Plakkerskamp, Eersterus, het langs sy plaas ontstaan kort nadat hy die plaas gekoop het. Die plakkers het hom al aangeval, gedreig en gekaap, en hy was langer as twee maande in die hospitaal nadat hy raakgeskiet is. Hulle het 22 van sy beeste geslag, talle van die bome op die plaas afgekap en 'n wildwerende heining om sy plaas heeltemal verwyder.
In mnr. Els se geval is dit nie veel anders nie. 'n Dubbelpad loop deur sy plaas en die plakkerskamp Greenpark het langs sy plaas opgeskiet. Volgens mnr. Els word sy bome gereeld afgekap, sy heinings word daagliks - so vinnig as wat hy dit herstel - geknip, ysterpale van die heinings word uitgehaal, en toordokters loop gedurig op sy plaas rond en grawe oral gate op soek na wortels. Voorts beland sy beeste voortdurend in die besige pad wat deur sy plaas loop weens die geknipte heinings.
Hy het nou sy lot by die beheeraanklaer op Carletonville bekla omdat die polisie talle sake van betreding en beskadiging van sy eiendom hof toe gebring het, maar nog elke keer het die betrokke aanklaer geweier om mense te vervolg.
Wat staan boere in sodanige gevalle te doen?
Voorkoming is beter as genesing, sê dr. Philip du Toit, direkteur van regsdienste van die Landbouwerkgewersorganisasie en prokureur van die hoër hof. Volgens dr. Du Toit moet boere die toepaslike wetgewing streng toepas. Die wet wat gebruik moet word, is die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (Wet 19 van 1998).
In die eerste plek moet 'n boer aanteken wie op sy plaas woon. Wanneer hy iemand in diens neem, moet hy 'n inwonerslys opstel van die lede van die werknemer se gesin wat toegelaat word om saam met hom in die betrokke huis te woon wat aan hom toegeken word. Hierdie inwonerslys moet deel van die werknemer se dienskontrak wees.
Om onwettige betreding te voorkom, is dit uiters belangrik dat elke boer 'n voorvalleboek aanhou waarin die naam van elke besoeker aangeteken word, wie besoek word, die datum en tyd van aankoms en die tyd van vertrek. Boere moet self reëls neerlê van die getal besoekers wat per huisgesin op die plaas toegelaat word, wanneer besoeke mag plaasvind en hoe lank 'n besoek mag duur.
'n Goeie reël is dat besoeke nie langer as 'n naweek mag duur nie. Wanneer langer besoeke verlang word, moet die werknemer vooraf toestemming van die eienaar daarvoor verkry. Dit is ook raadsaam om aan elke besoeker 'n skriftelike permit uit te reik.
Dit mag klink na baie ekstra werk vir die boer, maar dit kan baie probleme voorkom wat die boer later baie geld kan kos, sê dr. Du Toit.
Ondanks al hierdie maatreëls, gebeur dit tog dat plase onwettig betree en selfs onwettig bewoon word, volgens hom. Dit is belangrik om onmiddellik teen sulke mense op te tree, aangesien iemand wat langer as 'n jaar aaneenlopend en openlik op die plaas gewoon het, ingevolge die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997) geag word om die toestemming van die eienaar daarvoor te hê.
Volgens hierdie wet beteken toestemming van die eienaar as synde sy uitdruklike of stilswyende toestemming. Só iemand verkry die status van okkupeerder. Dit gee aan hom wetlik die reg om op die plaas te woon, ongeag of hy vir die boer werk of nie, en hy kan net verwyder word as die boer 'n hofbevel verkry.
As 'n persoon eers die status van okkupeerder verwerf het en die boer nie formeel teen hom opgetree het nie, word hy uitgesluit van die definisie van onregmatige okkupeerder. Dit is iemand wat sonder die uitdruklike of stilswyende toestemming van die boer sy grond beset, maar nie ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond 'n okkupeerder is nie, en terselfdertyd ook nie iemand wie se reg op grond - as dit nie vir die bepalings van hierdie wet was nie - beskerm sou wees deur die bepalings van die Wet op Tussentydse Beskerming van Informele Grondregte (Wet 31 van 1996) nie.
Dit klink baie omslagtig, maar dit sal boere baie verdriet en geld spaar as hulle sorg dat hulle op die hoogte van alle betrokke wetgewing is, het dr. Du Toit gewaarsku.
Hy het ook daarop gewys dat wanneer mense onregmatig op 'n boer se plaas gaan woon en hulle vinnig betrap word, of vir 'n korter tydperk as 'n jaar daar woon, hy die bepalings van Wet 19 van 1998 kan gebruik om hulle van die plaas te laat verwyder deur 'n afsettingsbevel van die plaaslike landdroshof, of deur die Grondeisehof.
Voordat regsaksie ingestel word, kan die boer ook eers self probeer om die onwettige okkupeerder vrywillig van sy plaas te laat trek. In só 'n geval moet hy 'n skriftelike kennisgewing op die persoon bestel om hom aan te sê om die plaas te verlaat. Só 'n kennisgewing moet uitdruklik meld dat die persoon 'n onregmatige okkupeerder is en sonder die boer se toestemming op die plaas woon.
Voorts moet die boer ook uitdruklik in die kennisgewing meld dat die onregmatige bewoning of besetting 'n oortreding van Wet 19 van 1998 is, en dat indien die okkupeerder weier om die plaas op 'n spesifieke datum te verlaat, stappe gedoen sal word om 'n uitsettingsbevel van die hof te verkry vir sy verwydering van die plaas.
Dr. Du Toit sê dit is wenslik dat wanneer só 'n bevel aan 'n onregmatige okkupeerder oorhandig word, dit in die teenwoordigheid van 'n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gedoen word nadat die inhoud daarvan aan die betrokke oortreder voorgelees is. As die polisie nie teenwoordig wil wees nie, kan die kennisgewing in die teenwoordigheid van twee onafhanklike getuies aan die persoon voorgelees en oorhandig word. As die persoon nie die taal verstaan waarin die kennisgewing geskryf is nie, moet dit in sy huistaal aan hom getolk word.
Dit is belangrik om só 'n kennisgewing in alle gevalle aan 'n onregmatige okkupeerder te oorhandig, sodat hy kan weet dat hy sonder toestemming die betrokke boer se grond beset. Daardeur kan die eienaar ook bewys dat hy nie stilswyend toestemming aan die betrokke persoon gegee het om op sy plaas te bly woon of dit te beset nie. Sou die onregmatige okkupeerder nie die plaas op die gespesifiseerde datum verlaat nie, moet die boer die nodige regstappe doen om hom te laat verwyder.
Net om dit vir die boer nóg meer ingewikkeld te maak, maak Wet 19 van 1998 voorsiening vir twee soorte onregmatige okkupeerders, sê dr. Du Toit.
Waar só 'n onregmatige okkupeerder 'n boer se grond vir korter as ses maande beset het op die tydstip dat regsaksie teen hom ingestel word, kan die hof 'n uitsettingsbevel toestaan as hy meen dat dit regverdig en billik is ná alle tersaaklike omstandighede oorweeg is, met inbegrip van die regte en behoeftes van bejaardes, kinders, gestremdes en huishoudings waarvan 'n vrou die hoof is.
As 'n onregmatige okkupeerder langer as ses maande die grond beset wanneer regsaksie teen hom ingestel word, geld dieselfde reël as in die geval van 'n besetting van minder as ses maande. Uitsonderings op dié reël is as die grond in eksekusie verkoop word kragtens 'n verband, of as grond beskikbaar gestel is, of redelikerwys beskikbaar gestel kan word deur 'n munisipale owerheid, 'n ander staatsowerheid of 'n ander grondeienaar vir die hervestiging van die onregmatige okkupeerder, ook met inbegrip van die behoeftes van kinders, bejaardes, gestremdes of 'n huishouding met 'n vrou as hoof.
Artikel 5 van Wet 19 van 1998 maak ook daarvoor voorsiening dat 'n boer 'n dringende hofbevel kan aanvra vir die onmiddellike verwydering van 'n onregmatige okkupeerder indien die hof daarvan oortuig is dat as só iemand nie onmiddellik verwyder word nie, 'n werklike en dreigende gevaar bestaan van wesenlike besering of skade aan enige persoon of eiendom.
Dieselfde artikel geld ook as die boer kan bewys dat as 'n uitsettingsbevel nie onmiddellik verleen word nie, en as daar geen ander doeltreffende uitweg is nie, sy waarskynlike ontbering groter as dié van die onregmatige okkupeerder is.
'n Goue reël om onregmatige besetting te voorkom, is dat 'n boer gereeld, of minstens elke drie maande, 'n inspeksie moet uitvoer of laat uitvoer om vas te stel of daar onregmatige okkupeerders op sy plaas woon.
Waar mense die plaas onwettig betree om byvoorbeeld bome af te kap, of waar grensheinings geknip word of vee gesteel word, moet die boer die saak by die naaste polisiekantoor aanmeld.
Hy moet 'n saak van betreding, beskadiging van eiendom of diefstal aanhangig maak, en sorg dat hy 'n goeie regsverteenwoordiger aanstel om die saak namens hom in die hof te behartig, voeg dr. Du Toit by.
30 Augustus 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24