Uitmuntende welslae word behaal met die opleidings- en ontwikkelingsaksie van Graan Suid-Afrika om ontwikkelende boere op die pad van kommersiële boerdery te plaas.
Talle swart boere is die afgelope sewe jaar deur Graan Suid-Afrika (Graan SA) se ontwikkelingsaksie met welslae op die pad van kommersiële landbou geplaas.
Dié lofwaardige poging is egter nog só klein, dit dra nie werklik gewig in die breër Suid-Afrikaanse landbou-omgewing nie. As daar erns gemaak wil word van die Strategiese Plan vir Landbou, is 'n baie groter poging nodig en kan nie op die staat gesit en wag word nie.
Só sê mnr. Steve Shone, hoofbestuurder van Graan SA. Hy doen 'n ernstige beroep dat gepoog moet word om swart boere in die hoofstroom van die landbou te betrek en só rigting aan grondhervorming te gee.
Volgens hom is die staat se pogings ontoereikend.
Mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan SA, sê die afgelope sewe jaar word skitterende werk met die ontwikkelingsaksie gedoen. Die missie en visie daarvan is om kommersiële swart boere te vestig. "Ons wil nie bestaansboere hê nie, want hulle is gedoem om slawe te wees vir die res van hul lewens."
Graan SA verskaf die personeel vir administrasiewerk en die ontwikkelingswerk word gedoen met geld uit die mielie- en oliesadetrust. Dié trust is met die ontbinding van die Mielieraad gevorm.
Voor deregulering het graanboere, afgesien van die gewone statutêre heffings, 'n spesiale heffing betaal om geld te kry vir gebruik in belang van die bedryf.
Ná deregulering is 'n ooreenkoms met die Minister van Landbou bereik dat dié geld in 'n trust gehou word met die uitdruklike doel om die hele bedryf, wat opkomende boere insluit, te dien.
Omdat die wintergraan- en sorghumtrust steeds statutêre heffings vir navorsing en voorligting het, word die aksie gefinansier uit die mielie- en oliesadetrust en onder die vaandel van Graan SA bedryf.
Die goeie werk wat gedoen word, word egter nie aan die groot klok gehang nie en baie mense, onder wie politici, weet nie daarvan nie, sê mnr. Neels Ferreira, ondervoorsitter van Graan SA.
Mnr. Shone sê dit is nodig dat Graan SA betrokke moet wees by ontwikkelende landbou en dat binne die finansieringsraamwerk van die trusts, oogmerke bereik moet word - al is dit op 'n klein skaal.
"As ons die Strategiese Plan vir die Landbou ernstig benader, sal nuwe betrokkenheid bewerkstellig en 'n groter vermoë beskikbaar gestel moet word. Dit wat ons doen, is só klein dat dit nie van beduidende belang in die breër Suid-Afrikaanse bestel is nie.
"Graan SA, veral met die ondersteuning van die twee trusts, is goed geplaas om sy betrokkenheid by dié ontwikkeling uit te brei. Daar sal egter na ander finansieringsbronne en vennootskappe gekyk moet word. Die trusts het ook ander verpligtinge en kan nie die finansiering alleen dra nie.
"Dít waarmee die georganiseerde landbou en private instellings nou besig is, is gefragmenteer en die infrastruktuur daarvoor behoort gekoördineer te word," sê mnr. Shone.
Heelwat van die huidige geslaagde projekte is danksy die ou bedeling waarby die nuwe middels vir die herstel van grondregte nie betrokke was nie.
Volgens hom is die maatreëls van die staat om swart boere meer toegang tot grond te gee, ontoereikend en dit werk nie. Navorsing in KwaZulu-Natal wys dat die vrye mark meer landbougrond herverdeel het as die staat en dat die private sektor sinvolle herverdeling van landbougrond beter kan bedien, sê hy.
"As 'n mens swart boere kan oplei, is jy besig om die kommersiële landbou te vestig as 'n middel vir die herverdeling van landbougrond. Die alternatief is dat die herverdeling net deur die staat gedoen word wat kan afstuur op 'n situasie soos in Zimbabwe. Daar word dan nie genoeg kos geproduseer nie en landbougrond bly 'n politieke speelbal.
"Ons kan dit nie bekostig nie en daarom is 'n omvattender plan nodig om swart boere op te lei en hulle volwaardig in die Suid-Afrikaanse landboubedryf op te neem," sê mnr. Shone.
Graan SA sal 'n leidende rol speel so lank dit nodig en moontlik is om te verseker dat hy 'n impak maak op die landbou van die toekoms. Die grootste fout sal wees om te sit en wag vir iemand anders om dit te doen. Die private sektor sal die ruimte moet skep om die plan vir die landbou te laat slaag deur 'n leidende rol te speel sodat die staat bereid sal wees om 'n ondersteunende rol te speel in die uitvoering daarvan.
"Die plan is vir ons ontsettend belangrik, want dit fokus op die terreine wat vir die hele land belangrik is. Dit sluit gelyke toegang tot grond, produksiemiddele en die mark as geheel in.
"Om die plan uit te voer, sal Graan SA 'n sterk vennoot daarin moet wees en ons sal hande met ander nasionale bedryfsorganisasies moet vat. Daar sal besin moet word oor wat ons kan doen om die plan te laat slaag, watter hulpbronne beskikbaar is en wat die verhouding met ons swart vennote en met die staat moet wees," sê hy.
Die eerste stap tot die koördinering van planne en projekte vir die ontwikkeling van voorheen benadeelde boere is onlangs geneem toe 'n nie-winsgewende openbare voordeel-organisasie van stapel gestuur is.
'n Totaal van 31 maatskappye en organisasies is daarby betrokke. Dit staan bekend as die Stigting vir Boerontwikkeling.
Mnr. Giel van Zyl, voormalige hoofbestuurder van Graan SA, is aangestel om die inisiatief van Graan SA verder te voer. Hy sê dit is gemik op die ontwikkeling van die vaardighede en opleiding van boere sodat hulle beter produksietegnieke en bemarkingsmetodes kan gebruik.
Daar sal gepoog word om die ervaring, vermoë, strukture en geldelike bronne van stigtingslede en nasionale en internasionale skenkers te koördineer.
Terselfdertyd het mnr. Les Hillowitz van Aventis in sy hoedanigheid as verteenwoordiger van die internasionale Plant Science Industry, CropLife International, nagenoeg R112 000 ($10 000) aan die stigting geskenk. Dit sal gebruik word om die vermoë van die stigting te vergroot.
Die aksie van Graan SA gaan intussen onder leiding van mnr. Cois Harman voort. Hy is 'n oud-dosent in Afrikatale en het sewe jaar gelede die aksie begin deur studiegroepe te vorm.
Die aantal studiegroepe het intussen aangegroei tot sowat 350 met 'n gesamentlike ledetal van nagenoeg 8 000 swart boere.
Skakeling met dié lede word volgehou deur 'n maandelikse nuusbrief in die vernaamste Afrikatale wat in die bedieningsgebiede gepraat word en 'n weeklikse landbou-radioprogram oor die streeksenders van Motsweding FM.
In die nuusbrief word die nuutste tegnologie oor grondmonsterneming, grondbewerking en bemarking versprei.
In die radiouitsending word probleme en ander sake wat die boere raak, bespreek. Dit sluit in finansiële beplanning, finansiering en al die aspekte om sy situasie op die beste manier te bestuur.
In Augustus word voorseisoen opleidingsdae aangebied waartydens alle inligting oor grondvoorbereiding, bemesting en kultivarkeuse gegee word en elke studiegroep word opgelei en gehelp om 'n klein proefperseel aan te lê sodat hulle kan sien hoe die regte kultivarkeuse, bemesting en goeie onkruidbestryding produksie beïnvloed.
Daarby word groter proefpersele aangelê in streke wat deur saadmaatskappye (Pannar, Monsanto, Advanta en Agricol) en die kunsmisonderneming Omnia geborg word sodat hulle kan sien wat werk en hoekom dit werk.
Dié aksie het al 'n groot invloed op dié boere se produksie gehad. In KwaZulu-Natal het die opbrengs van gemiddeld twee sakke graan per hektaar tot vyf ton per hektaar gestyg oor 'n aanplanting van 700 ha.
Van Januarie tot April word inligtingsdae by die streeksproefpersele gehou waarop die prestasies van die verskillende proewe bespreek en toegelig word. Tot 600 boere woon sulke inligtingsdae by.
Van Mei tot Julie word kursusse in trekker-onderhoud aangebied waar boere leer om trekkers in stand te hou en te herstel, 'n kontrakteurskursus wat boere alles leer om as kontrakteur die grond reg te bewerk, te plant en onkruiddoder toe te dien en om dit as 'n besigheid te bedryf. In dié tyd word ook kursusse aangebied oor boerderybeplanning en -bestuur en hoe om begrotings op te stel en produkte te bemark.
Mnr. Harman sê 'n hele paar van die boere het hul plase klaar betaal en nóg grond gekoop.
Daar is boere wat tot 1 200 hektaar sonneblomme plant. Een boer het dié seisoen sy sonneblom- en mielie-aanplanting van 400 hektaar kontant ingesit en hy behoort sowat 1 000 ton graan te kan lewer.
Mnr. Harman werk oor sewe provinsies en bedryf 'n voorraadskuur saam met sy een kollega. Dit word nie-winsgewend bedryf en het die afgelope jaar 'n omset van sowat 'n miljoen rand gehad.
Mnr. Shone sê dit is veral hiér waar hulp nodig is.
Een mens kan die werk net nie alleen volhou nie en om die aksie beduidend uit te brei, sal programme en infrastruktuur saamgesnoer moet word om die mikpunt om meer swart boere met welslae op die kommersiële boerderypad te plaas, te behaal.