Die feit dat verskeie amptenare verskillende standpunte oor grondkwessies het, kan moontlik ‘n radikale verandering aandui, sê Agri SA.
“Hoe meer mense hieroor praat, hoe meer bevestig hulle dat ‘n radikale verandering moontlik kan kom wat beginsels hierrondom aanbeterf”, sê mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA. Hy het gereageer op ‘n berig in Die Burger waarin ‘n staatsamptenaar wéér die versekering gee dat die nasionalisering van landbougrond nie op die kaarte is nie.
Luidens die berig Nuus24.com, het die departement gereageer op ‘n artikel wat mnr. Johannes Möller, die voorsitter van Agri SA, in dié koerant geskryf het. Volgens Möller gaan die bontpratery rondom dié kwessie die land duur te staan kom, veral ten opsigte van voedselsekuriteit, ‘n mededingende markomgewing en werksgeleenthede binne die sektor.
Nkwinti verander glo standpunt
Vroeër het mnr. Tozi Gwanya, die direkteur generaal van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, gesê in die departement se Groenskrif word die nasionalisering van landbougrond glo voorgestel. Kort daarna het mnr. Gugile Nkwinti, die Minister van die departement, in sy begrotingsrede gesê nasionalisering is nié op die kaarte nie.
Nkwinti het egter sy standpunt verander in ‘n onderhoud met eNews. Hy het boere toe glo gewaarsku om “saam te werk” om ’n “krisis, erger as Zimbabwe” te voorkom.
Jongste van die departement
Mnr. Mtobeli Mxotwa, senior mediabestuurder van die departement, het in reaksie op Möller se stelling in ’n verklaring gesê die departement het geen beleid van nasionalisering nie.
Hy het verduidelik dat die departement ’n mandaat het om post-koloniale herkonstruksie en ontwikkeling te verseker deur middel van ’n omvattende landelike ontwikkelingsprogram.
Volgens Mxotwa sal ’n Groenskrif oor die nuwe grondvoorstelle binnekort aan die Kabinet voorgelê word vir bespreking. “Die Groenskrif sal voorstel dat die huidige eiendomsregstelsel hersien en vervang moet word met ’n drievlak-verblyfregstelsel sodat Suid-Afrika gelyke toegang tot grond en volhoubare grondgebruik kan bereik.”
Van der Merwe meen ‘n duidelike mandaat oor grondkwessies is binne die departement nodig, “sodat die bontpratery kan stop en hulle uit een mond kan praat. Hoe meer verskillende amptenare hulleself oor die kwessie uitspreek, hoe meer verwarring skep hulle. Dit moet van een bron af kom!”
Volgens Van der Merwe hoop hy vir duidelikheid en rustigheid oor die kwessie.
Bron: Nuus24.com
1 April 2010
Kommentaar
Wat moet die boere dan nou nog doen om "saam te werk" het ek myself gevra.
Toe reken ek so:
Miskien moet julle 'n onderhoud met die mnr Nkwinti voer en presies by hom uitvind wat hy sien as saamwerk. Die hoofpunte moet julle dan op LWB plaas sodat die lesers kan stem hoeveel hulle hulself uit 10 uit gee. Mnr. Nkwinti moet dan sy punte gee en dan kan daar debat gevoer word oor hoekom die punte verskil.
Ek glo dat baie boere bereid is om te help en tans baie doen.
Om egter elke keer te moet hoor jy skiet tekort laat 'n wrang smaak in die mond.
Een van my buurplase is so twee jaar terug deur die regering opgekoop.
Die begunstigde se man is egter oorlede voor die grond nog oorgegee is.
Sy boer tans op 1000 ha met 50 beeste.
Voorbrande word nie gemaak nie.
Sy het geen implemente nie.
Sy het gee idee wat sy doen nie.
Haar man het vir ‘n bekende beesteler gewerk en hy het van sy Bonsmara-koeie vir hom gegee.
Die eens "waardevolle" trop is nou 'n klomp baster langhoring-beeste.
Sy bly tans nie in die opstal nie want dié word, van tyd tot tyd, deur die departement as 'n naweek "wegbreekplek" gebruik.
Ek het verlede jaar d.m.v. ’n ANC LP die oortollige grond probeer huur.
Hy het my teruggeskakel en die nommer van 'n man by Grondsake gegee wie ek moes skakel.
Die man het gesê, na 'n gesprek van 30 sekondes, hy sal my terugskakel - seker gehoor ek is wit. Ek wag nog.
In die tussentyd het ek 'n brief aan Grondsake geskryf waarin ek 'n aanbod gemaak het om die grond van hulle te huur.
In die brief het ek aangebied om die begunstigde verder te help met haar boerdery, voorbrande, baal van gras, ens.
Een van die bure wat saam met my sou huur, is tans 'n Bonsmara-stoetboer en sou van sy bulle beskikbaar stel.
Ek het verskeie gesprekke met van die Departement se mense gehad maar het nog niks verder gevorder nie.
Die huurgeld kon bv. gebruik gewees het om vir haar 'n trekker en snymasjien te koop.
Kundiges kon aangestel gewees het met die geld om haar en ander begunstigdes op te lei.
Nou wat moet mens nou nog doen om "saam te werk" ?
Dit wil my eerder voorkom asof die regering moet begin "saamwerk" ?
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)