|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
"Ons kritici, wat meermale min begryp van die suksesverhaal van Suid-Afrika se grondhervorming, verwys om duistere redes na die huidige toestand in Zimbabwe as ons onvermydelike uiteinde. Sulke aansprake is nie net gevaarlik oningelig nie, maar ook heeltemal onwaar. In die lig van die haastige pas waarteen ons vorder, is ek bereid om dit te waag om te sê ons is beslis nie op pad na 'n Zimbabwe-benadering tot grondhervorming nie en ons sal nooit daarby uitkom nie."
Só sê mnr. Abbey Makoe, hoofdirekteur van kommunikasie van die Departement van Grondsake, in 'n onlangse uitgawe van Finansies & Tegniek, susterstydskrif van Landbouweekblad.
Hy sê waar die Zimbabwiese regering in die voorhoede is van plaasbesettings, het Suid-Afrika 'n ministerie met die taak om grondhervorming ordelik te bestuur ingevolge grondwetlike vereistes.
Suid-Afrika was tot dusver nog gelukkig. Grondhervorming geskied teen 'n versnelde pas in 'n atmosfeer van gemoedelikheid tussen die Regering en sleutelbelanghebbers, soos Agri SA.
Hy sê die helfte van die grondeise vir die herstelprogram is afgehandel ná teen middel 1999 net 41 eise van 68 000 afgehandel is. Daar is nou al 34 363 van die 68 000 eise afgehandel. Altesame 73 365 huishoudings het hieruit voordeel getrek, wat 392 660 begunstigdes verteenwoordig. 'n Totaal van 505 000 ha grond is aan dié mense terugbesorg.
"Ons het vir onsself die doelwit gestel om teen Desember vanjaar alle uitstaande grondeise bekragtig te hê. Tot dusver het ons 26 350 van die 34 773 uitstaande eise bekragtig. Dis bykans 70 %."
Mnr. Makoe sê voorts met grondherverdeling vir landbou-ontwikkeling, 'n onderafdeling van die grondherverdelingsprogram, is sedert Augustus verlede jaar 'n toename van ontluikende boere beleef. Altesame 157 280 ha grond, bestaande uit 164 plase, is in net 10 maande van Augustus verlede jaar tot Maart vanjaar aan ontluikende boere oorhandig.
"Die Regering het gesê teen 2015 wil hy 30 % van alle landbougrond herverdeel hê. Dis 28,7 miljoen hektaar. Ons het al 2,3 miljoen hektaar uitgedeel. Met nog 13 jaar oor om dié teiken te haal, is ons beslis op die regte spoor," het mnr. Makoe gesê.
15 November 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24