|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Groot onsekerheid — prontuit gesê 'n Babelse verwarring — heers oor die Regering se voorgestelde AgriBEE-mikpunte, veral wat die herverdeling van grond betref. Sleutelvrae is die volgende: Hoeveel grond is daar? Wat is die potensiaal daarvan? Wie besit die grond? Hoeveel hiervan moet nog herverdeel word?
Op 'n onlangse boerekongres, kort ná die bekendstelling van me. Thoko Didiza, die Minister van Landbou en Grondsake, se AgriBEE-raamwerk, is opgemerk dat dié dokument meer vrae skep as wat dit antwoorde bied.
In die onstuimige dae ná die bekendstelling van die raamwerkdokument het dit opnuut duidelik geword dat blanke boere in die algemeen nie teen die konsep van AgriBEE en grondherverdeling gekant is nie. Inteendeel, die meeste is ywerig om dit te maak werk.
In boeregemoedere is daar egter heelwat brandende vrae wat oor die amptelike mikpunte gestel word. Waarskynlik die diepliggendste hiervan is die Regering se oogmerk dat 30 % van alle landbougrond teen 2014 herverdeel moet wees.
Voordat groter duidelikheid hieroor verkry kan word, moet die heersende stand van sake eers vasgestel word. In debatte oor grondbesit word steeds beweer dat blankes, wat sowat 11 % van die bevolking uitmaak, 87 % van die grond in Suid-Afrika besit.
Dié stelling word weerlê in 'n verslag van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge in 1991/92. Hiervolgens het bykans 66 000 blanke boere toe op 77 miljoen hektaar geboer. Dit is onwaarskynlik dat die instituut dié hoeveelheid sou onder-beraam het. In dieselfde verslag word beraam dat bruin mense en Indiërs op 515 000 ha boer. In die geval van bruin mense, boer hulle meestal kollektief op voormalige kerkgrond.
Die sogenaamde swart kolle buite die voormalige tuislande beslaan 157 000 ha. Die oorgrote meerderheid swart boere is kommunale boere, wat beteken hulle boer op staatsgrond. Tabel 1 toon hoe dié prentjie persentasiegewys gelyk het.


Die totale hoeveelheid staatsgrond in Suid-Afrika beslaan sowat 25 miljoen hektaar. Dít blyk uit verslae van 'n konsortium navorsers wat onlangs 'n omvattende studie oor bemagtiging in die landbou in opdrag van die nasionale Departement van Landbou gedoen het.
Prof. Frans Swanepoel het 'n konsortium van navorsers gelei. Swanepoel is die direkteur van navorsingsontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat. Die ander spanlede was me. Agnes Nyamande-Pitso, proff. Edward Nesamvuni en Almero de Lange, en mnr. Aldo Stroebel.
Die studie is onderneem met die oog op die AgriBEE-raamwerkdokument wat Didiza bekend gestel het.
Van die 25 miljoen hektaar staatsgrond word sowat 9 miljoen hektaar vir nie-landboukundige doeleindes gebruik, soos deur die weermag en vir parke, natuurreservate en ander beskermde gebiede.
Landbou op staatsgrond word hoofsaaklik beoefen op die kommunale grond van die voormalige tuislande, wat 15,5 miljoen hektaar beslaan, asook die 1,2 miljoen hektaar grond wat voorheen in trust gehou is vir tuisland-konsolidasie. In die navorsers se verslag word aanbeveel dat veral die trust-grond as 'n vinnige meganisme gebruik moet word om kommersiële swart boere as entrepreneurs te vestig. In die Oos-Kaap is reeds groot vordering hiermee gemaak, sê hulle.
Die boerpot-vraag is klaarblyklik steeds of die voormalige tuislande by die Regering se 30 %-mikpunt ingesluit is. Luidens die AgriBEE-raamwerkdokument moet 30 % van landbougrond teen 2014 aan swart Suid-Afrikaners behoort. As die tuisland-grond buite rekening gelaat word, verteenwoordig dit 'n oordrag van sowat 23 miljoenhektaar. As die tuislande ingereken word, is die oordragmikpunt 11 miljoen hektaar.
Wisselende produksiepotensiaal is 'n verdere fundamentele veranderlike wat in die herverdeling in ag geneem sal moet word. Dit word algemeen aanvaar dat Suid-Afrika net sowat 3 % hoë potensiaal grond het.
Die vestiging van swart boere in die ekstensiewe dele van die land kan bydra tot die vinnige bereiking van mikpunte ten opsigte van grondoppervlakte, maar min nuwe boere sal dan gevestig word.
Aan die ander kant sal toegang tot klein oppervlaktes hoëpotensiaalgrond weinig bydra ten opsigte van die mikpunt vir grondoppervlakte, maar baie nuwe boere sal so gevestig kan word.
Die konsortium navorsers stel in hul verslag 'n oplossing voor om eweredige deelname deur wit en swart oor die hele land te bewerkstellig: "...as 'n mens deur enige boerderygebied sou ry, moet naastenby elke derde plaas in swart besit wees".
Die verslag wys ook daarop dat boere in Suid-Afrika se kommunale gebiede 38 % van die land se beeskudde besit. 'n Volle derde van die land se totale teeproduksie kom uit die Lusikisiki-gebied.
Groot dele van die kommunale gebiede het 'n hoëlandboupotensiaal, maar dit word weens verskeie redes nie behoorlik ontgin nie. Inteendeel, op die meeste van die kommunale gebiede word ver onder die potensiaal geproduseer, lui die verslag.
Boere sonder die nodige trekkers en werktuie ploeg byvoorbeeld aaneen vlak op dieselfde grond. Dit het 'n ondeurdringbare grondlaag geskep wat droëland-graanproduksie belemmer. Groot dele grond wat vir gewasproduksie geskik is, word glad nie of nie behoorlik bewerk nie. Redes hiervoor is 'n tekort aan arbeid omdat so baie ekonomies aktiewe lede van die gesin ver van die huis af moet werk, as gevolg van duur produksiemiddele of die onbeskikbaarheid van meganisasie.
Provinsiale departemente van landbou in die Oos-Kaap, Limpopo, KwaZulu-Natal en Noordwes bestee 'n groot deel van hul begrotings en mannekrag aan die bevordering van landbouproduksie in kommunale gebiede. Dít geskied hoofsaaklik deur infrastruktuur- en markontwikkeling, voorligting, klein produksielenings, bul- en ramskemas en meganisasiedienste.
Nuwe denke oor grondgebruik in die kommunale sektor is egter nodig, lui die verslag. In Limpopo is 'n paar projekte waarin vennootskappe tussen kommersiële boere en plaaslike gemeenskappe gesluit word om die probleem met onderproduksie te probeer verlig, veral in die hoëpotensiaalgebiede waar tropiese vrugte geproduseer word.
Meer as een senior provinsiale landbou-amptenaar betwyfel egter die konsep van "gemeenskap" as 'n meganisme vir landbou-ontwikkeling, lui die verslag. Hierdie amptenare meen daar is te veel nie-landbouers wat "opportunisties" op kommunale grond boer. Hulle verhinder die bona fide-landbouers om produktief te wees. Ander amptenare meen gemeenskap-gegronde modelle vir bemagtiging werk nie in die landbou nie weens die interne botsing van belange.
"Ontwikkeling wat finansiële winste vir begunstigdes sal skep, vereis 'n denkskuif in die rigting van steun aan entrepreneurs. Daar moet op individuele bemagtiging gefokus word, wat die vestiging van 'n swart boereklas in die gemeenskap sal verseker," meen die amptenare.
SA se landbou-potensiaal
Landbou-potensiaal is 'n fundamentele veranderlike wat in die stel van mikpunte vir swart bemagtiging in die landbou in ag geneem sal moet word.
Luidens me. Thoko Didiza, die Minister van Landbou en Grondsake, se AgriBEE-raamwerkdokument, moet 20 % van landbougrond met 'n hoë potensiaal teen 2014 vir verhuring aan swart boere beskikbaar gestel word. Dít is benewens die algemene mikpunt dat 30 % van landbougrond teen 2014 in swart hande moet wees.
Die internasionaal aanvaarde klassifikasiestelsel van ene Klingebiel en Montgomery verdeel grond in agt klasse van gebruiksvermoë. Dit neem faktore, soos grondbeskadiging weens erosie, asook die klimaat en 'n gebied se fisieke eien-skappe, in ag.
Volgens dié stelsel ly altesaam 95 % van Suid-Afrika se grondgebied aan ernstige beperkings wat reënval, terrein en grondtipe betref. 'n Bietjie meer as 'n vyfde (21 %) van die land is bewerkbaar, en 'n verdere 13 % is marginaal bewerkbaar.
24 September 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24