|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Boere sal nie heeltemal sonder kommersiële kunsmis kan klaarkom nie, maar hulle kan hul bemestingskoste aansienlik verlaag as hulle die grond- en plant-ekostelsel inspan vir die vervaardiging van noodsaaklike plantvoedingstowwe. Verlaagde risiko en volhoubare produksie is 'n bonus van dié stelsel.
Al hoe meer mense besef dat om die Skepper se grondvrugbaarheidsplan buite rekening te laat, 'n doodloopstraat is. Die lig dat biologiese boerdery winsgewend en volhoubaar is, begin al hoe meer deurbreek.
Die hoofdryfkrag agter boere se vinnig groeiende belangstelling in biologiese boerdery is ekonomies van aard. Baie boere besef dat om saam met die natuur te werk, groot voordele inhou. Die feit dat baie boere 'n daling in die produksiepotensiaal van hul plase ondervind, is 'n verdere stukrag agter die biologiese benadering tot grondvrugbaarheid.
Hierdie boere moet meer insit om produksievlakke te handhaaf en dit plaas druk op die wins. Biologiese bemesting is nie alleen baie goedkoper as kommersiële kunsmis nie, dit verlaag ook die risikofaktor van die boerdery.
In hierdie artikel word na die wetenskap van lewe in die grond gekyk, en wat hierdie lewe se bydrae tot die voeding van die plant is. Die vermoë van biologiese prosesse om stikstof aan die plant te voorsien, word veral onder die loep geneem.
Dit is verstommend dat inligting oor die belangrikheid van die grond- en plant-ekostelsel selde of ooit by die boer uitkom. Dit is nie oordrewe om te sê dat die aantal boeredae wat in die laaste 50 jaar in Suid-Afrika aan dié onderwerp toegewy is, op net een hand getel kan word nie.
Die onderwerp is beslis nie op die lippe van kunsmisverkoopsmanne nie, en kom ook nie tot sy reg by landbou-opleidingsentrums nie. Tog is dit die belangrikste ekostelsel ter wêreld. Alle lewe op aarde is daarvan afhanklik - so ook boere se ekonomiese welvaart.
Daar is baie meer "diere" onder die grond as bo die grond. In net een handvol humusryke grond is meer mikro-organismes as die mense op die aarde. Sekere soorte mikrobes leef in harmonie met mekaar soos wildebeeste en sebras in die wildtuin. Hulle "wei" saam omdat dit tot hul voordeel is. Daar is ook mikrobes (predatore) wat jag maak op ander. Hulle is van groot belang in die bekamping van mikrobes wat siektes veroorsaak en plante aanval, soos die aalwurmnematode.
Die vermoë van grondmikro-organismes om plantvoedingstowwe te voorsien, is egter hier ter sprake. Mikrobes besit die besonderse vermoë om plantvoedingstowwe wat in 'n ontoeganglike vorm in die grond voorkom, toeganklik vir hulself en plante te maak. Dit word mineralisering genoem. Verder neem mikrobes voedingstowwe uit die lug op. Mikrobes kan dus plantvoedingstowwe vervaardig en versamel en só die behoefte aan kunsmis verlaag. Verstommende hoeveelhede mikrobes kom in die grond voor. Dit is meer sinvol om in terme van gewig as getalle te praat. Die totale gewig van mikrobes wat in een hektaar voorkom, is gelykstaande aan een of twee groot Frieskoeie. Dié "koeie" produseer "melk" in die vorm van voedsel vir plante. Die "koeie" moet kos kry en hier speel die plant 'n groot rol. Plante skei groot hoeveelhede voedingstowwe uit hul wortels af, hoofsaaklik suikers wat in die blare deur fotosintese vervaardig word. Dié kos stel mikrobes in staat om hul funksies te verrig.
Mikrobes is nodig om plantreste af te breek. Die reste is mikrobekos en daaruit word hul eie liggaamsweefsel gebou. Die lewensduur van mikrobes is kort. Wanneer hulle vrek, word die boustene van hul weefsel vrygestel wat deur ander mikrobes of plante gebruik word. Mikrobes se liggame bevat die hoogste stikstofinhoud van alle lewende weefsel en benodig dus baie stikstof. Hul koolstof-tot-stikstof-verhouding (C:N-verhouding) kan so laag as 6:1 wees. Omdat die C:N-verhouding van stoppels wat ingewerk word baie wyer is, selfs 100:1 in die geval van koring, het mikrobes stikstof nodig vir die opbou van hul liggaamsweefsel. Stikstof moet van êrens verkry word om die C:N-verhouding van 100:1 tot 6:1 af te bring. Dit kan uit soutbemesting kom, wat die duur roete is, of die goedkoopste bron, naamlik lug, wat sowat 78 % stikstof bevat.
Dit is 'n bekende feit dat peulplante huisvesting bied aan rhizobium-bakterie wat spesialiste is in die ontginning van stikstof uit die lug. Die peulplant sorg dat dié werkers kos kry sodat hulle vir die plant broodnodige stikstof kan bind. Die feit dat daar vrylewende grondbakterie is wat ook spesialiseer in stikstofbinding en beduidende hoeveelhede hiervan kosteloos kan produseer, is egter minder bekend. 'n Groot pluspunt van hierdie biologiese stikstof is dat dit baie minder onderhewig is aan uitloging en verdamping as dié van stikstof uit die sak. Biologiese stikstof kom ook in 'n pakket saam met 'n volledige reeks makro- en mikronutriënte, asook plantstimulante en groeihormone.
Kry biologiese bemesting só
Boere wat meer hoëgraadse tog uiters goedkoop plantvoedingstowwe in die vorm van biologiese bemesting in die hande wil kry, moet sekere reëls nakom. Hulle moet waardering begin toon vir hul hardwerkende "werkers" (mikrobes) wat geensins op 'n minimum loon aandring nie. Hierdie "werkers" sal egter nie goeie werk lewer sonder 'n gesonde rantsoen en gemaklike huisvesting nie. Hulle is ook baie allergies vir soute en gifstowwe. As te veel hiervan toegedien word, is die vervaardigers van biologiese misstof gou op siekverlof.
Dit is skokkend om te sien hoeveel boere hul ondergrondse "werkers" gruwelik mishandel. Hulle behoort aangekla te word. Veral dié wat stoppelrantsoene verbrand. Die gebruik van kunsmis met 'n hoë soutindeks asook die toediening van dodelike gifstowwe is ernstige vorms van mishandeling.
Pynappelboere is veral skuldig hieraan. Hulle pleeg volksmoord deur voor planttyd die grond te berook om patogene nematodes onder beheer te kry. Terselfdertyd maak hulle die meeste van hul ondergrondse plaaswerkers in die gasoonde dood. Hulle is nie daarmee tevrede nie. Ná planttyd dien hulle groot hoeveelhede industriële onkruiddoders toe wat die finale uitklophou aan biologiese bemesting gee.
Boere wat dié soort wanpraktyke toepas, besef blykbaar nie dat hulle op die ou end self daarvoor sal moet opdok nie.
Aggresiewe bewerking, soos diep ploeg, vernietig humus wat belangrik is vir mikrobes se huisvesting en kosvoorsiening. Dit is teenproduktief ten opsigte van die verkryging van biologiese plantvoeding.
Grond wat kaal oorlê, is ook 'n hoogs skadelike praktyk. Hiermee word die voedselversamelaars in 'n grondoond gebak en natuurlik vrek hulle soos vlieë. Dié wat oorleef, sterf aan hongersnood.
In mnr. Gary Zimmer ('n Amerikaanse kenner op die gebied van biologiese boerdery) se boek,The Biological Farmer, gee hy 'n waardevolle tabel van die soutindeks van verskeie kunsmissoorte. Sy raad is dat boere moet strewe om die skadelike effek van soutkunsmis te minimaliseer deur kunsmis met 'n lae soutindeks te gebruik. Die soutindeks word in bygaande grafiek getoon.
Sout is 'n probleem omdat 'n soutoplossing water uit lewende weefsels trek. Mikrobes kan nie in hoë soutgronde floreer nie. Hoe hoër die grond se soutfaktor, hoe moeiliker is dit vir die plante om voedingstowwe uit die grond op te neem.
Dit is 'n bekende feit dat die groenrevolusie ná die Tweede Wêreldoorlog in aanvang geneem het. Produksievlakke het as gevolg van die toediening van hoë vlakke van soutkunsmis - veral stikstof geklim. Fabrieke wat stikstof vir plofstof vervaardig het, het 'n na-oorlogse mark daarvoor op plase gevind.
Hoewel na die groen revolusie vandag deur sommige ekologies georiënteerde mense as die bruin revolusie verwys word weens die skade wat aan die grond aangerig is, glo die meeste boere en akkerboukundiges dat top-produksie nie sonder hoë vlakke van stikstofbemesting behaal kan word nie. Tog is dit waar dat hoogs bevredigende en winsgewende produksievlakke behaal kan word met baie minder stikstof as wat die aanvaarde norm is.
Dr. Elaine Ingham, bekende grondmikrobioloog van Amerika, het in die vroeë tagtiger jare 'n proef by die Georgia-universiteit begin om biologiese bemesting met standaardbemesting te vergelyk. Mielies, sojabone en graansorghum word in wisselbou verbou. Van 1985 tot nou is die opbrengste van die biologiese blokke dieselfde en soms hoër as die standaardblokke. Die verstommende feit is dat die gemiddelde stikstofinset op die biologiese blokke slegs 4 kg/ha per jaar is. (Dr. Ingham se webadres is: www.soilfoodweb.com).
Plaaslik is 'n kikoejoe-klawerweiding wat sonder die toediening van enige kunsmis vir bykans drie jaar steeds uitstekend produseer.
Forums
kan boerdery op winspad plaas
Boere wat die biologiese pad volg en hul grond só herstel, sal vind dat hul produksiekoste verlaag, risiko verminder, winsgewendheid verhoog en hul boerdery weer volhoubaar word.
Die eerste forum word van 27 tot 28 Augustus op Vanderbijlpark gehou en die tweede van 3 tot 4 September op Stellenbosch. Dieselfde program word by albei sentrums aangebied. Die hoofsprekers is mnre. Gary Zimmer, 'n Amerikaanse biologiese boerderykonsultant, en Neil Ballard, 'n biologiese boer van Australië.
Die koste van die forum beloop R1 950 per persoon wat
Mnr. John Fair, 'n bekende weidingkundige, bied saam met Landbouweekblad later vanjaar twee biologiese boerderyforums aan met die tema "Die herstel van die biologiese vrugbaarheid van landbougrond".
betyds voor 15 Julie registreer. Diegene wat laat registreer se koste beloop R2
500. Navrae kan gerig word aan me. Lyndi Burgess, by tel./faks 058 622 3585, sel
082 739 4599 of e-pos:
href="mailto:fair@kingsley.co.za">fair@kingsley.co.za
25 April 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24