Von Abo-saak: 'Staat moet regte herstel'

 

Die Staat is twee maande gegun om die regte te herstel van mnr. Crawford van Abo, 'n boer van Bothaville, nadat 14 van sy plase in Zimbabwe deur oorlogsveterane oorgeneem is.

Hilda Fourie van Beeld skryf ná 'n stryd van meer as tien jaar om sy grond en eiendomme in Zimbabwe terug te kry, het die wiel uiteindelik vir mnr. Crawford von Abo (75), 'n mielieboer van Bothaville in die Vrystaat, gedraai.

Die Pretoriase hooggeregshof het gister gelas dat Von Abo die reg het op diplomatieke beskerming van die Suid-Afrikaanse regering nadat sy regte deur die Zimbabwiese regering geskend is.

Al sy plase in Zimbabwe is onteien
"Die onvermoë van die respondente (die Suid-Afrikaanse regering, pres. Thabo Mbeki en die ministers van Buitelandse Sake, Handel en Nywerheid, en Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling) om die applikant (Von Abo) se aansoek om diplomatieke beskerming redelik te oorweeg, daaroor te besluit en te hanteer, is teenstrydig met die Grondwet en ongeldig," het regter Bill Prinsloo gesê.

Hy het gesê die regering het 'n grondwetlike plig om diplomatieke beskerming aan Von Abo te gee.

"Dit is moeilik om nié tot die gevolgtrekking te kom dat die respondente die applikant aan 'n sleeptou gehad het en nooit die bedoeling gehad het om hom behoorlik te beskerm nie.

Lamlendige pogings
"Hul lamlendige pogings kom neer om stille toestemming in die optrede van hul Zimbabwiese ampsgenote en hul oorlogsveterane-booswigte," het die regter gesê. Prinsloo het die regering 60 dae gegee om al die stappe te doen om Von Abo se regte wat deur die Zimbabwiese regering geskend is, te herstel.

Mnr. Tony Leon, DA-woorvoerder oor buitelandse sake, het dié uitspraak in 'n verklaring verwelkom.

Leon sê pres. Mbeki het die afgelope agt jaar alle in sy vermoë gedoen om die brutale diktatorskap van Robert Mugabe te beskerm. In hierdie eenoogige navolging hiervan was Mbeki meer as gewillig om die regrte van gewone Suid-Afrikaners prys te gee. "Die hofuitspraak bevestig dat die president daarin gefaal het om beskerming te bied aan dié mense wat hy moes dien."

Leon sê dié uitspraak dien ook om Mbeki se stilswyende instemming van die misdade deur die Zanu-PF-regering gepleeg is, uit te lig.

Wat nou?
Luidens die berig in Beeld kan die volgende nou volg:

  • Die stappe kan wees om diplomatieke druk op die Zimbabwiese regering te plaas om Von Abo se 14 plase en eiendomme soos vee en plaastoerusting terug te gee en hom skadevergoeding te betaal vir verliese wat hy gely het toe die Zimbabwiese regering wit eienaars se plase onteien het.

  • Nog 'n vorm van diplomatieke beskerming kan wees om Von Abo te help om die roete van die Internasionale Konvensie oor die Skikking van Beleggingsdispute te volg en 'n verhoor voor 'n internasionale arbitrasie-tribunaal te kry.

  • 'n Ander moontlikheid vir die regering kan wees om in 'n bilaterale beleggingsooreenkoms oor die beskerming van eiendom te tree met terugwerkende krag.

    Oor 60 dae moet die SA Regering aan die hof verslag lewer oor watter stappe hy gedoen het.

30 Julie 2008

0