|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Swart ekonomiese bemagtiging in die landbou het nog 'n hupstoot gekry met 'n transaksie van R22 miljoen in die eierbedryf. Die model waarvolgens die transaksie beklink is, is deurslaggewend vir die nuwe eienaars se sukses.
Dit is nie goed om al 'n mens se eiers in een mandjie te hê. Die enigste uitsondering is dalk wanneer eier-produksie ter sprake is.
Swart bemagtiging in die eierbedryf het pas 'n aansienlike hupstoot gekry toe een van die grootste bemagtigingstransaksie nóg in dié bedryf afgehandel is. Suid-Afrika se naasgrootste eierverspreider, Eggbert Eggs, het in 'n transaksie van R22 miljoen een van sy produksieplase, Rooikraal, by Boksburg, aan die plaas se werkers en bestuur verkoop.
Die nuwe eienaar van die plaas is Maye Serobe, 'n nuutgestigte bemagtigings-maatskappy. Eggbert Eggs kontrakteer nou sy produksiegeriewe uit. Hy konsentreer op bemarking en drie verpakkings-stasies vanwaar eiers aan die kleinhandel verskaf word.
Maye Serobe, wat "eiers in die nes" beteken, sal 'n aandeel van 74 % in die produksieplaas besit. Die 40 werkers se aandeel is 49 % en word in 'n trust gehou. Mnr. Petrus Fanqa, bestuurder van die plaas en nou besturende direkteur van die nuwe maatskappy, besit 25 %. Eggbert Eggs behou die oorblywende 26 %.
Op die plaas is sowat 420 000 henne wat ongeveer 300 000 eiers per dag lê. Sowat 1 200 ton voer word maandeliks gebruik.
Een van die grootste uitdagings in die eierbedryf is bemarking. Mnr. Nell Wiid, besturende direkteur van Eggbert Eggs, meen Maye Serobe se risiko is aansienlik laer. Die nuwe maatskappy het 'n kontrak met Eggbert Eggs gesluit om sy eiers op lang termyn te bemark. Die kontrak is aan voerkoste gekoppel. Voer maak sowat 65 % van die totale koste van eierproduksie uit. Die nuwe eienaars kan nou hul volle aandag aan produksie gee.
"Die kleinhandelmark het só gespesialiseerd geword dat ons glo jy kan nie fokus op die verskaffingsketting sowel as eierproduksie nie," sê Wiid.
Afgri Finansiële Dienste, 'n afdeling van Afgri, het 'n lening wat oor tien jaar terugbetaal moet word vir die transaksie voorsien. Afgri het Eggbert Eggs tot in 1999 besit.
Mnr. Dominic Sewela, adjunk-uitvoerende hoof van Afgri Finansiële Dienste, sê gebrekkige kontantvloei is een van die grootste probleme by bemagtigingsondernemings. Hy is egter vol vertroue dat die nuwe maatskappy se kontantvloei sterk genoeg sal wees om die lening binne tien jaar terug te betaal. Hy glo in die lig van die feit dat Maye Serobe se bates gebruik is om die transaksie te finansier én hy 'n langtermynkontrak met Eggbert Eggs het, is die risiko vir die finansier laag.
Die koste verbonde aan die finansiering van bemagtigingstransaksies word soms as buitensporig hoog beskou weens die moontlike hoërisikoprofiel van die nuwe sakevennote. Sewela is oortuig dat dit nie die geval is met hierdie lening van R22 miljoen nie. Afgri Finansiële Dienste sou nie die lening toegestaan het as hy gedink het die bedrag is nie markverwant nie.
Fanqa (34) het 12 jaar ondervinding in eierproduksie.
Hy het sy loopbaan op die plaas Rooines, wat deel is van Rooikraal, begin. Van meet af aan is hy geïdentifiseer as 'n hardwerkende mens. Hy het sy pad na bo oopgewerk van toesighouer tot assistent-bestuurder tot produksiebestuurder. In 2003 is hy as bestuurder van een van die twee eenhede op die plaas aangestel. Later die jaar het hy ook die bestuur van die tweede eenheid oorgeneem.
Die bestuursuitkoop is 'n groot aansporing vir die werkers, sê Fanqa.
"Dit voel goed om te weet jy het 'n persoonlike belang in die onderneming waarvoor jy werk. Dit motiveer die personeel. Dit is te sien in die statisieke. Eierproduksie is hoog en hoendervrektes is laag."
Die proses om 'n handves vir transformasie en ekonomiese bemagtiging in die volle waardeketting van die landbousektor daar te stel, is reeds ver gevorder.
Wiid glo sy maatskappy tree vroegtydig op om die Regering se mikpunt te haal dat 30% van die land se grond en landboubates teen 2014 in die besit van voorheenbenadeelde mense moet wees. Die transaksie word om politieke sowel as sakeredes gedoen.
Hy sê die meerderheid transaksies vir kontrakproduksie in die braaikuikenbedryf het 'n bemagtigingselement.
Volgens Sewela bevat die transaksie ál die aspekte waaraan 'n goeie model vir breë bemagtiging behoort te voldoen.
"Daar moet 'n oordrag van vaardighede aan swart personeel wees. Die bemagtigingsbelegger behoort in 'n posisie te wees om die rigting waarin die onderneming beweeg, te beïnvloed. Laastens moet daar 'n oordrag van kapitaal wees."
11 Februarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24