Deur AMELIA GENIS
4 Junie 2011

2868 keer gelees | 8 kommentaar

Hy soek uitvoerbare planne vir werkskepping in die landbou, sê prof. Mohammad Karaan, en hy wil graag van jóú, Landbou.com-gebruiker, hoor.


Hy soek uitvoerbare planne vir werkskepping in die landbou, sê prof. Mohammad Karaan, en hy wil graag van jóú, Landbou.com-gebruiker, hoor.

Die staatstoelaes wat meer as 14 miljoen Suid-Afrikaners toeval, is nie op die duur bekostigbaar nie, en die grootskaalse armoede wat daartoe gelei het, noodsaak eerder groter indiensneming. Die landbou is een van die sektore van wie grootskaalse werkskepping verwag word. Maar hoe?

Landbou kan een miljoen werksgeleenthede skep deur die uitbreiding van graanproduksie, besproeiingslandbou, invoervervanging en waardetoevoeging. Met inbegrip van sekere beperkings en voorwaardes is dít waar die potensiaal lê, aldus ‘n lessenaarstudie deur ekonome van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP).

Maar om dié potensiaal vir werkskepping in volhoubare werksgeleenthede te omskep, bly ‘n tameletjie vir die landbou.

Imbizo oor werkskepping
Ná ‘n onlangse imbizo oor werkskepping in die landbou het prof. Mohammad Karaan, dekaan van Agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch en lid van die Nasionale Beplanningskommissie, gesê hy wil nou uitvoerbare planne hoor.

By die imbizo het van die land se grootste kommersiële boere, navorsers, amptenare van die verskillende bedryfsorganisasies en landboubesighede daarop gewys dat ‘n uitbreiding van besproeiingslandbou net deur beter benutting van bestaande watertoekennings en groter watergebruiksdoeltreffendheid kan geskied, terwyl werkskepping in die primêre landbou die vestiging van nuwe boere moet insluit.

Prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie, voorligting en landelike ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, het gesê die vraag na landbouprodukte uit Suid-Afrika moet verhoog word as daar planne is om produksie te vergroot. Eweneens sal boere en ander nie in die landbou belê as daar nie genoeg ekonomiese insentiewe is nie.

Politieke of beleidsonsekerheid is deur meer as een afgevaardigde voorgehou as ‘n rede waarom daar nie in die landbou belê word nie.

Vergoeding van werkers
Die gehalte en vergoeding van werkers in die landbou en die aantreklikheid van die sektor vir werkers is te berde gebring deur ‘n boer van Gauteng. Boere verwag dikwels dat swak opgeleide, swak betaalde werkers duur, gesofistikeerde toerusting met vaardigheid moet hanteer, maar kla dan dat hulle die beste en talentvolste werkers verloor aan werkgewers in die stede. Tog is Suid-Afrikaners wat wel kursusse aan landboukolleges of kolleges vir verdere opleiding (FET) deurloop het, “tot irrelevansie” opgelei.

Suid-Afrika het oor die jare verander in ‘n land wat groot hoeveelhede landbouprodukte wat hier geproduseer kan word, invoer. Waar die land in die onlangse verlede nog genoeg koring, plantolies, sojameel, hoendervleis, rooivleis en tamatiepasta vir eie gebruik geproduseer het en heelwat verwerkte mielieprodukte uitgevoer het, is dit nou ‘n groot invoerder van hierdie produkte, het mnr. Hamish McBain, wat jare in landbouverwerking gewerk het en nou as ‘n konsultant optree, gesê.

Mnr. Kevin Lovell, hoof uitvoerende beampte van die Suider-Afrikaanse Pluimveevereniging, sê sowat 30 000 werksgeleenthede kan in die pluimveebedryf geskep word as minder pluimvee ingevoer word, maar dit sal verg dat die Regering ten gunste van werkskepping moet besluit en daar kopskuiwe oor handelsooreenkomste gemaak sal moet word.

Hoewel die landbou beskou word as ‘n sektor waarin daar duisende werksgeleenthede geskep kan word, het indiensneming in die sektor ironies genoeg die afgelope 40 jaar stelselmatig gedaal tot sowat 603 000.

Minder permanente werkers
Voorlopige resultate van ‘n opname wat Oktober tot April by 110 boere in die provinsies Limpopo, Wes-Kaap en Namakwaland gedoen is, toon dat die meeste van dié boere nou minder permanente werkers - maar dikwels meer tydelike of seisoenswerkers - in diens het as tien jaar gelede. En, hoewel daar geen amptelike statistiek daaroor bestaan nie, word daar geraam dat duisende van die tydelike werkers van Zimbabwe en Mosambiek kom.

Dit laat heelpartye vrae ontstaan. Wat is die redes vir die vermindering van permanente werkers? Waarom maak Zimbabwiërs en Mosambiekers so ‘n groot deel uit van tydelike en seisoenswerkers?

Karaan glo konkrete antwoorde op die vrae kan help om struikelblokke op pad na groter indiensneming uit die weg te ruim.

Nog ‘n vraag wat Karaan besig hou, is hoekom dit vir entrepreneurs so moeilik is om ‘n besigheid in Suid-Afrika te vestig en met welslae aan die gang te hou. Hy glo Landbouweekblad-lesers kan hom help met die tergende vrae.

As jy dus ‘n boer is, of iemand wat ‘n suksesvolle onderneming op die been gebring het wat iets met die landbou te doen het, vertel jou storie. Indien nie, vertel wat dit is wat verhoed dat Suid-Afrika meer klein- en mediumgrootte besighede het.

Wat is jóú plan?
Werkskepping kan nie aan die Regering, die agri-verwerkingsektor of groot boere oorgelaat word nie: Elkeen kan ‘n bydrae maak, meen Karaan, en nooi boere om deel te neem aan die gesprek oor planne en die inwerkingstelling van die planne.

As hy Landbouweekblad lees, sien hy dikwels al die vindingryke planne en patente wat boere uitdink en uitvoer om probleme op hul plase te oorkom, en wonder watter uitvoerbare planne vir werkskepping in boeregeledere lê en wag.

As jy, jou buurvrou, die plaaslike werktuigkundige of meulenaar dus ‘n goeie plan vir werkskepping in die landbou (bv. boerdery-uitbreiding, vestiging van nuwe boere, verwerking van landbouprodukte, die vervaardiging van landbou-werktuie, opleiding) het, stuur dit aan werkskep@landbou.com. As jy nie tot e-pos toegang het nie, stuur ‘n faks na faksnommer 021 406 2940 en merk dit vir aandag “Werkskep”.

Sluit jou kontakbesonderhede by jou plan in sodat daar met jou in verbinding getree kan word.

4 Junie 2011


Kommentaar
Slegs in Afrikaans


Anoniem

2011/08/12 02:43:47 PM

1. Vat toelaes weg. Onmiddelik kan die belasting las aansienlik verlig word. Nou word mense verplig om te werk en ons kan mense in diens neem. Hoeveel keer word mense benodig maar niemand daag op nie? 2. Ons is braaikuikenboere. Ons het die afgelope 7 jaar gestagneer omdat daar nie 'n mark is met mededingende pryse nie. Hou op om hoedervleis teen lae tariewe in te voer. Laat daardie goedkoop vleis belas word en gee die boer in die binneland geleentheid om uit te brei en werk te skep. Op die manier help die buiteland om ons binnelandse begroting te help klop. 3. Neem al die baie arbeidswette weg en laat elke werknemer/gewer onderhandel en ooreenkom wat op elke plaas haalbaar is. Dit is tog wat 'n demokratiese bestel beteken, dan nie? 4. Hou op om vir almal te vertel hoe ryk hulle gaan word en hoe hulle bemagtig gaan word. Is elkeen wat vanaand by 'n tafel gaan sit en eet van die kos waarvoor hy hard en eerlik gewerk het nie reeds bemagtig nie? Hoeveel van ons is ryk en hoeveel spandeer voltyds aan beplanning en organisasie om net kop bo water te hou? 5.Leer ons kinders om te werk. In die ou dae het die kinders altyd saam met die boer op die bakkie gery, die hekke oopgemaak en gehelp om goed op en af te laai. As diere aangekeer moes word het hy hulle gestuur om dit te doen. Op die einde van die dag het elk 'n hand vol lekkers/vrugte of 'n paar sente gekry. Nou is daar soveel wetgewing dat niemand dit durf waag om iemand saam te laat ry nie. Die kinders verstaan nie die boer se taal nie en hulle wil niks doen sonder betaling nie. Ek dink nie dit is kinderarbeid nie maar wel opgroei in 'n nuwe situasie.


Leon Swartz

2011/08/04 09:30:00 AM

ja ek lees wat het jul gese en dit is waar dat minder bruin en swart mense ek sal dit so stel te lui is om retig iets aan te pak ek wil graag in my gemeenskap werk skep vir die werkloosheid om groente te plant ensovoorts maar ek nodig onsteuning as ek kan saad en tanke kan verskaf word sal dit nie n probleem wees om te begin maar dan ons se mense wil betalling he vir elke bietjie werk wat hul doen en as jy wat n persoon is wat geleentheid will skep en het nie die nodige finansies om hul te ondersteun hoe maak jy dan?


Butch van Blerk

2011/06/07 08:33:09 AM

Prof Karaan - ek sien eerlikwaar net een oplossing en dit is as die staat betrokke raak by Landbou en die boer se insetkoste subsideer. Die kanse daarvoor weet ons is nul, want die staat soek eerder die geld in die sakke van sy amptenare. Die gevolg is dat die Landbou nog verder sal bloei. Lees maar net die kommentare hierby. So Prof. - op hierdie stadium lyk u ideaal na 'n "pie in the sky". Met syfers kan mens ongelukkig nie stry nie.


VSA

2011/06/07 06:41:00 AM

Gee nie om waar nie, om mense te kry wat in die landbou wil werk is amper onmoontlik, selfs hier in die VSA. Dit is baie makliker om in die stad te bly en om 'n werkloosheidstjek te trek as om iets te doen. Sosialisme en 'n lui werksetiket is wereldwyd daarvoor verantwoordelik. Hier in die VSA probeer hulle met wette en regulasies dit net so moeilik maak om te boer deesdae. Soos 'n voorgestelde regulasie wat nou bespreek word om jou stof op jou eie plaas te hou as jy bv. stroop....maak sin of hoe :)


Limpopo ( H Erasmus)

2011/06/06 10:19:00 AM

1.Ons gebruik gedurende plukseisoen ongeveer 120 arbeiders waar ons die vereiste minimum loon en nog meer betaal as wat vereis word. As jy ry om arbeid te gaan haal is dit net die Mosambiekers(die sonder ID) en Zimbabwiërs wat op die trok klim. Die plaaslike arbeid WIL NIE werk nie. Elkeen wat voor hul huis in die son sit en bak het 5 en meer kinders waarvoor die staat hul elke maand betaal die sogenaamde DAN-DAN m.a.w. die kindertoelae. Die staat bevorder werkloosheid want die mense wil nie werk nie. Hul kry genoeg verniet by die staat. 2. Tweedens sit ons met arbeid wat plak op ons plaas wat nog nooit in ons lewe by ons gewerk het nie, maar die regering gee hul die reg om daar te bly. Ons betaal vir sy beeste en bokke en nou het hy boonop varke ook. Hy maak soos hy wil, saag bome af vir brandhout, sy beeste mag net 10 wees maar die troppie trek al ver oor die 20. As jy vir hom 'n prokureursbrief stuur trek hy net sy skouers op. Hy is die BAAS en ons die boer moet die plaas betaal. 3. As gevolg van die probleem raak ons ook van arbeid ontslae wat op ons grond bly, want dis net nog 'n erfgenaam. 4. Ons elektriese kabels word so 10 keer per jaar gesteel en ons trekkers word gesabboteer,die wiele word stukkend gesteek, op die verf word vieslike dreigemente uitgekrap, elke kabel en draad aan die trekker word afgebreek. Water word in die diesel gegooi. En as jy die SAP bel daag hul eers oor 2 tot 3 dae op of daag glad nie op nie. 5. Watter boer gaan werkskepping wil bevorder soos dit nou op die plaas vir die boer is? Ons meganiseer waar moontlik om minder arbeid te gebruik. 6. Die dag as die Zimbabwiër en Mozambieker uit die land moet wees gaan die landbou tot stilstand kom, want plaaslik sal jy nie arbeid kry nie daarvoor sorg die regering te lekker vir sy mense.


Tim Tin

2011/06/06 09:54:00 AM

Bou meer damme, skep infrastruktuur en kweek kos onder besproeing. Dit sal werksgeleendhede skep. Vergroot bestaande besproeingskemas. Bv, Oranje-Vis tonnelwater kan ook in die Sondagsrivier noord van Graaff-Reinet gestort word. Dit sal besproeingsmoontlikhede, landbou en verwante ondernemings laat opskiet en BAIE werksgeleenthede skep. Van noord van Graaff-Reinet tot vêr suid van Jansenville.


mkruger

2011/06/06 09:41:06 AM

Ek glo dat "alle" probleme in die land sal "ophou" die dag as ons regering ophou om wette vir alles te skep. Wette wat meetal voorkom asof hulle geskryf is om die lui skelm te beskerm. Die dag as die boer en sy werkers weer 'n "goeie" verhouding kan handhaaf en besluite kan neem sonder dat een of ander wet hom daardoe verplig, sal werk weer in die landbou begin kom. Kom ons kyk nou maar na die arbeidswette. Daar is geen wet as dit kom by die aanstel van 'n werker nie - behalwe dat sy vorige werkgewers nie mag kommentaar lewer nie. Probeer egter van die werker ontslae raak (en hom nog van die plaas af kry) na jy hom aangestel het dan kan jy maar net so wel die plaas verkoop.


saai

2011/06/05 11:36:48 AM

Landbou sedert 1990 Ons moet eers bepaal waarom het landbou sowat 1 miljoen werkers afgedank. Waarom het landbou sowat 500 000 werkers se huise vernietig. Nou kan ons vra hoe kan boere mense betaal wat nie so produktief is as ander lande se mense maar die boere moet kompeteer teen die beste ter wereld. Ek stem volkome saam met die berig oor werkskepping maar ons kan nie positief wees met bestaande toestande nie. Ons moet eers die negatiewe aspekte verwyder en omdat daar geen erns is aan die sake beskou ek die werkskepping as ‘n mors van tyd met geen doel vir nou of die nabye toekoms nie. Ek lys net ‘n paar praktiese probleme. 1. Mense wil nie in die landbou beleggings doen nie want; A) Mnr. Malema gaan die plaas vat. Hoe beter die plaas hoe gouer gaan dit gevat word. B) Winste is te laag en risiko’s te hoog C) Geen beskerming teen diefstal (ek het meer as R1 miljoen verloor a.g.v. diefstal.) D) Geen vergoeding van skade deur natuur of diefstal (as volstruise siek word en vernietig moet word is dit die boer se skade) E) Die regering verhoog wette en vereistes aan boere waaraan die boere nie ekonomies kan voldoen nie. F) Vakbonde en regering ondersteun glad nie die boere se arbeid nie en sal boere eerder vernietig. (Dit is hoekom boere eerder na ander Afrika lande gaan om te boer.) 2. Hoekom sal enige verstandige boer werk wil skep as hy bloot meer moeilikheid vir homself gaan maak? 3. Swak uitvoer beleid vir vleis maak dit nie lonend om te voer en nuwe verwerkings aanlegte te bou om op massa skaal uit te voer nie. Daar word eerder op massa skaal vleis en hoenders ingevoer. 4. Die Amerikaners kan geld leen teen 1% rente terwyl ons Landbank ons belas met 3% rente bo die prima koers. Tans is lenings van 12.5% rente die norm. 5. Die opname wat ek gedoen het van boere in my omgewing was geen boer jonger as 40 en 1 uit 23 was jonger as 50 jaar. Dus goeie ondervinding onder bestaande boere maar geen jong boer sien kans vir die landbou nie. Geen jong boer kan die landbou betree tensy pa vir hom geld gee nie. Hierdie sake knou die landbou so dat ons eerder werkers sal moet sny as verhoog.#

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/05/13 15/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2790c 2794c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1594c 1583c down -0.7
Skaapvleis A2/A3 4328c 4374c down 1.1
Varkvleis (gem. prys) 1765c 1767c down 0.1
Braaikuikens 1478c 1483c down 0.3

Aandele

Pricecheck Flights