Hy soek uitvoerbare planne vir werkskepping in die landbou, sê prof. Mohammad Karaan, en hy wil graag van jóú, Landbou.com-gebruiker, hoor.
Die staatstoelaes wat meer as 14 miljoen Suid-Afrikaners toeval, is nie op die duur bekostigbaar nie, en die grootskaalse armoede wat daartoe gelei het, noodsaak eerder groter indiensneming. Die landbou is een van die sektore van wie grootskaalse werkskepping verwag word. Maar hoe?
Landbou kan een miljoen werksgeleenthede skep deur die uitbreiding van graanproduksie, besproeiingslandbou, invoervervanging en waardetoevoeging. Met inbegrip van sekere beperkings en voorwaardes is dít waar die potensiaal lê, aldus ‘n lessenaarstudie deur ekonome van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP).
Maar om dié potensiaal vir werkskepping in volhoubare werksgeleenthede te omskep, bly ‘n tameletjie vir die landbou.
Imbizo oor werkskepping
Ná ‘n onlangse imbizo oor werkskepping in die landbou het prof. Mohammad Karaan, dekaan van Agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch en lid van die Nasionale Beplanningskommissie, gesê hy wil nou uitvoerbare planne hoor.
By die imbizo het van die land se grootste kommersiële boere, navorsers, amptenare van die verskillende bedryfsorganisasies en landboubesighede daarop gewys dat ‘n uitbreiding van besproeiingslandbou net deur beter benutting van bestaande watertoekennings en groter watergebruiksdoeltreffendheid kan geskied, terwyl werkskepping in die primêre landbou die vestiging van nuwe boere moet insluit.
Prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie, voorligting en landelike ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, het gesê die vraag na landbouprodukte uit Suid-Afrika moet verhoog word as daar planne is om produksie te vergroot. Eweneens sal boere en ander nie in die landbou belê as daar nie genoeg ekonomiese insentiewe is nie.
Politieke of beleidsonsekerheid is deur meer as een afgevaardigde voorgehou as ‘n rede waarom daar nie in die landbou belê word nie.
Vergoeding van werkers
Die gehalte en vergoeding van werkers in die landbou en die aantreklikheid van die sektor vir werkers is te berde gebring deur ‘n boer van Gauteng. Boere verwag dikwels dat swak opgeleide, swak betaalde werkers duur, gesofistikeerde toerusting met vaardigheid moet hanteer, maar kla dan dat hulle die beste en talentvolste werkers verloor aan werkgewers in die stede. Tog is Suid-Afrikaners wat wel kursusse aan landboukolleges of kolleges vir verdere opleiding (FET) deurloop het, “tot irrelevansie” opgelei.
Suid-Afrika het oor die jare verander in ‘n land wat groot hoeveelhede landbouprodukte wat hier geproduseer kan word, invoer. Waar die land in die onlangse verlede nog genoeg koring, plantolies, sojameel, hoendervleis, rooivleis en tamatiepasta vir eie gebruik geproduseer het en heelwat verwerkte mielieprodukte uitgevoer het, is dit nou ‘n groot invoerder van hierdie produkte, het mnr. Hamish McBain, wat jare in landbouverwerking gewerk het en nou as ‘n konsultant optree, gesê.
Mnr. Kevin Lovell, hoof uitvoerende beampte van die Suider-Afrikaanse Pluimveevereniging, sê sowat 30 000 werksgeleenthede kan in die pluimveebedryf geskep word as minder pluimvee ingevoer word, maar dit sal verg dat die Regering ten gunste van werkskepping moet besluit en daar kopskuiwe oor handelsooreenkomste gemaak sal moet word.
Hoewel die landbou beskou word as ‘n sektor waarin daar duisende werksgeleenthede geskep kan word, het indiensneming in die sektor ironies genoeg die afgelope 40 jaar stelselmatig gedaal tot sowat 603 000.
Minder permanente werkers
Voorlopige resultate van ‘n opname wat Oktober tot April by 110 boere in die provinsies Limpopo, Wes-Kaap en Namakwaland gedoen is, toon dat die meeste van dié boere nou minder permanente werkers - maar dikwels meer tydelike of seisoenswerkers - in diens het as tien jaar gelede. En, hoewel daar geen amptelike statistiek daaroor bestaan nie, word daar geraam dat duisende van die tydelike werkers van Zimbabwe en Mosambiek kom.
Dit laat heelpartye vrae ontstaan. Wat is die redes vir die vermindering van permanente werkers? Waarom maak Zimbabwiërs en Mosambiekers so ‘n groot deel uit van tydelike en seisoenswerkers?
Karaan glo konkrete antwoorde op die vrae kan help om struikelblokke op pad na groter indiensneming uit die weg te ruim.
Nog ‘n vraag wat Karaan besig hou, is hoekom dit vir entrepreneurs so moeilik is om ‘n besigheid in Suid-Afrika te vestig en met welslae aan die gang te hou. Hy glo Landbouweekblad-lesers kan hom help met die tergende vrae.
As jy dus ‘n boer is, of iemand wat ‘n suksesvolle onderneming op die been gebring het wat iets met die landbou te doen het, vertel jou storie. Indien nie, vertel wat dit is wat verhoed dat Suid-Afrika meer klein- en mediumgrootte besighede het.
Wat is jóú plan?
Werkskepping kan nie aan die Regering, die agri-verwerkingsektor of groot boere oorgelaat word nie: Elkeen kan ‘n bydrae maak, meen Karaan, en nooi boere om deel te neem aan die gesprek oor planne en die inwerkingstelling van die planne.
As hy Landbouweekblad lees, sien hy dikwels al die vindingryke planne en patente wat boere uitdink en uitvoer om probleme op hul plase te oorkom, en wonder watter uitvoerbare planne vir werkskepping in boeregeledere lê en wag.
As jy, jou buurvrou, die plaaslike werktuigkundige of meulenaar dus ‘n goeie plan vir werkskepping in die landbou (bv. boerdery-uitbreiding, vestiging van nuwe boere, verwerking van landbouprodukte, die vervaardiging van landbou-werktuie, opleiding) het, stuur dit aan werkskep@landbou.com. As jy nie tot e-pos toegang het nie, stuur ‘n faks na faksnommer 021 406 2940 en merk dit vir aandag “Werkskep”.
Sluit jou kontakbesonderhede by jou plan in sodat daar met jou in verbinding getree kan word.
4 Junie 2011