Nuwe besproeiingsriglyne vir weidingsproduksie is onlangs bekend gestel. Foto: ROBERT SOUTHEY
Minder waterverbruik vir verbeterde weidingsmateriaal is moontlik met die nodige kunsmis- en stikstofgebruik, aldus die WNR.
Navorsing is die afgelope twee jaar deur die
Waternavorsingsraad (WNR) en die Universiteit van Pretoria en van KwaZulu-Natal onderneem om die moontlikheid van doeltreffender waterverbruik vir weidingproduksie te ondersoek.
“Die studie het bevind dat deur een keer per week te besproei en bemesting met ’n hoë stikstof-inhoud ná elke oes toe te dien, ’n optimale oes met beter weiding en doeltreffender watergebruik behaal kan word,” lui ’n verklaring.
Na aanleiding van dié navorsing is nuwe besproeiingsriglyne vir weidingsproduksie onlangs bekend gestel. Die studie was ’n gevolg van die druk waaronder boere verkeer om, byvoorbeeld, meer melk te moet lewer, terwyl hulle terselfdertyd minder water moet gebruik.
Die raad sê volgens die
Melkprodusente-organisasie (MPO) moet die land se melkboere teen Desember vanjaar 2 460 miljoen liter melk lewer om in die groeiende vraag in die land te voorsien. Die vraag na dierverwante proteïene neem toe soos wat die bevolking groei en mense se lewenstandaard asook diëte verbeter en verander.
Die studieDie studie het spesifiek op die produksie van raaigras gefokus aangesien kennisgapings aangaande dié gewas geïdentifiseer is. Dit is ook die weidingsgewas wat primêr in die suiwelbedryf gebruik word. Die eksperimente is by die Hatfield-proefplaas in Pretoria en die Cedara-navorsingstasie in KwaZulu-Natal onderneem.
Die eksperimente is uitgevoer om te bepaal wat die uitwerking van verskillende hoeveelhede water, in kombinasie met verskillende aanwendings van stikstofbemesting op die groei, produksie en watergebruik van raaigras vir twee seisoene was.
“Die eksperimente het ook aangedui dat besproeiing en stikstofbemesting die opbrengs en blaaroppervlakte aansienlik beïnvloed het,” sê die WNR. Meer inligting oor die navorsingsverslag is by
www.wrc.org.za beskikbaar.