Landbou-finansieringsaangeleenthede was onlangs tydens ’n gesprek tussen die georganiseerde landbou en die vier groot handelsbanke in die land bo-aan die agenda. Die gesprek is deur Agri SA en die Landboubesigheidskamer (Agbiz) gefasiliteer.
“Die huidige markomstandighede skep vertroue vir belegging in die landbou en finansiële instellings beskou die landbou tans as een van hul voorkeursektore,” lui ’n verklaring. Albei die organisasies dui aan dat hulle dieselfde standpunt oor die aangeleentheid het.
Die makro-ekonomiese omstandighede waarbinne die bedryf funksioneer is in diepte tydens die gesprek bespreek, asook die betreklik gunstige produksie- en markomstandighede waarbinne die landbou handel dryf. Dié gunstige omstandighede het die bedryf se winsgewendheid en bategroei die afgelope vyf jaar ondersteun.
Optimisme
Die druk waaronder sekere bedryfsvertakkinge en streke van die landbou tans verkeer, is ook bespreek, hoewel dit duidelik was dat die oorhoofse finansiële posisie van die bedryf gunstig is. “Dié organisasies en handelsbanke beskou dit (die druk) egter as uitsonderings wat nie die algemene optimisme oor die bedryf se vooruitsigte demp nie.”
Verteenwoordigers van die bankgroepe het saamgestem dat hulle graag met boere oor kort- en langtermyn-sakeplanne wil gesels.
Verder het hulle aangedui dat finansiëring geredelik vir boere beskikbaar is, “insluitend vir grond wat aan restitusie-eise onderhewig is, maar uiteraard aan die gewone norme van terugbetaalvermoë en sekerheidstelling moet kan voldoen”.
Met dié stellings in gedagte sê Agri SA en Agbiz die handhawing van billike markwaarde van grond bly ’n belangrike voorwaarde vir vertroue by finansiers sowel as beleggers in die landbou.