Dit ís moontlik vir Suid-Afrikaanse boere om meer omgewingsvriendelik en doeltreffend te boer, sê mnr. Gerdie Landman, eienaar van die Mooimelk KoeiHotel-boerdery naby Cookhouse.
Landbou.com het Landman onlangs, as deel van die East4 South-projek van die Deutsche Welle - ‘n Duitse uitsaaikoöperasie - op sy plaas besoek.
Landman se boerdery is tot ‘n groot mate organies. Hy voed die sowat 4000 beeste op die plaas met voer wat hy self vervaardig. Dié voer word op 326 ha geproduseer, wat onder besproeiing is en met kraalmis van die melkboerdery bemes word. Die boerdery is langs die Visrivier geleë, waaruit die besproeiing plaasvind.
Altesaam 2000 van die beeste op die plaas is melkkoeie, wat die boerdery in staat stel om jaarliks sowat 15 miljoen liter melk te produseer. Dié melk voorsien jaarliks in die suiwelbehoeftes van sowat 300 000 mense.
Werksaamhede gaan deurnag voort
Die werksaamhede by die melkstal gaan deurnag voort. Dit staak slegs vir sowat drie ure oor die middag-etensuur, wanneer dit op die hitte van die dag in die Karoo is. Personeel in verskillende skofte dryf die melkstal. Van die koeie lewer soveel melk dat van hulle tot vier keer per dag gemelk kan word. Volgens Landman is hulle dus in staat om daagliks sowat 5500 koeie (koppe) te melk.
Landman is baie trots op die feit dat hy meer as 40 ton per ha se droë gewasse per jaar van sy aanplantings kan oes. Dié 40 ton bestaan uit droë mieliekuilvoer, hawer en erte.
Weens Landman se bemestingspraktyke floreer gewasse in die grond en is dit vir hom moontlik om drie oeste per jaar van ‘n land af te kry. Volgens Landman skeurbewerk hulle die grond met ‘n Airrater voordat hulle plant, maar die bogrond word nie versteur nie. Dié metode asook die kraalmisbemesting veroorsaak dat die grond relatief los is, wat die plante se wortels meer spasie vir groei bied, asook om vog op te neem.
Kyk gerus hier na ‘n video waar Landman wys hoe diep ‘n ystermeetpaal die grond kan ingaan, wat die losheid van die grond illustreer.
Nog ‘n omgewingsvriendelike en kostebesparende praktyk op dié plaas is die gebruik van hidrokrag vir besproeiing. Dié kragsisteem word aangedryf deur water met ‘n hoogteverskil van sowat 15m wat uit ‘n tonnel wat in ‘n berg op die plaas gebou is, kom.
Dié stelsel dryf ‘n hidro-turbine aan wat Landman op die ou end in staat stel om sy hektare onder besproeiing sonder kragkoste te besproei. “Dit enigste krag wat ons gebruik is so 20 kilowatt per maand om die wielietjies van die spilpunt te laat loop. Ons hidrokrag stel ons in staat om sowat R180 000 per maand in kragkoste te bespaar.”
Volgens Landman is die waterstelsel deur die plaas se vorige eienaar, Chris Troskie, geïnstalleer. Die meesterbreine agter die projek was egter die Bosch-broers wat in 1920 ‘n 1,6m by 1,6m tonnel van 550m lank deur die berg gebou het.
Kyk hier na ‘n video waar Landman meer oor hidrokrag vertel.
* Landman is een van die boere wat 'n iPad vir Landbouweekblad toets. Kyk hier na sy mening daaroor.
23 Desember 2011