Boere wat met "snaakse" tekens op hul plase of op plaaspaaie in die omgewing peuter, of dit probeer verwyder omdat hulle reken dat dit op plaasaanvalle kan dui en so dié aanvalle wil voorkom, skiet hulself in die voet. Die verwydering van selfs onskuldige tekens kan tot wraakaanvalle lei.

Afrika-tekens dui nie almal op potensiële aanvalle nie. Die verwydering daarvan, selfs van onskuldige tekens, kan 'n plaasaanval tot gevolg hê, bloot uit weerwraak omdat dié tekens verwyder is. Net so is talle mense wat hulself kenners van Afrika-tekens noem, nie werklik kenners van dié "teken"-taal nie en hulle kan boere se lewens in gevaar stel.

Dié ernstige waarskuwing van mnr. Lukas Swart, een van Suid-Afrika se voorste kenners van die "geheime" Afrika-tekentaal, volg op verskeie klagtes van boere oor sogenaamde "kenners" wat seminare aanbied, of nuusverklarings uitreik waarin boere aangeraai word om dié tekens te verwyder, of wat tekens verkeerd interpreteer.

Mnr. Swart het die afgelope 13 jaar navorsing gedoen oor die Afrika-tekentaal en staan die SA Nasionale Weermag nou al bykans twee jaar as fasiliteerder by in die veldtog teen plaasaanvalle. In dié tyd het hy boere oor die land heen toegespreek oor die identifisering en vertolking van die Afrika-tekentaal, en hulle ook raad gegee oor die identifisering van gevegsaanduidings en die beplanning van teenstrategieë.

Hy sê sommige van die sogenaamde kenners van dié taal maak hom moedeloos. Van dié mense woon sy seminare by, of hoor daarvan, en begin hulself as kenners op dié gebied aan ander boere voorstel, dikwels tot nadeel van dié boere aan wie hulle raad gee.

"Ek kraak niemand af nie. Alle hulp om boere se lewens te beveilig, moet aangemoedig word, maar boere moet hul huiswerk deeglik doen voordat hulle raad van enigiemand aanvaar wat homself 'n kenner noem. Boere se lewens is té belangrik om mee te dobbel."

Mnr. Swart sê die Afrika-tekentaal word al sedert die vroegste tye ingespan. Hoewel dit sedert 1838 vir misdaad ingespan word, is dit eintlik 'n onskuldige sosiale taal wat enigiets kan aandui – van waar die watergat is, of 'n dooie bok lê, tot waar, wanneer, by wie en hoe laat 'n begrafnis of partytjie gaan plaasvind. Geboortes en huwelike word dikwels ook op dié manier aangekondig.

"Ongelukkig wys dié tekens ook waar dagga gevind kan word, en by wie, waar en wanneer die ruiltransaksie gaan plaasvind." Hy sê daggaskuld is juis een van die kernoorsake van veediefstal, plaasaanvalle en moorde. Die buurman of boer se werkers kan nie altyd hul daggaskuld vereffen nie en reël dan dat hul skuldeisers die boer van vee, plaasprodukte of geld beroof in 'n poging om hul skuld te vereffen. Navorsing dui daarop dat hierdie veediefstalle die land en sy boere miljoene rande per jaar kos.

"Dit is 'n feit dat misdadigers die tekens in soveel as 90 % van plaasaanvalle inspan. Met die regte voorkennis van gevegsaanduidings en kennis van dié tekens het ons verlede jaar 171 plaasaanvalle voorkom."

Blote kennis van die tekens alleen is egter nie voldoende om plaasaanvalle te voorspel en te voorkom nie. Die kennis van tekens, plus 'n deeglike kennis en ontleding van die aanvaller se modus operandi en ander gevegsaanduidings, word hiervoor benodig.

Mnr. Swart sê boere wat tekens verwyder, skiet hulself op een van twee maniere in die voet. Verwyder hulle die tekens, dink die gebruikers daarvan moontlik dat die boer die tekens kan lees. Die misdadigers verwyder dan die tekens en beplan die plaasaanval in die geheim, of hulle vermoor die boer omdat hy hul "taal" ontsyfer het.

"Afrika hou nie daarvan dat met sy tekens gelol word nie, ongeag of dit vir misdaad of sosiale doeleindes ingespan word. Ek het onlangs 'n oproep gehad van 'n boer wat aanhoudend die tekens verwyder het. Hy het 'n kondoom en 'n stuk doringdraad daarom buite sy huis en in sy woonkamer op die bank gekry. Die boodskap was duidelik: Hou aan om ons tekens af te haal, en ons verkrag jou vrou.

"Die slim boer hou sy mond. Hy vertel nie vir sy werkers hy kan die tekens lees nie. Hy verwyder dit ook nie. Hy gebruik dit eerder as inligting wat hom deurentyd op die hoogte kan hou van wat op sy plaas aangaan en wat hom kan help om voorsorgmaatreëls te tref."

Mnr. Swart sê hy kry talle oproepe van dankbare boere wat aanvalle of moorde op dié wyse in die wiele gery het. Die mees onlangse voorval was 'n gewapende roof by 'n wynkelder in die Kaap wat danksy dié kennis suksesvol gefnuik is.

Om 'n kenner op die gebied van Afrika-tekentaal te word, geskied nie oornag nie, veral nie as jy op só 'n vlak moet wees dat jy ander kan oplei of as konsultant kan optree nie. Die taal is in soveel geheimsinnigheid gehul dat Afrika diegene wat dit durf waag om daaroor uit te praat, summier vermoor.

Die taal word tydens inisiasiekole aan Afrikane geleer vir sosiale kommunikasiedoeleindes. In misdaadskole waar Afrikane 'n sogenaamde ambag as misdadiger kan verwerf, word hierdie tekens vir misdaaddoeleindes ingespan en is die opleiding in hierdie tekens heelwat meer gespesialiseerd. Dit is dus uiters moeilik om inligting daaroor te bekom.

Mnr. Swart se belangstelling is sowat 13 jaar gelede geprikkel toe hy per abuis daarop afgekom het. Hy was besig om ondersoek in te stel na 'n misdaad toe sy Afrika-helpers vreemd gereageer het op die manier hoe stokke en klippe op die grond gepak was.

Hulle wou hom om die dood nie vertel wat dit beteken nie en hy moes sy eie metodes inspan om die taal te leer identifiseer en ontsyfer. "Dit het my 13 jaar se intensiewe navorsing en meer as R850 000 gekos om dit te bewerkstellig. Ek moes baie staatmaak op die hulp van informante. Selfs ná 13 jaar beskou ek myself nie as volleerd nie. Ek leer nog elke dag iets by."

Ná al die jare is hy steeds uiters versigtig wanneer stelle tekens vertolk moet word. Dit gebeur dikwels dat misdadigers dieselfde tekens of kleure in 'n gewysigde kombinasie gebruik. Dié kombinasie verskil dan só min van die kombinasie wat gewoonlik gebruik word, dat net 'n kenner dit korrek sal kan vertolk.

Die tekens kan ook misleidend wees. Nie elke stok of klip wat op 'n sekere manier lê of gerangskik is, is noodwendig tekens nie. Die patrone waarin dit voorkom en ander nie-teken-verwante gevegsaanduidings in die omgewing sal bepaal of dit 'n vals alarm is al dan nie.

Mnr. Swart sê 'n uitvloeisel van sy navorsing was die aanbied van kursusse. Hy neem boere ook veld toe om hulle daar te leer om gevorderde tekens te vertolk.

Hy leer vroue en kinders hoe om verkragtings tydens plaasaanvalle te voorkom en hoe om só iets vooraf te identifiseer.

Marietha du Plessis is 'n vryskut-joernalis.

4 Oktober 2002


Kommentaar

Een kommentaar op “Los Afrika-tekens liefs uit

  1. jfps@telkomsa.net
    jfps@telkomsa.net

    Baie goeie wenke


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.