Landbouweekblad het ‘n nuwe voorkoms, wat te siene is in die uitgawe van 2 November, wat van Maandag, 29 Oktober af, op die rakke sal wees.
Chris Burgess, hoofredakteur Landboutitels by LBW, sê toe besluit is om Landbouweekblad ’n nuwe voorkoms te gee, was die doel om dit vir jou, die leser, makliker te maak om die stories te geniet, die advertensies raak te sien en vinnig by jou gunstelingafdeling te kom, of dit nou die veilingsblaaie of die Opsitkers is!
“Die leeservaring moes eenvoudig meer genotvol wees. Niks meer nie, niks minder nie.
“By die artikels het ons nou nuwe inligtingspanele aan albei kante van die blaaie. Nie net bevat hulle ’n opsomming van die artikels se belangrikste punte nie, maar daar is ook nuttige inligting oor die plase wat besoek is, asook ’n paar bondige vrae aan die boere oor wie die storie handel. Dit sluit die belangrikste vraag in wat ’n mens enige boer kan vra: Wat is die grootste fout wat jy al in jou boerdery gemaak het?
Burgess sê die ou geel blaaie is nou wit, want die wit papier laat die foto’s beter vertoon. Papier, nes brandstof, se prys word ook op internasionale markte vasgemaak. Daar is lekker nuwe toevoegings tot die nuusblaaie. En nog baie meer!
En ná dekades maak Adoons-hulle weer ’n buiging. So, ons hoop ons lesers gaan die nuwe voorkoms geniet, en as daar iets is wat krap, stuur asseblief vir my ’n e-pos by chris.burgess@landbou.com. Dit is tog immers jul tydskrif! Lekker lees."
