Deur ONA VILJOEN
13 Augustus 2012

594 keer gelees | 0 kommentaar

Die klok vir die nuwe wolseisoen lui vandeesweek te midde van groot onsekerheid in dié bedryf weens die finansiële krisis in Europa.


Die 2012/’13-wolseisoen open Woensdag wanneer sowat 13 000 bale wol per veiling in Port Elizabeth aangebied sal word.

Die seisoen open te midde van groot onsekerheid weens die krisis in die euro-sone, wat ’n dempende uitwerking op pryse sal hê. In Australië, waar veilings reeds begin het, het die mark skerp teruggesak.  Die sterk Australiese dollar, groot aanbiedings en die Euopese vakansie het ook tot dié daling bygedra.

Plaaslike kopers meen dat pryse redelik bestendig sal bly, hoewel die mark aanvanklik kan terugsak, maar later weer sal stabiliseer. Wisselkoerse sal ook ’n rol speel.         

Die afgelope seisoen was een van die bestes in dekades. Wolpryse het ondanks moeilike vraagtoestande skerp gestyg en Cape Wools se Merino-aanwyser het tot sy hoogste vlak nog gestyg.  Die gemiddelde aanwyser was bykans 37% hoër as dié van die vorige seisoen. 

Verkope was 36% beter as voorafgaande seisoen
Altesame 289 689 bale is verlede seisoen per veiling aangebied en ’n verkooppersentasie van 100% is behaal. Die totale verkoopwaarde was R2,27 miljard – 36% hoër as die vorige seisoen.

Pryse is in ’n groot mate aangehelp deur die laer wêreldaanbod van kleedwol, wat tot sy laagste vlak in 60 jaar gedaal het.            

Hoewel die vraag na wol die seisoen onder groot druk sal bly, meen ontleders dat die lae aanbod weer sal help om die mark in ’n mate te stut. Aanduidings is dat wêreldproduksie dié seisoen onveranderd sal bly.             

Die aanbod uit Australië, die wêreld se grootste voorsiener van kleedwol, was ondanks verwagtinge van ’n styging die afgelope seisoen onveranderd op 345 miljoen kg, terwyl Suid-Afrika, die naasgrootste voorsiener, se produksie met 4% tot 44,2 miljoen kg gedaal het.        

China is groot koper van SA wol
China was weer die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse wol. Die waarde van die wol wat daarheen verskeep is, het 48% van die totale uitvoererwaarde beloop. Die naasgrootste invoerder was die Tsjeggiese Republiek, gevolg deur Indië en Italië. 

Plaaslike uitvoerders wat China pas besoek het, sê kliënte het hul kommer oor die vlak van besoedeling in die Suid-Afrikaanse skeersel uitgespreek en van hulle oorweeg dit om hul aankope af te skaal.      

Die gebruik van polipropileen om bale af te skort, bly een van die grootste probleme. Ingevolge die riglyne van die Kode vir Beste Praktyke vir die voorbereiding en verpakking van wol, mag net papierafskortings gebruik word omdat dit nie besoedeling veroorsaak nie.  

Mnr. Geoff Kingwill, voorsitter van Cape Wools, en uitvoerders het ’n ernstige beroep op wolprodusente gedoen om besoedeling te voorkom en hul wol volgens die neergelegde riglyne voor te brei en te verpak.


Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 14/05/13 21/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2814c 2815c down 0
Speenkalf (lewend) 1583c 1552c down -2
Skaapvleis A2/A3 4428c 4430c down 0
Varkvleis (gem. prys) 1766c 1774c down 0.5
Braaikuikens 1483c 1512c down 2

Aandele

Pricecheck Flights