|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Niemand is gevrywaar teen 'n lewensgevaarlike situasie nie. Kennis van basiese noodhulptegnieke het al talle lewens gered. Hier is 'n aantal sulke tegnieke wat elke Suid-Afrikaner in gedagte kan hou.
Meer as 11 000 mense sterf elke jaar in motorongelukke, sowat 20 000 is slagoffers van moord, rooftogte en motorkapings, en nóg 1 000 plaasbewoners val plaasaanvallers ten prooi. Dit is dus noodsaaklik dat 'n ieder en 'n elk in staat moet wees om noodhulp toe te pas.
Na 'n aanval of 'n ongeluk kan die slagoffers geskok, beseer en moontlik bewusteloos wees. Basiese noodhulptegnieke kan beseerdes aan die lewe te hou totdat mediese hulp opdaag. (Hierdie is net wenke, nie volledige opleiding in noodhulp nie.)
Maak seker dat die pasiënt se lugweg oop en skoon is. Soms kan kunstande, braaksel of bloeding dit verstop. Laat die pasiënt op sy rug lê en trek sy kop agteroor. Indien daar braaksel in die lugweg is, moet die pasiënt op die sy gedraai word, maar sy kop moet steeds agtertoe getrek word.
As 'n pasiënt nie meer self asemhaal nie, moet hy gehelp word om lug in sy longe te kry. Draai hom op sy rug, trek sy kop agteroor en druk sy neus toe. Blaas 'n vol teug lug by sy mond in. Maak seker sy longe word gevul. Dit kan maklik waargeneem word deur sy borskas dop te hou. Wag totdat die lug by sy mond of neus uitkom. Herhaal dan die proses.
Indien iemand se hart gaan staan het en daar geen polsslag is nie, moet daar dadelik met hartmassering begin word. Draai die persoon op sy rug en trek sy kop agtertoe om die lugweg oop te kry. Mond-tot-mond-asemhaling moet saam met die hartmassering gedoen word om suurstof in sy longe te kry. Hartmassering vervang die hartklop. Die hartmassering help dus om bloedvloei na die brein, longe en hart te bewerkstellig, en mond-tot-mond-asemhaling sorg vir suurstof in die bloed. As hy baie bloed verloor het, moet sy bene opgelig en op 'n voorwerp soos 'n stoel geplaas word.
Blaas vier keer vinnig lug by sy mond in en volg dit op met vyftien afwaartse hartkompressies (streng reëlmatig een keer per sekonde) op sy bors. Die regte metode is om albei hande plat op die onderste deel van die borskas te plaas, die elmboë reguit te maak en hard af te druk.
Blaas dan weer een keer lug in sy longe en masseer die hart vyf keer. Herhaal laasgenoemde twee stappe soveel keer as wat nodig is.
Indien 'n slagaar beseer is, is die bloeding ligpienk of helderrooi en spuit dit ritmies by die wond uit. Bloeding uit 'n gewone aar is donkerkleurig en dit vloei reëlmatig uit. Dié tipe bloeding kan met 'n drukverband gestop word, maar 'n slagaar sal net ophou bloei as 'n toerniket op die wond geplaas word. Dit word gedoen deur 'n verband om die plek waar die slagaar is, te draai, om te voorkom dat nóg bloed na die liggaamsdeel vloei waar die wond is. Die verband word met 'n pen of stok opgewen totdat die bloedtoevoer na die wond afgesny word.
'n Toerniket kan tot drie uur lank om 'n been of 90 minute om 'n arm gehou word sonder dat dit weefselskade veroorsaak. Tog is dit raadsaam om die toerniket elke halfuur vir 'n paar sekondes te laat skiet sodat die bloed suurstof na die betrokke liggaamsdeel kan neem.
Indien dit blyk dat 'n beseerde dalk geopereer moet word, mag hy niks drink of eet nie, want dit kan veroorsaak dat hy tydens narkose braak, wat baie gevaarlik is.
Die beste pynstiller vir 'n fraktuur is immobilisasie. Plaas 'n kussing onder die gebreekte ledemaat, of spalk dit tussen twee stokke of plankies. 'n Mens kan 1,5 l tot 2 l bloed inwendig verloor weens 'n fraktuur.
In die geval van 'n skietwond moet die pasiënt so min moontlik beweeg word, want die koeël kan groot skade aanrig as dit op 'n sensitiewe plek - soos die nek of die rug - in die liggaam is.
In die geval van messteke moet die bloeding so gou moontlik gestop word. As 'n mes of ander skerp voorwerp nog in die beseerde se liggaam vassit, mag dit nie verwyder word nie. As dit vassit, druk dit dalk slagare toe, wat sal begin bloei as die voorwerp verwyder word. 'n Volwassene het ses tot sewe liter bloed in sy liggaam. Hy kan binne 'n paar minute doodbloei as 'n slagaar beseer word, omdat die hart ál vinniger klop namate die pasiënt meer en meer bloei om vir die liggaam se funksies te probeer kompenseer.
Mense wat aan chroniese siektes lei, soos
asma, suikersiekte, hoë bloeddruk en vroeëre beroerte, moet te alle tye 'n Medic
Alert-bandjie of -hangertjie dra, wat sulke inligting verskaf vir ingeval hulle
bewusteloos is.
Benut noodhulpdienste
Daar is 'n nooddiens-organisasie in Suid-Afrika wat 'n lewensnoodsaaklike mediese diens aan die gemeenskap lewer. Dit bestaan uit 'n groep mense wat goed opgelei is om noodbehandeling in enige situasie toe te pas.
In 'n noodgeval kan een nasionale noodnommer - 10177 - geskakel word. Dit is egter raadsaam om altyd 'n plaaslike noodnommer ook byderhand te hou wat in 'n noodgeval regstreeks geskakel kan word.
Ongelukkig kan 'n mediese nooddiens weens logistieke probleme nie altyd gou op die toneel wees nie. Daarom is die Bateleur-noodkommunikasiesentrum op die been gebring. Wanneer iemand 'n noodtoestand beleef, wat dikwels met trauma en paniek gepaardgaan, soos tydens 'n plaasaanval, kan hy dié sentrum bel. Hulle sal dan die situasie bestuur deur die SA Polisiediens, plaaslike kommando, nooddienste, brandweer en steungroepe, soos bure, dadelik en gelyktydig van die noodgeval te verwittig. Lede kan vooraf self besluit wie in die distrik gekontak moet word.
Hulle het ook 24 uur per dag toegang tot 'n mediese sentrum (Nurse on Call), waar ervare mediese personeel kundige advies in tye van nood per telefoon verskaf totdat hulp opdaag. Bateleur reël ook vir die vervoer van pasiënte per ambulans of helikopter, en verskaf bystand aan minderjariges.
Die inligting vir dié reeks is aan Landbouweekblad verskaf deur 'n boer van Lichtenburg, mnr. Koos Geldenhuys, wat 'n studie van plaasaanvalle gemaak en talle kenners geraadpleeg het. Die gedagte is dat lesers uit elke artikel kan leer om hulle méér paraat te maak om plaasaanvalle te voorkom. Dorpenaars en stedelinge kan die veiligheidswenke ook ter harte neem.
Mense met nóg vrae kan aan mnr. Geldenhuys skryf by Posbus 1786, Lichtenburg 2740, of vrae per e-pos aan hom stuur by amanda@mjvn.co.za. Die Bateleur-noodkommunikasiesentrum kan by 083 123 3912 gebel word.
GEVALLESTUDIE
Aanvallers nooit
gevang
'n Bejaarde boer en sy vrou woon in 'n omgewing wat al telkemale onder plaasaanvalle deurgeloop het. Sy broer is 'n paar jaar gelede wreedaardig vermoor en dié se vrou is vir dood agtergelaat. Toe was dit dié boer se beurt.
Hy het ten tye van die voorvalle diefwering voor ál die vensters - behalwe twee groot ruite - gehad. Daar was honde op die werf en snags is die werf verlig. Daar was nie 'n veiligheidsheining om die werf nie en die alarmstelsel was nie in gebruik nie.
Laat een nag in 1998 het sy vrou geluide in die huis gehoor. Hy het met 'n vuurwapen gaan ondersoek instel. In die studeerkamer het hy gesien dat die groot venster verwyder is. Daar het drie inbrekers in die vertrek gestaan.
Ná 'n waarskuwingskoot het die inbrekers gevlug. Die boer het lede van die plaaswag ontbied, wat binne vyftien minute daar was.
Buite die studeerkamer het 'n rugsak gelê. Die inhoud het van fyn beplanning getuig. Daarin was 'n glassnyer met 'n suigapparaat, wat gebruik is om die venster te verwyder; gif om die honde buite aksie te stel; handskoene om vingerafdrukke te vermy; 'n houtpaal wat vermoedelik gebruik sou word om mense mee dood te slaan; 'n dun kabel (van die soort waarmee mense verwurg word); lappe wat met vlieëgif deurdrenk is om in hul monde te druk; en gifstof wat op 'n vensterbank geplaas word om die huismense te bedwelm.
Dit het daardie aand gereën en die aanvallers het juis dié nag gekies sodat hul voetspore uitgewis sou word. Hulle is nooit gevang nie.
Drie jaar later is die boer en sy vrou weer een nag aangeval. Die aanvallers het vyf deure oopgedwing, insluitend die veiligheidsdeur. Toe die boer en sy vrou wakker skrik, was die aanvallers reeds in hul slaapkamer. Albei is met nylontou en elektriese draad vasgebind en twee uur lank aangerand.
In 'n stadium is die vrou in die badkamer toegesluit en die man moes die motor vir hulle gaan oopsluit. Hulle het hom beveel om die kattebak oop te maak sodat hulle hom kon skiet en inlaai. Die boer het hardop begin bid, waarop die een aanvaller gesê het: "Mandela is the only God."
Die boer is toe só hard geslaan dat sy oortrom gebars het. Toe hulle hom wou skiet, het hy aanhou bid, waarop die aanvaller met die vuurwapen begin bewe het.
Die boer sê hy glo God het op daardie oomblik die duiwel oorwin. Sy lewe is gespaar, maar die aanvallers het alles gevat wat hulle wou hê en toe gevlug. Die aanvallers is nooit gevang nie. Die boer en sy vrou moes berading ontvang. Hulle kry steeds dreigemente oor die telefoon.
Noodhulptassie 'n moet
Elke plaashuis behoort 'n goed toegeruste noodhulptassie te hê. Dit moet ook op 'n plek gebêre word waar dit maklik bereikbaar is. 'n Goeie idee is om die bêreplek neer te skryf op die lysie noodtelefoonnommers, wat naby die huistelefoon gehou moet word. Dit sal vreemdelinge help om 'n beseerde persoon vinniger te begin behandel.Hier is 'n lys van basiese artikels in 'n
noodhulptassie:
16 Augustus 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24