|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Soms het die slagoffer van 'n aanval geen ander keuse nie as om hom of haar teen 'n aanvaller te verdedig. Kennis van basiese tegnieke en kwesbare plekke aan 'n mens se liggaam kan dán die verskil tussen lewe en dood beteken.
Hoewel daar honderde kwesbare plekke op die menslike liggaam is waarop 'n slagoffer hom of haar kan toespits, word slegs basiese tegnieke bespreek wat suksesvol deur enige persoon uitgevoer kan word. Dit is belangrik dat boere en hul gesinslede hierdie kwesbare plekke memoriseer sodat hulle presies weet waarop om te fokus as die nood druk.
Die nek is een van die kwesbaarste plekke aan 'n mens se liggaam. 'n Ligte vuishou op die keel of gorrelpyp veroorsaak dat 'n mens moeilik sluk en 'n harde hou kan jou selfs laat versmoor. As die slagoffer sy aanvaller van agter kan bykom, kan hy hom met die arm om sy keel verwurg. Drukking op die gorrelpyp sny die suurstoftoevoer na die longe af.
'n Beter metode is om eerder die suurstof na die brein af te sny. Pleks van druk op die gorrelpyp uit te oefen, moet die drukking eerder na die gedeeltes weerskante van die gorrelpyp verplaas word, waar twee slagare is wat suurstofryke bloed van die hart na die brein vervoer. Met hierdie tipe wurggreep sal 'n persoon sy bewussyn binne 'n paar sekondes verloor.
Agter 'n mens se ore is 'n holte. Druk die wysvinger daarin op en dan vorentoe in die rigting van die aanvaller se mond. Hierdie tegniek is ideaal wanneer die aanvaller bo-op sy slagoffer lê.
Omdat 'n mens se kop rond is, moet 'n slagoffer nooit blindelings na sy aanvaller se kop slaan nie, omdat dit dalk nie doeltreffend sal wees nie en die polsgewrig selfs kan breek. Mik eerder na die slaap, omdat dit 'n plat gedeelte is. 'n Vuishou daar sal direkte skok op die brein veroorsaak en in uiterste gevalle selfs bloeding op die brein meebring.
Op die plek waar die kakebeen en nek bymekaar kom, is aan die onderkant van die kakebeen 'n konsentrasie senuweepunte. Druk op hierdie punt opwaarts met die vingerpunte. Dié tegniek is ideaal as 'n slagoffer sy aanvaller van hom wil wegstoot.
Om 'n aanvaller se wind uit te slaan, moet sy slagoffer mik na 'n punt sowat 4 cm onderkant die plek waar sy ribbes bymekaar kom. 'n Goed geplaaste vuishou sal hom 'n kort rukkie buite aksie hou.
'n Mens se pinkie kan maklik breek en dit is baie seer. 'n Hou op die neus is eweneens pynlik en dit kan veroorsaak dat 'n mens se oë traan. Dit is egter onwaar dat 'n harde opwaartse vuishou op die neus veroorsaak dat die neusbeen die brein binnedring. 'n Hou op die neus veroorsaak egter dat die aanvaller vir 'n paar sekondes gedisoriënteer is.
Hier volg 'n aantal gevallestudies, met die waarskynlikste maniere om daaruit los te kom.
Gevallestudie 1
Die aanvaller gryp die slagoffer se een arm vas (foto 1). Om haar arm uit sy greep te bevry, moet sy haar arm in die rigting van die aanvaller se duim draai (foto 2), omdat dit die swakste deel van sy greep is. Terwyl sy haar arm draai, moet sy hom op en na haar toe ruk. Die slagoffer moenie probeer vlug as sy losgeruk het nie omdat die aanvaller haar weer sal vang. Sy moet eerder probeer om die aanvaller te beseer. Sy moet vorentoe beweeg en kan hom met haar knie tussen die bene stamp (foto 3) en hom dan op sy keel slaan en op sy ore klap.
Gevallestudie 2
Die aanvaller gryp die slagoffer van agter aan haar hare (foto 4). Dit is vir haar onmoontlik om 'n teenaanval te loods omdat sy hom nie kan sien nie en hy te ver van haar af staan. Die slagoffer moet dus eers uit die greep loskom. Sy gryp sy hand met albei haar hande vas en druk dit styf teen haar kop vas (foto 5). Dit is 'n natuurlike reaksie omdat dit baie seer is as 'n mens se hare getrek word. Die aanvaller sal niks vermoed nie. Die slagoffer moet nou bepaal watter arm die aanvaller gebruik om haar hare vas te hou. Indien dit sy linkerhand is, moet sy antikloksgewys draai; met ander woorde na sy buitekant toe (foto 6). As hy sy regterhand gebruik, draai sy kloksgewys om. Die slagoffer moet in die proses effens afsak en so vinnig moontlik met haar hele liggaam onder sy arm indraai, terwyl sy sy hand so styf moontlik teen haar kop vashou (foto 7). Sy moet aanhou draai totdat hulle rug teen rug staan (foto 8). Dit behoort sy greep op haar hare te breek, maar sy moet steeds sy arm vashou sodat hy nie kan omdraai nie. Dan moet sy onmiddellik 'n teenaanval begin deur die aanvaller herhaaldelik met haar elmboog so hard moontlik in sy sy te slaan (foto 9). Daarna moet sy vinnig omdraai en hom van agter met albei hande op sy ore klap.
Gevallestudie 3
Die aanvaller is besig om sy slagoffer met albei hande om haar keel te verwurg (foto 10). Sy moet hom dadelik met haar sterkste arm bo-oor sy arms slaan, terwyl sy haar hele lyf draai in die rigting wat sy slaan (foto 11). Terselfdertyd moet sy effe afsak. Wanneer sy greep verbreek is, behoort sy met haar sy na die aanvaller toe te staan. Sy moet dan uitbeweeg sonder om te draai en hom met haar elmboog in sy maag (foto 12) en tussen sy bene slaan. Dan kan sy vlug.
Gevallestudie 4
Die aanvaller wurg sy slagoffer met albei hande om haar keel (foto 13). Sy moet vinnig haar een arm bo-oor sy een arm plaas en haar ander arm onder sy ander arm, en haar eie arms dan vasgryp (foto 14). Dan ruk sy met alle mag haar een arm op en druk met die ander arm af, terwyl sy haar liggaam draai in die rigting van haar arm wat afdruk (foto 15). Dit is belangrik om haar hele gewig agter dié beweging te sit. Indien bejaardes of vroue bang is dat hulle nie genoeg krag het om dié tegniek suksesvol toe te pas nie, kan hulle eers probeer om die aanvaller se aandag af te trek deur hom tussen die bene of op sy knie te probeer skop en dan die beweging te doen. Die oomblik wat die aanvaller se greep gebreek word, sal die slagoffer met haar sy na hom toe staan. Sy moet dan inbeweeg en hom met haar elmboog in sy maag (foto 16) en dadelik daarna tussen sy bene slaan.
Gevallestudie 5
Die aanvaller sit op sy slagoffer en verwurg haar
met albei arms (foto 17). As sy gesig binne haar bereik is, moet sy haar vingers
in sy oë druk (foto 18). Indien sy gesig buite haar bereik is, moet sy die greep
breek deur albei sy arms vas te gryp en dan met haar een arm te trek en met die
ander arm te druk (foto 19). Sy moet met die hand wat trek, die aanvaller se
hand naby haar keel vasgryp en met die ander hand sy arm by sy elmboog vasvat.
Die oomblik wat sy begin trek en druk, moet sy met haar liggaam rol in die
rigting van haar arm wat trek. Om makliker te kan rol, moet sy haar bene optrek
en dan haar een been gebruik om te rol. Die oomblik wat die aanvaller afval,
behoort sy liggaam in só 'n posisie te wees dat sy hom tussen die bene kan skop
terwyl sy lê (foto 20).
* Foto's: Sien Landbouweekblad van 6 Desember 2002, bl. 42-44
Selfverdediging kan help tydens aanval
Hoewel selfverdediging 'n kuns is wat oor 'n lang tydperk bemeester word, kan 'n grondige kennis van basiese tegnieke 'n slagoffer goed te pas kom wanneer hy of sy aangeval word.
In hierdie tweede aflewering oor sulke tegnieke skets mnr. Koos Geldenhuys bepaalde gevallestudies en vertel dan hoe 'n mens uit sulke situasies kan ontkom. Mnr. Geldenhuys is 'n boer van Lichtenburg wat Landbouweekblad help om dié reeks oor plaasveiligheid te skryf. Hy is ook 'n kenner van selfverdediging. Hy is 'n gewese Springbok-joejitsoe-kaptein en 'n voormalige wêreldkampioen in dié Japannese selfverdedigingskuns. Dié artikel handel hoofsaaklik oor kwesbare plekke op 'n mens se liggaam - daar waar dit baie seermaak - waarop die slagoffer hom of haar kan toespits om aan die aanvaller se greep te ontkom en te ontsnap.
Mnr. Geldenhuys skets verskillende situasies waarin mense tydens 'n aanval kan beland. Hy illustreer dan hoe hulle hulself kan verdedig sodat die aanvaller buite aksie gestel kan word. Sy vrou, Amanda, het saam met hom vir die foto's geposeer.
Lesers kan hom kontak by Posbus 1786,
Lichtenburg 2740, sel 082 852 1793, of 'n e-pos stuur na
amanda@mjvn.co.za
.
6 Desember
2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24