Tuis
Gevorderde soek
  • Tuis
  • Nuus
  • Bedrywe
    • Diere
    • Akkerbou
    • Tuinbou
    • Meganisasie
    • Bedryfsake
    • Tegnologie
    • Wiele
  • Die weer
    • Vandag se weer
    • Weervoorspelling
    • Weerberigte
    • Gesels saam oor die weer
  • Markte
    • Safex-pryse
    • Aandeelpryse
    • Agri-weekliks
    • Veilingspryse
    • Finansies
    • Varsprodukte
  • Vra die kundiges
    • Vra vir Faffa
    • Dierevoeding
    • Finansies
    • Chemikalieë
    • Regskenner
  • Stoeterye
    • Beeste
    • Skape
  • Jou mening
    • Forums
    • Gespreksforum
    • Boereblogs
    • Peiling
  • Multimedia
    • Foto-albums
    • Video's
    • E-pos foto’s aan ons
  • Potpourri
    • Kos en resepte
    • Boer soek 'n vrou
    • Pretkalender
    • Kalender
    • Jag en gewere
    • Jongste Landbouweekblad
    • Bloktoetse
    • Kompetisies
    • Boeke
  • Geklassifiseerde advertensies
Jy is hier: Bedrywe / Bedryfsake / Plaasveiligheid / Die-profiel-van-n-plaasaanvaller

Nuus

Gemengde verwagtinge oor mielie-oes

Terwyl Graan SA reken dat die mielie-oes dalk groter kan wees as wat verwag is, sê sommige boere hul oeste lyk slegter as wat hulle verwag het.

  • Hoenders in haglike toestande ontstel
  • Sterk groei in suiweluitvoer
  • Te min mentors kniehalter kleinboere
  • Boer dodelik siek aan hondsdolheid
  • Nampo-gangers twiet vir die vale
  • Boerepatente bobaas by Nampo
  • Tina wil landboutrusts nie los
meer...

Lekkerlees

  • Nampo 2012 - die landbou in al sy glorie
  • Bewerkingstoer na Argentinië
  • Titelaktes van familieplaas
  • Eis teen Transnet nadat plaas afgebrand het?
  • Wie smous met BK’s?
  • Verlore transport-akte

My Weer

  • Voorspelling
  • Vandag
  • My ligging

Kaapstad

  • Dinsdag
  • Meestal bewolk
  • Hoog:22 C
  • Laag:10 C
  • Woensdag
  • Gedeeltelik bewolk
  • Hoog:18 C
  • Laag:10 C
  • Donderdag
  • Gedeeltelik bewolk
  • Hoog:19 C
  • Laag:10 C
Sonsopkoms: 7:36
Sonsondergang: 17:48

Kaapstad

Bygewerk:22 May 05:00 IDT
Temp:
Druk:
Doupunt:
Humiditeit:87%
Wind:

Kaapstad

Peiling

Is mentorskap die regte oplossing vir die suksesvolle bemagtiging van nuwe boere?:

Die profiel van 'n plaasaanvaller

 
Charl van Rooyen

Plaasaanvallers is meestal tussen 15 en 35 jaar oud, alleenlopend en werkloos. Hulle beweeg meestal in groepe van drie tot sewe mans rond.

Sulke mense het 'n persepsie dat álle boere vuurwapens het en dat die wapens maklik bekombaar is omdat boere op afgeleë plekke woon. Die motief vir die meeste aanvalle is roof of wraak. Gewoonlik soek hulle vuurwapens, geld en 'n voertuig.

Plaasaanvalle word meestal met militêre presisie uitgevoer. Die aanvalle is so grusaam en brutaal moontlik. Geen boer is te oud of te jonk, te ryk of te arm om deur te loop nie. Volgens 'n studie onder aanvallers wat vonnisse uitdien, skrik die tronkstraf hulle nie af nie, maar hulle voel tog dat die vonnisse te straf is.

'n Plaasaanval het 'n baie traumatiese uitwerking op 'n gemeenskap. Boere verskerp hul waaksaamheid nadat 'n aanval in hul omgewing plaasgevind het, maar ná 'n paar weke verslap hul waaksaamheid weer.

Plaasaanvalle word haarfyn beplan. Die plaas word drie tot sewe dae lank dopgehou. Die aanvallers wil nie as 'n groep saam gesien word nie - daarom doen net een of twee lede verkenningswerk. Om met mekaar te kommunikeer, los hulle merke of tekens op bepaalde plekke.

Boere moet dus op die uitkyk wees vir 'n plastieksak of klipstapel naby die plaashek. 'n Boomtak wat regoor die hek afgebreek is, pyle wat op die grond geteken is en na die plaas wys en merke wat op boomstamme uitgekrap is, is ook tekens. Let dus op na enigiets wat verdag lyk, want die aanvallers is baie vindingryk.

'n Metode waarmee aanvallers inligting bekom, is om voor te gee hulle soek werk. Al het 'n boer 'n werker dringend nodig, moet hy eers die aansoeker se agtergrond deeglik ondersoek. Vra sy naam en identiteitsboekie. As hy nie 'n identiteitsdokument het nie, moet die boer hom onder geen omstandighede werk gee nie. Vind uit waar hy voorheen gewerk het en doen navraag by daardie werkgewer. As dit klink of hy vae inligting verskaf, of dit klop nie met die inligting wat die boer self inwin nie, moet hy die polisie ontbied en sy waaksaamheid verskerp.

Voornemende aanvallers kom soms op 'n plaas aan onder die voorwendsel dat hulle landbouprodukte of werktuie wil koop. Só bekom hulle waardevolle inligting oor die standaard van veiligheid op die plaas.

Om dít te voorkom, moet die boer die hekke om die plaaswerf gesluit hou (wat nie altyd prakties is nie) of 'n kennisgewing by die ingang aanbring wat besoekers inlig dat die werf verbode terrein is. Die boer moet oplettend wees as vreemdes opdaag. As sulke mense hom nader, moet hy altyd sy waaksaamheid verskerp.

Mense wat 'n aanval beplan, is senuweeagtig en lyk skuldig. Moontlike tekens van senuweeagtigheid is vinnige spraak, uitermatige sweet, aggressiewe handbewegings, oë wat vinnig rondkyk en vlak asemhaling.

Wees baie versigtig vir iemand met 'n baadjie of jas aan, want wapens kan maklik daarin versteek word.

Nóg 'n metode wat misdadigers gebruik om inligting te bekom, is om huidige of gewese plaaswerkers te betrek, te intimideer of om te koop. Soms dreig hulle die werker of sy gesinslede met die dood. Andersins gee hulle vir hom geld, drank of sigarette. Inligting word ook op 'n subtiele wyse uit werkers verkry deur hulle dronk te maak.

'n Boer moet 'n goeie verhouding met sy werkers handhaaf en hulle oorreed om hom te waarsku as 'n vreemdeling inligting oor hom probeer bekom. Bied hulle 'n beloning aan as hulle dit doen. Aanvallers se teiken is dikwels 'n huisbediende, want sy is die enigste een wat weet waar die kluis- en motorsleutels is en wat die boer en sy gesin se bewegings ken. Boere moet dus nooit hul daaglikse beplanning voor bediendes bespreek nie.

As die misdadigers agterkom 'n boer is voorbereid op 'n aanval, sal hulle hom buite sy plaaswerf voorlê deur hom by 'n plaashek in 'n hinderlaag te lok, deur voor te gee hul voertuig het onklaar geraak, deur 'n brand te stig of deur die kragtoevoer na die huis af te sny.

Die boer en sy gesin behoort op 'n bepaalde manier op te tree as hulle aangehou word. Die aanvallers is gewoonlik senuweeagtig en skree en vloek op hul gyselaars. Doen wat hulle sê - moenie onnodig heldhaftig wees nie. Praat op 'n rustige manier en soveel moontlik met hulle. Onderhandel met hulle - bied hulle geld of iets anders aan. Pleit om jou lewe. Moenie aggressief raak, hulle vloek of in 'n woordewisseling betrokke raak nie, want dit vererger die situasie. Slagoffers vertel dit help om hardop te bid.

As die gyselaar agterkom die motief vir die aanval is roof, het hy 'n goeie kans om die aanval te oorleef. Indien dit egter duidelik 'n wraakaanval is, moet die slagoffer die regte oomblik kies om óf te probeer vlug óf terug te baklei.

Onthou, al doen die slagoffer wat hulle vra, moet hy of sy nogtans probeer ontsnap, want samewerking is nie noodwendig 'n waarborg vir veiligheid nie. 'n Aanvaller kan nooit vertrou word nie.

Aanvallers kry inligting op slinkse maniere

'n Plaasaanval word gewoonlik deeglik vooruit beplan. Maar hoe weet 'n boer as misdadigers 'n aanval op sy plaas beplan? Terwyl hulle besig is om inligting in te samel, laat hulle tekens waarna 'n boer kan oplet en wat hom kan laat lont ruik. As hy weet waarna om op te let, kan hy dalk betyds agterkom iets is nie pluis nie.

In hierdie artikel - die vierde in ons omvattende reeks oor plaasveiligheid - gee kenners wenke oor waarna om op te let en vertel hoe dié bose planne gefnuik kan word.

Die inligting vir dié artikel is aan Landbouweekblad verskaf deur 'n boer van Lichtenburg, mnr. Koos Geldenhuys, wat 'n studie van plaasaanvalle gemaak het. Hy het talle kenners op verskeie terreine geraadpleeg.

Die omstandighede waaronder aanvalle plaasgevind het, word deur verskeie kenners ontleed. Hulle kyk na foute wat in elke geval gemaak is, hoe dit voorkom kon word en gee wenke oor algemene veiligheid. Lesers kan hierdie wenke en lesse oor plaasveiligheid gebruik om méér paraat te word en só plaasaanvalle te voorkom. Dorpenaars en stedelinge kan die veiligheidswenke ook ter harte neem.

Lesers kan aan mnr. Geldenhuys skryf by Posbus 1786, Lichtenburg 2740, of hom by sel 082 852 1793 bel; 'n faks na 018 632 5914 stuur; of 'n e-pos na amanda@njvn.co.za stuur.

GEVALLESTUDIE

Beveiliging van huis baie swak

Die bejaarde egpaar in hierdie gevallestudie het net 'n paar honderd meter van hul seun op die plaas gewoon. Hulle het baie veilig gevoel, maar die middele waarmee hul huis beveilig is, was baie ontoereikend.

Behalwe vir 'n klein hondjie en 'n Marnet-radiostelsel in die huis, was daar geen ander beveiligingsmaatreëls nie. 'n Dowwe liggie bokant die voordeur was die enigste lig. Daar was geen diefwering voor die vensters of veiligheidshekke in die huis nie; ook geen waghonde buite op die werf of 'n veiligheidsheining om die werf nie - toegang tot die huis was dus kinderspeletjies.

Die egpaar se pistool is in 'n klerekas weggesteek. Met die Marnetstelsel in die huis het die egpaar gedink hulle kan dadelik hulp ontbied as hulle aangeval word. En wie sou dit waag om die huis binne te gaan, aangesien hulle 'n pistool en 'n paar jaggewere in die huis het? Baie mense wat só dink, is egter 'n maklike prooi.

Die egpaar van in die sewentig het dié aand teen agtuur in hul slaapkamer televisie gekyk. Toe die hondjie begin blaf, was die aanvallers reeds in die huis. Die hondjie was baie oud en kon nie meer goed hoor nie. Daar was vier aanvallers - 'n vyfde een het die seun se huis dopgehou. Drie aanvallers het handwapens gehad en die ander twee messe. Almal het musse gedra.

Daar was nie kans om alarm te maak nie, want die Marnet was in die eetkamer. Die bejaardes is met dasse vasgebind. Die aanvallers het toe vuurwapens en geld geëis, maar die oumense het nie geld gehad nie. Die aanvallers wou dit nie glo nie. Elke keer as die vrou gesê het daar is nie geld in huis nie, het hulle haar man geslaan. Hy het later geval. Een aanvaller het aan die kas vasgehou en op sy bors begin spring. Die geweldenaars het heeltyd gedreig om hulle "vrek" te maak.

Die egpaar se grootste vrees was vir hul kinders en kleinkinders, want die aanvallers het gesê hulle sal enigiemand doodskiet wat daar aankom. Hulle het gesoebat en mooi gepraat dat die mans moes ophou, maar die aanranding het eers geëindig toe die man sy bewussyn verloor het. Hulle het hom só styf in 'n dik kombers toegedraai dat hy gesukkel het om asem te kry.

Hy het in 'n stadium bygekom en sy vrou gevra of sy nog reg is. Die aanvallers het hom toe weer geskop en geslaan en hom stywer vasgebind, vermoedelik sodat hy moes versmoor. Die vrou is daarna losgemaak sodat hulle haar kon verkrag, maar sy het hardop begin bid en een van die aanvallers het die ander toe gekeer.

Sy is weer vasgebind en toe het hulle tydsaam die huis deurgesoek vir geld en vuurwapens. Hulle het die handwapen gevat en die jaggewere gelos. Die televisiestel, radio, klere en 'n klomp huisraad is op die egpaar se bakkie gelaai en hulle het weggery.

Die kleinseun in die huis langsaan het sy oupa se bakkie hoor wegjaag, maar hy het nie sy pa daarvan gesê nie.

Die vrou het die heeltyd wat sy vasgebind was, gedink haar man is dood. Laat die nag het sy haarself losgewikkel en haar man gaan losmaak. Hy het geleef, maar het kwalik asemgehaal. Sy arms was só styf aan mekaar vasgemaak, dat sy die das om sy arms met 'n skêr moes afknip. Toe het sy hulp ontbied.

Die aanvallers is 'n week later aangekeer. Een van hulle het vroeër by die egpaar gewerk.

Die egpaar het ná die aanval 'n klomp honde aangeskaf en diefwering voor al die vensters aangebring. Hulle leef steeds in vrees, want die geweldenaars het gedreig om eendag terug te keer as hulle die aanval sou aanmeld. Hoewel hulle traumabehandeling by hul kerk gekry het, kon hulle nog nie die gebeure verwerk nie.

5
 
 
  • 1960 keer gelees

Geborgde skakels


Plaassilo's - 'n Blink Gedagte

Kwaliteit Saad

Die toekoms is in jou land

In lyn met die boer

MSD Animal Health

Our brand new website

Daaglikse nuusbrief

Weeklikse nuusbrief

Teken In

  • Registreer as gebruiker
  • Wagwoord vergeet?

E-pos forum

  • Soek Atchar in Malelane/Komatipoort area.
  • Hoe meet jy as melkboer jou melk, per kg of liter
  • Boom Lusern en siektes
  • Nekklamp vir beeste
  • verpakking soos bokse en sakke
meer...

Gewildste stories

Vandag

  • Boerepatente by Nampo
  • Nampo 2012 - die landbou in al sy glorie

Immergroen stories

  • RSS-voere
  • E-pos foto's aan ons

Pas gelees

  • Mielie-oes 400 000 ton minder geskat
  • Ford Ranger is 'n bielie
  • Wie is ons?
  • Kontak ons
  • Gebruiksvoorwaardes
  • SMS-diens
  • RSS-voere
  • Teken in op LBW
  • LBW-argiewe
  • Vennote

Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24

Web Development by FormFunction