Die staat het uitstel gevra in die hofsaak wat Vrystaat Landbou (VL) en vier grensboere begin het in ‘n poging om die owerhede te dwing om veiligheid aan die Lesotho-grens te herstel.
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van VL se veiligheidkomitee, het op die organisasie se jaarlikse jongboeredag in Bloemfontein gesê die Regering se regsverteenwoordigers het ses weke uitstel gevra om die nodige dokumente in antwoord op hul aansoek by die hof in te dien.
Die versoek om uitstel kan ‘n teken wees dat die staat besef hy is in ‘n hoek. Gewoonlik, in ander sake waarin hy voor die hof gesleep word, is die staat dadelik bereid om homself tot in die hoogste hof te verdedig, het Breytenbach gesê.
Landbouweekblad verneem die uitstel-versoek word in georganiseerde landboukringe as tekenend beskou van ‘n hersiene benadering van tegemoetkomendheid eerder as konflik in die nuwe bedeling onder pres. Jacob Zuma.
Zuma, sewe ministers, die nasionale en Vrystaatse kommissarisse van die Polisiediens, die Vrystaatse premier, en vier Vrystaatse LUR’e is verweerders in die lywige aansoek wat in die Vrystaatse Hooggeregshof gebring is.
VL en die grensboere vra in die aansoek onder meer dat die owerhede opdrag gegee word om die grensheining met Lesotho te herstel, dat die grens-pad geskraap moet word, en dat die heining gereeld gepatrolleer moet word.
Dit kom na vier jaar van mislukte pogings om die regering te oorreed om sy burgers teen oorgrens-misdadigers te beskerm.
31 Julie 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)