Die hoë vlakke van geweldsmisdaad wat die omgewing by Cullinan en Kameeldrift buite Pretoria sedert verlede jaar teister, het nog nie afgeneem nie. In ‘n voorval is mnr. Reinier Lamprecht, eienaar van ‘n kleinhoewe in die Kameeldrift-omgewing, dae voor Kersfees doodgeskiet. Luidens ‘n berig in Beeld was dit die tweede keer in drie jaar wat Lamprecht tydens so ‘n voorval geskiet is.
Mnr. Louis Meintjes, ondervoorsitter van die TLU SA, en sy vrou was ook die slagoffers van ‘n plaasaanval gedurende dié tydperk. Drie mans het in hulle huis ingebreek en het op Meintjes geskiet. Nadat hy teruggeskiet het, het die mans op die vlug geslaan. Daar word vermoed dat een van die mans gewond is.
Nóg inbrake
Meintjes sê na dié aanval het vyf inbrake oor 10 dae in die omgewing voorgekom. Hy sê by een van die betrokke wonings het die inbrekers ‘n venster uit ‘n muur uitgeruk om die huis binne te dring.
“Hulle het eers die venster gebreek, en die diefwering probeer oopbreek. Toe hulle nie die diefwering oopgebreek kry nie, het hulle die venster uit die muur gebreek”. Meintjes sê hy kan nie verstaan hoekom daar so gewelddadig by die huis ingebreek is nie, aangesien niks gesteel is nie.
Hy sê die gemeenskap is baie bekommerd oor die hoë vlak van misdaad wat die afgelope twee maande in die omgewing voorkom. “Daar is die afgelope twee, drie maande omtrent elke aand iewers ingebreek en gesteel in die omgewing. Ons vermoed dis groepe wat van huis na huis beweeg en steel.”
Nuwejaarvieringe afgestel
Die gemeenskap se Nuwejaarsbyeenkoms is ook afgestel weens veiligheidsredes. Meintjes sê die gemeenskap het gemeen dit sou veiliger wees om hulle byeenkoms af te stel, hoewel geen misdade oor die naweek voorgekom het nie.
Nóg voorvalle word verwag en die gemeenskap by Cullinan en Kameeldrift is gewaarsku om op die uitkyk te wees vir vreemde voertuie of persone in die gebied. “Ons het juis ‘n boodskap ontvang dat ons op die uitkyk moet wees, want vier vreemde mans ry tussen die plase rond”.
5 Januarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)